
Sign up to save your podcasts
Or


Tyd, ervaring en ander paartjies se stories het my geleer hoe baie wanopvattings daar oor buite-egtelike verhoudings bestaan. Soos dat dit die een party se tekortkominge is wat iemand dryf tot ’n affair of dat dit nie met gelowiges gebeur nie. Hier is die waarheid ...
Die gesegde van klein jakkalsies wat ’n wingerd kan verniel, is waar. Met genoeg jakkalse rig jy mettertyd versperrings op – die spreekwoordelike muur tussen jou en jou man. So groot as wat hierdie realiteit in elke huwelik is, net so groot is die moontlikheid om dit te verander.
As jy ’n vals persepsie van geld het of jou waarde aan jou inkomste meet, sal jy respek eis sonder dat jou optrede dit verdien. Mense wat dink geld laat die wêreld draai, maak hulleself ook algaande emosioneel los van hulle huweliksmaats. Maak seker julle dien God en nie mammon nie.
As getroudes nie tyd maak om ’n argument of verskil regtig deur te praat en na mekaar te luister nie, kom daar later baie frustrasie en selfs wrewel saam met dié spesifieke konflik. Die dag as ons egter besluit om ’n saak deur te praat, kom daar net bonusse!
Daar is baie dinge wat ons verkeerd doen in konfliksituasies. Maar ons kan nie konflik eenvoudig vermy nie. As julle dit nie uitpraat nie, waar gaan al die emosies dan heen? Dit hou aan broei en vergroot julle probleme. Baklei is deel van die lewe en kan selfs gesond wees vir huwelike, mits dit reg hanteer word.
Spyt kom maklik in ’n verhouding voor. Spyt is, ek is jammer dat ek dit gesê het, want nou is daar weer ’n issue. Of, ek is jammer ek het dit gedoen, want hier gaan ons nou weer ... Jammer-sê mét berou is iets heeltemal anders, en verskil hemelsbreed van spyt.
Die huwelik is ’n reis waarop ons mekaar seermaak. Omdat intimiteit, emosionele konneksie en vertroue so belangrik is, kan ons nie mure om ons bou waarmee ons mekaar uitsluit nie. Dit is wat onvergewensgesindheid doen. Verstaan wat vergifnis is en leer die kuns om te vergewe.
Ons ken huwelikskontrakte, maar verstaan te min van die belofte tussen ’n man en vrou. Dit is dikwels die verlore skakel in huwelike vandag. Ware verbond is binne jou bereik. Eer jou kontrak as die een wat God onderteken het!
In die moeilikste omstandighede kan jy steeds positief van jouself praat en positief optree. Niks kan jou skei van God se teenwoordigheid in jou omstandighede nie. Om jou geloofsverhouding gesond te hou moet jy daadwerklik en gereeld stilword, lees en leer, bid en luister.
Gee jou seer vir God en omskep jou storie in een van hoop. Maak seker jy lag en glimlag meer, selfs al Is dit geforseerd. Wat jy dink, wys aan jou buitekant. Sien die goeie in jouself raak. Moenie net genade vir ander mense hê nie. Wees jouself ook genadig.
From the publisher's feed