Kerkbode Kollig

Kerkbode Kollig

By Klank KompasReligion & Spirituality
Download on the App Store

Kerkbode Kollig episodes

  • Kollig Episode 57 | Hoe praat ons oor Christelike geloofstyle? - Nico Simpson
    Die ideale gemeente is een waar gebroke mense voel hulle kan behoort.

    Só vertel dr Nico Simpson, uitvoerende hoof van Bybel-Media. In hierdie gesprek vir Kerkbode Kollig vertel hy meer oor wat ’n vraelys oor geloofstyle vir hom duidelik gemaak het oor wat lidmate in ’n gemeente soek.
    Ook wat hulle nie soek nie.
    Hy sê uit 900 mense se terugvoer is dit vir hom baie helder predikante moet mense ontmoet daar waar hulle in hulle geloofsreis is.

    * Kerkbode is 'n publikasie van Bybel-Media. Leier, jy lees jou gemeente verkeerd! | Waarom jou gemeente nie reageer soos jy dink hulle sal nie
    26 min
  • Kollig episode 56 | | Wie gee om vir die een wat omgee?
    Onderwysers, maatskaplike werkers en predikante moet so opgelei word dat hulle weerbaar is vir trauma. “Ons moet hulle die toerusting gee om ’n veilige hawe te wees en nie self uit te brand nie.” Só sê die rektor van Hugenote Kollege, prof Retha Bloem.

    Sy vertel in hierdie episode van Kerkbode Kollig meer oor wat bedoel word met ’n trauma-ingeligte kurrikulum asook hoe sy meen ’n Christelike etos kan bydra tot wat sy noem ’n pedagogie van hoop. Die oud-maatskaplike werker praat ook oor hierdie kollege op Wellington se eie storie van hoop.
    11 min
  • Kollig episode 55 | ‘Gebed is vir my soos my GPS' - Dewald Hoffman, samesteller van nuwe gebedsbundel
    Vroeër was sy benadering tot gebed dalk anders, maar deesdae wil hy spasies daarvoor in sy lewe skep, waar gebedsritmes as anker te midde van onsekerheid dien. Só vertel ds Dewald Hoffman, samesteller van die 'Gebedsboek vir tye wat tel' wat Bybel-Media in 2025 uitgegee het. Die boek bevat 365 gebede wat ingedeel is volgens die seisoene van die kerkjaar. Onder die wye spektrum tel gebede deur al die eeue van die Christendom vanaf antieke kerkvaders tot vandag se tye met Moeder Teresa, Desmond Tutu, Cas Wepener en Jan Lubbe. Hoffman se hoop is dat lesers van die boek ’n ontmoeting met God sal hê. In hierdie gesprek oor gebed, oor die skrywer en oor die skryfproses, verduidelik Hoffman dat gebed vir hom met ’n anker of liggingstoestel (kompas of GPS!) vergelyk kan word. * Bybel-Media is ook die uitgewer van Kerkbode. Resensie | ’n Gebed vir elke dag van die jaar · Bybel-Media
    24 min
  • Kollig episode 54 | Kerkwees in krisistye: Marinda van Niekerk van Respond SA in gesprek met ander
    Ons is besig om dié vliegtuig in die lug te bou. Só vertel dr Marinda van Niekerk oor Respond SA, die interkerklike ramphulporganisasie wat in Februarie 2024 formeel op die been gebring is en waarvan sy hoof is.

    In hierdie wydlopende gesprek vertel twee gemeenteleraars van hulle ervaring van die goed én sleg wat tydens ramphulp kan gebeur. Vanuit die kantoor van die Algemene Sinode vertel dr Nioma Venter, ’n kenner met wye ervaring van kerklike netwerke en ook medestigter van Respond SA, wat vir haar die geskenke is wat die kerk in krisistye het om te gee. Sy noem dit die drie C’s (Convene, Connect, Communicate in Engels) en bring ’n vierde een in: Christus want “sy liefde dring ons”. Sy verduidelik ook hoe die noue verbintenis tussen die NG Kerk en Respond SA werk soos gesien met hulpaksies na die verwoestende vloede in Januarie in die noorde van die land.

    Navrae: dr Marinda van Niekerk op [email protected] en dr Nioma Venter by [email protected] Respond SA Nasionale Rampverligtingnetwerk · Vennote vertel oor hulp tydens rampe: ‘Behoefte word bepaal deur mense op grondvlak’ – ds Alex Clark, Diaconia
    43 min
  • Kollig episode 53 | Vroue in leierskaprolle by die kerk – die gesprek bly relevant
    Dit was nie “Die Kerk” wat haar meer as twee dekades gelede gekeer het om teologie te gaan studeer nie … Dit was sy sélf. Só vertel dr Nioma Venter in ’n gesprek oor vroue as leiers in die kerk.

    Venter is algemene sekretaris van die NG Kerk en een van drie paneellede wat gesels het oor Skrifverstaan, hoe kerkwees lyk as ’n mens van mekaar verskil en hoekom hierdie onderwerp relevant bly. Saam met haar in gesprek is Lerisa Meyer, ’n gemeenteleraar van die NG Kerk in KwaZulu-Natal en vanaf die Hervormde Kerk, Tanya van Wyk wat ’n professor in sistematiese teologie is.

    Die gesprek volg na aanleiding van besluite wat geneem is by die sinode van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) op Potchefstroom in Januarie (Lees meer in Kerkbode - webskakel is onder) – maar is nie ’n indiepte-bespreking daarvan nie.

    Luister gerus saam na 2026 se eerste episode vir Kerkbode Kollig, ’n reeks wat kerknuus met deernis en insiggewend wil bespreek. GKSA hou sinode op Potch: Eie gemeentes móét nou konformeer of uit verband tree + Verhouding met NGK afgeskaal
    37 min
  • Kollig episode 52 | Aftrede – Dr Thys Smith vertel meer oor hierdie lewensfase
    Die lewensfase na aftrede trek wêreldwyd aandag. Mense leef langer en werk langer. Dit het “statuur gekry” sê dr Thys Smith van Wellington. Hy het self al drie keer afgetree en op 79 het hy ook ’n boek geskryf oor die tema van sinvol aftree.

    Hy sê een van die belangrike dinge wat hy ontdek het ’n mens met aftrede moet weet is dat jy aftree nie om te gaan stil sit nie, maar om aan te tree vir ’n nuwe lewensfase. Een met sy eie unieke uitdagings, geleenthede en genietinge. Só vertel hy vir Heléne Meissenheimer vir hierdie aflewering van Kerkbode Kollig. In ons podsending van so 15 minute vertel hy meer oor die leefwêreld van ouer mense vandag na aanleiding van sy boek, Anderkant 65: Aftrede en daarna.

    Dr Thys Smith se boek kan aanlyn bestel word by CLF (R230). Kyk ook uit vir die onderhoud met hom in die Desember-uitgawe van LiG, susterpublikasie van Kerkbode.
    15 min
  • Kollig Episode 51 | ‘Ons as kerke kan mekaar nie los nie’ – Jan Lubbe en Nioma Venter
    Om saam met gelowiges uit kerke in ander lande te bid, sing (ook in isiXhosa!) en gesels oor brandpunte soos ekonomiese geregtigheid, kommer oor militarisering en meer was vir hom verrykend. “Ons is ’n geskenk vir mekaar.” Dit is vir hom die waarde van deel wees van ’n ekumeniese netwerk, vertel ds Jan Lubbe in hierdie aanlyn gesprek vir Heléne Meissenheimer.

    Hy en dr Nioma Venter was deel van ’n afgevaardigde groep vanuit die NG Kerk wat in Oktober in Thailand was. Hulle het saam met ander uit Suid-Afrika die 27ste samekoms van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke bygewoon, ’n netwerk van meer as 100 lidkerke wat vanjaar 150 jaar oud is.

    Die tema van hierdie samekoms was ‘Volhard in jou getuienis’.

    Die moderator van die NG Kerk (soms ‘tjip sy worshond in’) en algemene sekretaris vertel meer oor die konferensie wat ’n besoek aan ’n kamp vir oorlogsvlugtelinge ingesluit het. Dit het ’n diep indruk gelaat. Hulle praat ook oor wie hulle daarna in Japan ontmoet het en wat hulle daar ontdek het oor volhard in jou getuienis in ’n land waar Christene minder as 1% van die bevolking uitmaak.
    30 min
  • Episode 50 | Yolanda Dreyer oor hoe ’n mens met jou eie stukkendheid kan werk en die krag van pastorale sorg
    Niemand van ons is heel nie, maar hoe werk jy met jou eie stukkendheid?
    Dit is die vraag wat aan die hart lê van ’n reeks gesprekke wat prof Yolanda Dreyer by die onlangse vergadering van die sinode NG Kerk in Oos-Kaapland gelei het.
    Skep ons deur heethoofdigheid, vervreemding van ons eie emosies en gekose onkunde oor die voortdurende invloed van ons kinderjare, nadelige uitkomste in ons lewens? En hoe breek ’n mens so patroon? Dreyer betrek die insig van Carl Jung met die aanhaling: “Until you make the unconscious conscious, it will direct your life and you will call it fate.” Hieroor kon sinodegangers nadink en gesels want vir drie aande in ’n ry was Dreyer die gasspreker by die sinodesitting in Gqeberha. Kerkbode het tussendeur die dagsessies wat sinodegangers met ander gesprekke en onderwerpe besig gehou het, eenkant gaan sit met dié praktiese teoloog en haar gevra om die verskil tussen berading en psigologie te verduidelik. Sy het oor die rol van geloof in haar eie lewe gepraat en verduidelik hoe sy dink oor die etiket van “baanbreker” wat dikwels op haar geplak word. (Dreyer was die eerste vrou wat toegelaat is tot die bediening in enige van die Afrikaanse susterkerke en die eerste vroue-professor aan UP se fakulteit teologie).
    “Self-insig en bly groei, is maar die belangrikste ding, dink ek, as ’n mens nie skade aan ander wil doen, vanuit jou eie stukkendheid nie. Want niemand van ons is heel nie. So êrens moet ons met ons eie stukkendheid te rade gaan, sodat my stukkendheid nie vir jou seermaak nie,” verduidelik Dreyer deur die loop van hierdie aflewering van Kollig, wat sowat 23 minute duur. - Le Roux Schoeman
    24 min
  • Episode 49 | ‘Hoe dink ons oor hulp?’ - Jan Lubbe in gesprek met ander oor Gasa-skenking
    Hoekom het die NG Kerk se leierskap juis nou besluit om R250 000 te skenk vir humanitêre hulp in Gasa? Wie kry die geld en kan ons vertrou die geld kom wel by noodlydendes uit? Hoekom het hierdie skenking soveel reaksie ontlok?

    Jan Lubbe en dr Nioma Venter gee breedvoerig toeligting op dié vrae in hierdie episode van Kerkbode Kollig. Ds Lubbe is moderator van die NG Kerk en Venter is die algemene sekretaris. Die politieke ontleder, prof Theo Venter, neem ook vanuit Potchefstroom af aan hierdie wydlopende gesprek deel. Hy gee sy insae in wat tans ontvou in die komplekse konfliksituasie tussen Gasa en Israel.

    Lees ook rubrieke en verklarings op Kerkbode se webtuiste. Vinnige feite | Die NG Kerk en plaaslike asook internasionale nood · NG Kerk gee uit medelye humanitêre hulp in Midde-Ooste
    39 min
  • Episode 48 | Dr Frikkie Coetzee vertel oor sy pad met evangelisasie
    Dr Frikkie Coetzee is ’n predikant van Pretoria en hy lei die NG Kerk se Algemene Taakspan Evangelisasie. In dié episode van Kollig vertel hy vir Heléne Meissenheimer meer van sy eie geloofspad en die werk van dié taakspan. Van die onderwerpe wat hy bespreek is ’n “holistiese kyk” na wat evangelisasie is asook die regstel van wanpersepsies en ’n entoesiasme rondom wat hy as Goddelike avontuur bestempel.
    20 min

About Kerkbode Kollig

From the publisher's feed

Gereelde podcasts gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, laat nadink en inspireer. Kerkbode is die amptelike nuusblad van die NG Kerk.