Dit is nogal iets om by die Kuzuko-wildreservaat in die Karoohartland te kom en geen ander gaste te vind nie, want dit is hier waar Sylvester, die wêreldbekende wegloopleeu uit die Karoo Nasionale Park, suksesvol gevestig is. Die lodge is gesluit vir onderhoudwerk, het Catharina de Lange, algemene bestuurder, aan Mariska Spoormaker verduidelik. Maar ja, met die Covid-pandemie het die oorsese besoekersgetalle só gekrimp dat hulle 40 werknemers moes aflê. Om hulle gewese werknemers te help oorleef, lewer Kuzuko elke maand kospakkies by hulle huise af. Catharina verduidelik hoekom dit gedoen word.