
Sign up to save your podcasts
Or


Alles begin met jou ingesteldheid. Jy kan vir jouself sê dat jy eenvoudig nie goed genoeg is nie. Of jy kan vir jouself sê jy dat jy beter kan word in enigiets waaraan jy jou energie toewy.
Deel van die goed voel oor jouself is die wete dat jy nie per ongeluk hier op aarde is nie. Daar is ’n rede waarom jy hier is. Ontdek dit deur te bid en op te hou om jouself met ander te vergelyk. Wanneer jy jou talente uitleef en verskil maak, sal jou selfvertroue groei.
Om te word wie jy weet jy is in Hom, vra werk van ons kant af. Dit vra dat jy sal besluit om die Woord te glo en te doen. Ja, ons noem dit selfvertroue, maar jou vertroue in God moet groei. Nooi die Heilige Gees in om jou te verander en te vernuwe.
Die meeste van ons is geneig om net ons foute of sonde te onthou. Maar God is groter as ons verlede en dink nie meer aan ons mislukkings nie. Daarom kan ons voluit leef, die drome wat ons ontvang het werklikheid maak, en terugslae gebruik om te groei.
Volgens God se Woord is jou denke belangrik. Jy kan kies of jy op Sy beloftes fokus of op bekommernisse. Bid vir wysheid om dit te kan regkry. Lees en luister minder na die nuus en bestudeer die Goeie Nuus. Jou brein kan altyd verander!
Dit is menslik dat ons geloof wipplank ry. Soms voel God ver. Maar ons kan nie op ons emosies staatmaak nie. Ons moet werk maak van die wete dat ons nooit alleen is nie en daarom ons skouers kan terugtrek met selfvertroue.
Wie jy is en hoe jy oor jouself praat moet reflekteer wat God van jou as sê en hoe Hy na jou kyk. Maak seker jou innerlike dialoog en jou siening van jouself getuig dat jy ’n Koningskind is. Begin ontdek dat selfvertroue eintlik Godsvertroue is.
Dit verg deursettingsvermoë en volharding om negatiewe denke te stop sodat jy waarlik kan word wie jy bedoel is om te wees. Om jou denkwyse te verander en ook jou optrede te vernuwe moet jy aanhou leer en lees. Hou aan bid vir wysheid en reik uit na ander mense.
Gee jou seer vir God en omskep jou storie in een van hoop. Maak seker jy lag en glimlag meer, selfs al Is dit geforseerd. Wat jy dink, wys aan jou buitekant. Sien die goeie in jouself raak. Moenie net genade vir ander mense hê nie. Wees jouself ook genadig.
Ons het ook ’n aandeel daarin om ons vertroue in onsself, ons vertroue in God, te ontwikkel. Wanneer jy jouself gedurig teleurstel, gaan jou selfvertroue verkrummel. Daar Is doendinge wat jy met dissipline en volharding kan implementeer vir goeie selfversorging.
From the publisher's feed