Dit is reeds meer as vier dekades sedert Hennie Aucamp se absurde eenakter op 'n verhoog in Stellenbosch gedebuteer het. Die veelbekroonde radiodrama-regisseur Margot Luyt het die stuk vir die radio verwerk en 'n groep van Suid-Afrika se teater-veterane byeengebring vir 'n roerende opvoering oor die mens se stryd teen tyd. Met Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Lida Botha, Trix Pienaar, Kitty Albertyn, June Seymour, Neels Coetzee, Marga van Rooy, Juanita Swanepoel & Deidre Wolhuter. Klavier: Albie van Schalkwyk. Wyle Kitty Albertyn sal onthou word vir haar rol as Hybie in die radioverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Sy was 92 jaar oud tydens die opname van hierdie radiodrama. Luyt het die geskiedkundige opname van Wolf-wolf hoe laat is dit? as “Die dag van die legendes” beskryf.