Eensgesind Klanklêers

Eensgesind Klanklêers

By Eensgesind KlanklêersSociety & CultureHistory
Download on the App Store

Eensgesind Klanklêers episodes

  • Geheime organisasies of organisasies met geheime?
    'n Padlangs Noordwes Episode


    Wat het gebeur?


    Geheime organisasies bestaan al etlike jare in Suid-Afrika. Hierdie organisasies ontmoet gedurende spesifieke geleenthede wat gewoonlik in die geheim gehou word deur lede wat nie hul verbintenis met so 'n organisasie vrylik bekend wil maak nie. Daar is wel verskillende kategorieë waarin sulke eksklusiewe organiasies ingedeel kan word. Hierdie organisasies kan geheimsinnig wees, met spesifieke rituele, simbole en binnekringkennis, maar die organisasie self of ander belangstellende individue (lede of nie-lede) sal inligting aan die publiek beskikbaar maak indien nodig.


    Die ander moontlikheid is 'n organisasie wat streef om onbekend te bly en wat geen inligting oor sy bedrywighede of ledetal aan enige persoon bekend sal maak nie. Dit is in die ware sin van die woord 'n geheime organisasie.


    Spesifieke lede van die algemene publiek glo gewoonlik dat organisasies van beide kategorieë ʼn soort mag of selfs invloed in die verskillende regerings van die wêreld het. In sommige gevalle mag dit wel so wees. Wat tog interessant is, is dat daar monumente is wat betrekking het op die verskillende geheime organisasies wat in Suid-Afrika ʼn rol gespeel het, of steeds vandag 'n rol speel. Kan jy dalk een in jou tuisdorp vind?


    Een van die organisasies met geheime wat al driehonderd jaar bestaan (circa. 1717-2017), en eeue lank in Suid-Afrika bedrywig is, staan bekend as die Vrymesselary. In sy spekulatiewe formaat het hierdie broederskap (omdat net mans mag aansluit) stelselmatig oor die land versprei met die stigting van losies (die ontmoetingsplekke van Vrymesselaars). Deur die tentoonstel van verskillende simbole op die fasade van hul losies, kan enige lid en die ingeligte lede van die publiek presies bepaal waar die plaaslike losie sy maandelikse ontmoetings hou. Die hoofstad van Noordwes, Mahikeng, het ook so 'n losie wat reeds in 1895 gestig is. Dit is nou die oudste staande gebou in die stad. Dit was ook eens gebruik as 'n krygsgevangenekamp waar Boerekrygsgevangenes aangehou is wat gedurende die Beleg van Mafikeng (1899-1900) deur die Britse magte gevang is. Een van die Boerekrygsgevangenes was 'n ene luitenant Sarel Eloff, kleinseun van president Paul Kruger.

    Padlangs gevind

    In Tillardstraat, in die historiese gedeelte van Mahikeng, staan die dorp se eie Vrymesselaarslosie skuins oorkant die ou stadsaal wat nou die plaaslike museum is. Wit geverf met pikswart staalheinings by die straatkant, kan die geboutjie maklik uitgeken word, al is daar maar net ʼn onduidelike padteken langs die straat. Dit lyk eintlik soos ʼn gewone dorpshuis op ʼn erf - so lank dat dit die hele erf beslaan. Dit word nou deur woonstelblokke omring en ook die plaaslike kantoor en die Mormoonse kerk.


    Behalwe vir 'n klein geroeste bordjie teen die gebou, sal geen besoeker of verbyganger ooit vermoed dat die losie eens deel van die Britse krygsgevangenekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog was nie. Dat een van die kleinseuns van president Paul Kruger in die einste gebou moes bly totdat hy na Kaapstad weggestuur kon word om na St. Helena vervoer te word, is 'n onbekende feit vir elke siel wat daagliks verby die witgeverfde geboutjie ry of loop. Net die geheime simbool (of is daar dalk verskillende simbole wat net lede kan uitken?) word openlik vertoon.


    Die geheimsinnigheid van die Vrymesselaarslosie in Mahikeng strek dus nie net tot die geheime van 'n "organisasie met geheime" nie. Daar is heelwat meer om uit te vind as net die gewone samesweringsteorieë oor wat agter geslote deure mag, of dalk nie, gebeur.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    29 min
  • Drie kanonne op ʼn presidensiële graf?

    'n Padlangs Noordwes Episode


    Wat het gebeur?

    Die eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, ook bekend as Transvaal) was ʼn man met die naam Marthinus Wessel (MW) Pretorius. Hy was die seun van generaal Andries Pretorius wat bekendheid verwerf het by die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838), hoewel hy ook slaags geraak het met die Britse militêre magte by Congella (te Durban) en by Boomplaats (in die Suid-Vrystaat). Selfs na hierdie nederlae kon generaal Andries Pretorius in 1852 daarin slaag om by die Sandrivier (ook in die Vrystaat) ʼn verdrag met die Britse ryk aan te gaan wat lewe sou skenk aan ʼn republiek noord van die Vaalrivier.


    Generaal Pretorius sou uiteindelikie nie sy republiek in vrede kon lei nie, want na sy dood in 1853 het sy seun, MW, die leisels oorgeneem. MW moes ʼn nuwe republiek lei as deel van 'n nuwe generasie leiers wat die Groot Trek beleef het en hulleself in die binneland van Suid-Afrika gevestig het. MW Pretorius was veronderstel om soos 'n "George Washington" vir Transvaal te wees. Hy moes die basiese werk doen om ʼn nuwe staat van die grond af op te bou en die resultaat dan aan die volgende generasie te oorhandig. Hierdie scenario kan vergelyk word met die verantwoordelikheid van die teenswoordige millenniale generasie wat later hierdie eeu Suid-Afrika van die ouer generasies sal erf en dan die Suid-Afrikaanse Staat verder moet versterk tot voordeel van hulle opvolgers.


    Maar MW het 'n massiewe taak gehad; het hy daarin geslaag? MW Pretorius was ʼn dromer en wou Transvaal (met die hoofstad in Potchefstroom) met die Vrystaat (republiek sedert 1854) verenig as een “Boererepubliek” bo die Oranjerivier (Gariep). Sy droom het in ʼn burgeroorlog in Transvaal ontaard toe generaal Stephanus Schoeman nie van Pretorius se droom en langdurige verblyf in Bloemfontein gehou het nie. Pretorius het wel as oorwinnaar uit die stryd getree, maar sy reputasie was geskaad. Die staat wat president Thomas F. Burgers in 1872 van Pretorius moes oorneem, het potensiaal gehad soos wat Burgers geglo het, maar Transvaal was glad nie 'n sterk en goed ontwikkelde (of selfs ontwikkelende) staat nie.

    Padlangs gevind

    In Potchefstroom kan MW Pretorius se historiese nalatenskap gevind en eerstehands beleef word. Die eerste plek om te stop is die huismuseum in Thabo Mbekiweg. Daar het Pretorius sy kantoor gehad waar hy enige tyd ʼn besoek van ʼn afgevaardigde kon verwag. Sy wamakery is ook te siene, want Pretorius het nie sy brood en botter alleenlik uit die politiek verkry nie - hy moes na sy ampstermyne 'n inkomste uit sy ambag as wamaker maak. Gub jouself so'n uur om die huis en die verskillende artikels te besigtig en ook met die belese en kundige kurator, mnr. Johan Wolvaardt, ʼn geselsie aan te knoop. 


    Daar is nie ʼn beeld van MW Pretorius in Potchefstroom nie. Om dit te sien, moet 'n mens al die pad na Pretoria toe ry waar sy enigste beeld reg voor die standbeeld van sy pa op Pretorius-plein staan; maar Pretorius se laaste rusplek is wel in Potchefstroom.


    Omdat hy die eerste president van die ou Transvaal was, kan 'n mens mos verwag om ʼn graf te vind wat tot 'n nasionale besienswaardigheid verhef kan word, soos George Washington en sy gade se laaste rusplek te Mount Vernon in die VSA. Dit is bejammerenswaardig dat die nie die geval met MW Pretorius is nie. Suid-Afrika is bekend daarvoor dat die laaste rusplekke van bekende figure uit die verlede verwaarloos word. ʼn Graf is mos die naaste wat 'n lewende persoon aan die wese van enige historiese figuur kan kom. Ongelukkig is dit tans moeilik om by MW Pretorius se driekanongraf uit te kom. Dis in die historiese begraafplaas by Alexanderpark, duskant Olënpark (die tuiste van die Noordwes Luiperde rugbyspan), in Potchefstroom.


    Wees versigtig indien jy belangstel om te sien of die president wel daar lê.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    46 min
  • Diederik Coetzee: Grondbaron of dorpstigter?
    'n Padlangs Noordwes-artikel


    Wat het gebeur?


    Die dorpie Zeerust (oorspronklik bekend as Coetzeerust) was eens die laaste dorpie in die noordweste van die ou ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek of Transvaal) voordat 'n mens die Britse protektoraat van Betsjoeanaland (Botswana) sou bereik het. In 1867 is die dorp gestig as gevolg van die handelinge van die plaaslike "grondbaron", Diederik Coetzee (1802-1891).


    Coetzee het die reg gehad om twee plase vir homself uit te lê soos Transvaal se eerste grondwet gestipuleer het. Elke Transvaalse burger wat die Groot Trek meegemaak het, kon twee plase vir homself opeis en ook ʼn erf in die naaste dorp. Coetzee het toe besluit om sy plase by die Klein-Maricorivier te gaan uitlê volgens sy eie afmetings. Die naaste dorpe aan hom sou Rustenburg of Potchefstroom gewees het, waar hy sy dorpserf kon hê. As gevolg van die dood van sy neef en swaer, Casper Coetzee, het Diederik Coetzee dit reggekry om vier plase op sy naam te registreer en die Transvaalse regering het eers ʼn dekade later ʼn bohaai daaroor gemaak. Hy is in 1866 ingelig dat hy van twee plase afstand moes doen, omdat hy wel geregtig was op twee (hy was immers deel van die Andries Potgieter-trekgeselskap). Coetzee het toe ʼn plan gemaak om munt uit die situasie te slaan. Hy het besluit om die plaas Hazenjacht te gebruik om ʼn dorp te stig wat sy naam sou dra. Sy oorlede neef wou ook 'n dorp op hierdie plaas uitgelê het en het selfs 'n ene Walter Seymore oorreed om 'n kerk en 'n fort op die plaas te bou, maar niks het van hierdie planne gekom nie. Waar Casper se drome geëindig het, het Diederik tot aksie oorgegaan.


    Net met osrieme toegerus, het Diederik Coetzee die erwe van sy beplande dorp uitgelê. Van 20 Maart 1867 af kon belangstellendes 'n erf in "Coetzee-rust" by die amptelike aangestelde verkoper in Potchefstroom koop en registreer.


    Diederik kon natuurlik die beste moontlike watererf in sy nuwe dorp vir homself toeëien. Hy het ook ʼn erf oorhandig aan die Hervormde Kerk en sodoende dit moontlik vir hom gemaak om sy nagmaal sommer so buite sy voordeur te kry, in plaas daarvan 'n lang reis na Potchefstroom te onderneem om die naaste kerk te besoek. Met die nuutgestigte dorp kon hy ook ʼn markplein skep sodat alles wat hy op sy ander twee plase sou verbou, verkoop kon word en hy persoonlik daaruit kon baat. Coetzee se storie bewys hoe ʼn probleem in 'n geleentheid omskep kan word. In sy geval was die eindresultaat die dorpie Zeerust.


    Padlangs gevind


    Op die N4 weswaarts en net voordat 'n mens oor die Klein-Maricorivier ry en dus Zeerust bereik, is die graf van Diederik Coetzee en sy broer Casper, en albei word as die dorpstigters van Zeerust erken. Daar is ʼn padteken aan die linkerkant van die snelweg wat die posisie van die graf aandui en genoeg spasie om af te draai en veilig stil te hou. Die ou familiebegraafplaas kan maklik gevind word sodra 'n mens deur die nou ingangspoortjie stap. In hierdie stadium is net drie grafstene leesbaar, waaronder die van Diederik en Casper, omdat ʼn erfeniskomitee sewentig jaar gelede oor die grafte van die dorpstigters besorgd was. Ongelukkig kan dieselfde nie gesê word van die hedendaagse plaaslike regering nie.


    Hierdie monument kan vergelyk word met die een vir Piet Potgieter in Makopane (die ou Potgietersrus) en die Andries Pretoriusgraf (in die heldeakker in Pretoria), waar historiese figure waarna die dorp vernoem is, in die dorp of distrik rus. Maar nie Potgieter of Pretorius het die spel gespeel soos Coetzee nie, wat as "grondbaron" ʼn dorpstigter geword het.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    28 min
  • Soldaat met twee grafte?

    'n Padlangs Noordwes Episode


    Wat het gebeur?

    Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) geniet nog nie dieselfde vlak van belangstelling as die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 nie. Met die eeufeesvieringe van die eersgenoemde oorlog amper verby, is dit dalk nodig dat die gewone burger kennis neem van Suid-Afrika se belangrike rol in die eerste "totale oorlog" van die 20ste eeu. Dit sal handig te pas kom wanneer 'n mens die merkwaardige storie van onderkorporaal Wijnand "Vic" Hamman bestudeer.


    Hamman het in die dorpie Lichtenburg grootgeword. Hy het die Anglo-Boereoorlog oorleef en sy militêre opleiding met die Transvaal Scottish Regiment (TS) voltooi. Na sy diensplig het hy eers ʼn paar jaar lank vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk tot met sy aansluiting by die 2de Suid-Afrikaanse Infanterieregiment in 1915. Hy het net-net die Slag van Delvillebos misgeloop, maar sedert sy aankoms in Frankryk het hy saam met die Delvillebos-veterane in die noordelike streke van Frankryk geveg. Hy is in Oktober 1916 as onderkorporaal aangestel en het op 12 April 1917 by die dorpie Fampoux gesneuwel.


    Padlangs gevind

    Wat maak hom so besonders? Hamman se oorskot is by Fampoux begrawe (by die Brown's Copse Statebond Grafkommissie-begraafplaas), maar sy moeder, Johanna Hamman, het vir hom 'n graf uitgelê met 'n grafsteen daarby in Lichtenburg se historiese begraafplaas (waar generaal Koos de la Rey ook begrawe is). Wijnand "Vic" Hamman het dus twee grafte, maar teoreties lê sy oorskot net in een. Die vraag is dus: Lê daar wel iets begrawe in sy Lichtenburggraf?


    Vir meer inligting oor Vic Hamman, besoek die volgende skakel:


    http://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/26218

    om die akademiese artikel te besigtig.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    38 min
  • Louw Wepener en die Slag van Thaba Bosiu
    HELDE


    Bethulie, Jamestown en die dorpie Wepener het iets gemeen. Elkeen het ʼn monument ter ere van Louw Wepener. Wepener het op 15 Augustus 1865 by Thaba Bosiu (geleë in vandag se Lesotho) gesterf toe die Oranje-Vrystaat en die Basotho-koninkryk van koning Moshweshwe I in 'n oorlog gewikkel was.


    In Afrikanergeledere word Wepener as ʼn held beskou en sy dade tydens die slag van Thaba Bosiu is legendaries. Twee militêre medaljes en ʼn Suid-Afrikaanse Weermagregiment is selfs na hom vernoem.


    Die vraag is dus: waarom is Louw Wepener se lewensverhaal so merkwaardig dat hy nog vandag steeds so hoog geag word?


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    36 min
  • Die Rooi baron
    HELDE


    Gedurende die 1930's besoek sir Alan Cobham se Flying Circus Suid-Afrika. ʼn Jong tienerseun, Bob Rogers, kry die geleentheid om in een van Cobham se vliegtuie sy eerste vlug te beleef. Die jong seun wou eintlik ʼn mediese dokter word, maar die Tweede Wêreldoorlog het daardie droom van hom verander.


    Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) en die Koreaanse Oorlog (1950-1953) het van Bob Rogers ʼn legende gemaak. Daar is na Rogers verwys as Suid-Afrika se eie “Rooi Baron”, soos Manfred van Richthofen, ʼn legendariese Duitse vegvlieënier gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918).


    Rogers het die bynaam gekry omdat hy ʼn ware Suid-Afrikaanse “Ace” in die Tweede Wêreldoorlog en in die Koreaanse oorlog was. Hy het tot in 1979 in die Suid-Afrikaanse Lugmag gedien en gehelp om die Suid-Afrikaanse Lugmag voor te berei vir diens tydens die Grensoorlog (1966-1989).


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    35 min
  • Evered Poole
    HELDE


    Generaal-majoor Evered Poole het die Slag van El Alamein beleef. Hy was ook teenwoordig by Monte Cassino. Hy was soos Suid-Afrika se eie Montgomery. Dit is vreemd dat sy storie nie alombekend is nie.


    Gebore net na die Anglo-Boereoorlog in 1902 in die distrik Overberg, was Poole deel van ʼn militêre familie. Hy het in sy vader se voetspore gevolg en ʼn loopbaan in die Unie Verdedigingsmag uitgekerf. As gevolg van sy jeugdigheid kon hy nie diens in die Eerste Wêreldoorlog doen nie, maar hy het amper 20 jaar gehad om homself voor te berei vir die uitmergelende Tweede Wêreldoorlog.


    In daardie oorlog het hy sy pligte as soldaat en bevelvoerder met uitnemendheid uitgevoer. Sy glorieryke sukses en beroemdheid sou tot in 1948 duur. In daardie jaar het sy lewe onherroeplik verander.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    52 min
  • Die politieke eggenoot: Elize Botha
    EGGENOTES


    Die Pretoria News skryf op 13 Augustus 1982 die volgende oor Suid-Afrika se premiersvrou, Elize Botha:

    

    “The day [13 Augustus 1982] PW’s wife had the Golden Circle slickers bedazzled. It is not often that the elegant rich of Annabel’s 100 Club leap to their Gucci clad feet for a speaker, but an hour long speech heavily laced with early humour, patriotism and motherliness from the Prime Minister’s wife clearly bowled them over.”

    Elize Botha (1922-1997) het nie net die elite van Johannesburg betower nie, maar sy en PW was 'n kragtige politieke egpaar wat mense van verskillende agtergronde beïndruk het. Sonder Elize sou PW waarskynlik nie daarin kon slaag om so ʼn roemryke loopbaan in die politiek te bou nie. Elize het nie net in PW se skadu gestaan nie. Sy het langs hom gestaan en was deel van al die hoogtepunte en laagtepunte in sy lewe.

    Luister gerus saam:



    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    33 min
  • Toe Hans en Susan mekaar ontmoet het
    EGGENOTES


    Susan Strijdom, née De Klerk, was reeds deel van ‘n “politieke familie” voordat sy met advokaat JG (Hans) Strijdom getroud is. Susan was Hans se tweede vrou, en hulle was gelukkig getroud.


    Susan was die suster van oudsenator Jan de Klerk en dus die tante van oudpresident F.W. de Klerk. Terwyl De Klerk nog ‘n student by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys was, het Susan Strijdom die jonge F.W. en sy nooi, Marike, na Libertas genooi. Daar het twee Suid-Afrikaanse staatshoofde se eggenotes mekaar vir die eerste keer ontmoet - ‘n vriendskap wat 40 jaar lank sou duur. Ook het Susan Strijdom haar man met 40 jaar oorleef.

    Maar wat behels Susan Strijdom se lewensverhaal? Wat weet ons reeds en waar kan verdere navorsing gedoen word?


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    28 min
  • Die elegante Margo Diederichs
    EGGENOTES


    Margo Diederichs (née Potgieter) was die derde staatspresidentsvrou van die Republiek van Suid-Afrika. As dr. Nico Diederichs se eggenote was sy bekend vir haar elegansie, maar ook vir haar fier en trotse houding.

    Barbara Barnard het die belese mevrou Diederichs soos volg beskryf:


    “She was a very elegant looking woman, rather shy that made her appear aloof. She was an elegant lady and I enjoyed working with her and appreciate the opportunity she gave me to do so.”

    Dit blyk dat sy nie so gewild soos haar twee voorgangers was nie. Spruit die rede daarvoor dalk uit haar lewensverhaal?


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    24 min

About Eensgesind Klanklêers

From the publisher's feed

Die Eensgesind Klanklêers bied verskeie programme wat fokus op Suid-Afrikaanse geskiedenis, erfenis en aktuele sake. Eensgesind is ‘n sosiale herlewingsinisiatief wat daarop gerig is om aan individue…