Johan Rademan was in 2006 bevoorreg om 'n spesiale aand tydens die Kanasiefees in Canmore, Kanada, in die geselskap van Thandi Klaasen en haar dogter Lorrainne deur te bring. Sy het juis die “The Woman of Distinction Award” sewe jaar tevore in Kananda ontvang vir 50 jaar se werk in die bedryf. Haar dogter Lorrainne het uit Montreal, waar sy meer as 35 jaar lank al bly, kom kuier. Lorrainne is self 'n gerekende sanger in Kanada en het in 2014 as liedjieskrywer-sanger die 2014 Montreal SOCAN-toekenning in die kategorie wêreldmusiek verower. Karen Zoid, Randall Wicomb en Thys die Bosveldklong was ook by die huispartytjie waar hulle van Kanadese yswyn tot Suid-Afrikaanse Pinotage geniet het. Hoe later hoe kwater. Langarm en sokkie met Lorraine en Thandi… en toe die mikrofoon en 'n meesleurende verhaal van geloof en ongeloof wat vertel word deur Thandi en Lorrainne ten aanhore van Suid-Afrikaners wat in die simbole van biltong en braaivleis saamgeluister het. Verbeel jou jy's daar tussen die sederhoutbome in 'n gesofistikeerde houthuis in Canmore aan die voet van die Rockies net buite die vakansiedorp, Banff, met die Bowrivier wat diepblou deur die voormalige steenkoolmyndorpie vloei. Die De Wets, sielkundige en mediese-dokter-egpaar, het sag gestoomde salm op die spyskaart, en die lieflike soet tongval van Suid-Afrika is by hulle en nou ook by jou...