Kerkbode Kollig

Kerkbode Kollig

By Klank KompasReligion & Spirituality
Download on the App Store

Kerkbode Kollig episodes

  • Episode 18: Dr Coenie Burger vertel meer oor sy eie geloofstorie en van sy nuwe boek
    Hy het min pak gekry, maar dit was die keer wat sy pa hom nie pak gegee het nie wat hom
    met ander oё na sy pa laat kyk het. Dat hy sy pa as mens begin raaksien het. Iets
    soortgelyk het oor jare met hom gebeur in sy verhouding met God en hoe hy oor God voel.
    ’n Ontdekking dat God hom liefhet en omgee en na hom wil luister. “Dit maak dat ek glo
    vandag,” vertel dr Coenie Burger wie se nuutste boek Verbind aan Christus: Om in
    vereniging met Christus te leef, pas verskyn het.
    Hy begin ons gesprek met ’n aanhaling uit sy boek deur die gereformeerde teoloog
    Johannes Calvyn: “For my own part, I am overwhelmed by the depth of this mystery, and
    am not ashamed to join Paul in acknowledging at once my ignorance and my admiration
    … whatever is supernatural is clearly beyond our own comprehension. Let us therefore
    labour more to feel Christ living in us, than to discover the nature of that intercourse.”
    25 min
  • Episode 17: Jeug-tot-jeugaksie wou jongmense inspireer oor Jesus
    Hy dink die NG Kerk is ryker as 50 jaar gelede. En hy dink die kerk sien groter prentjies raak, maar die Jeug tot Jeugaksie van 1974 was verbeeldingryk vir sy tyd.

    So meen prof Malan Nel wat onlangs saam met so 18 van die oorspronklike leierskapgroep reünie gehou het in die Vrystaat om die 50ste herdenking te vier van hierdie inisiatief wat die bedieningsfilosofie wou vestig dat jongmense toegerus moet word om met jongmense te werk.

    Dit is genoem die evangelisasiejaar van die kerk. Die leuse was ‘Lewe vir Christus en vir Sy kerk’. “Daai embleem het die land beinvloed. Die hele land het ingekoop in die aksie,” so onthou hy op 85 helder die gebeure rondom hierdie projek wat die Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) omskryf as “een van die merkwaardigste uitreike van die NG Kerk in die 20ste eeu na die jeug”.

    Die inisiatief onthou Nel as die waar word van ’n droom van ds Mike Smuts wat later hoof geword het van die Christen Studentevereniging (CSV), later Verenigende Christenstudentevereniging (VCSV).

    Sowat 32 000 jongmense is opgelei om met hulle portuurgroep oor die evangelie en geloofsake te praat. Meer as 350 000 jongmense was by die saamtrekke wat in drie lande gehou is in skole, stadsale en op sportstadions.

    Die aksie het, volgens eCK, “by baie jongmense tot nuwe entoesiasme vir die kerk gelei en groot getalle het hulle ná 1974 aangemeld vir teologiese studie”.
    22 min
  • Episode 16 – ‘Gee aandag al raak ’n mens soms vuisvoos’ – Lizelle de Bruin oor groen stories en hoekom dit belangrik is
    Voor die NG Moedergemeente op George was ’n groot eikeboom. Toe word dit afgekap na ’n kewer die dorp se akkerbome besmet het. Vandag groei op dieselfde plek ’n paar jong eikeboompies wat van hierdie boom se akkers gekweek is. Dit is vir haar ’n ongelooflike storie van hoop, vertel Lizelle de Bruin, vanjaar die ontvanger van die Andrew Murray-Prysfonds se Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring en geregtigheid.

    Op RSG se webblad word hieroor so berig: “In die motivering vir die toekenning, word gesê dat sy as ervare radioregisseur, omroeper en direkteur van Wordwise Media al jare lank ’n uitsonderlike toewyding toon om omgewingsbewustheid te bevorder”.

    “’n Mens raak soms vuisvoos maar jy moet aandag gee,” hoor Kerkbode by Lizelle. Sy vertel ook van die praktiese, selfs pretmaniere, hoe sy omgewingsbewustheid deel van haar lewe maak en deel ’n paar van haar gunsteling groen stories.
    13 min
  • Episode 15: ‘Ek wil dieselfde liefde in hierdie tieners belê as in ons seun wat op 21 dood is’
    Elaine Pienaar en haar predikantman het ’n seun verloor op 21. Sy vertel sy voel die Here gee vir haar, deur haar werk as maatskaplike werker by die Christelike organisasie, Wildernis Therapy Namibia, ’n kans om dieselfde liefde en omgee te belê in hierdie tieners as in haar seun.

    Sy het gevoel haar lewe het ’n pragtige vol sirkel geloop toe sy vanjaar as ervare maatskaplike werker kon inskakel by hierdie alternatiewe terapie- en mentorprogram wat vanuit die NG Kerk in Namibië ontstaan het met die doel om jongmense op avontuurstaptogte te vat en daarna deur mentorskapprogramme by hulle betrokke te bly.

    Tydens Kerkbode se onlangse storietoer het ons die span ontmoet wat ons meer vertel het van wat hulle doen. Tussendeur het Elaine haar mooi storie gedeel.
    10 min
  • Episode 14: ‘Oom dominee Freddie’ gryp op 84 die kans om sy roeping uit te leef
    Kerkbode het vandeesweek gesels met ’n afgetrede boer Freddie Faul wat in Februarie as standplaasleraar bevestig is by die NG Gemeente Mariental in Namibiё. Dit gebeur tydens ons storietoer in die maand van Mei deur hierdie land wat die kleinste-in-lidmaattal-en-grootste-in-grondgebied-streeksinode van die NGK se “tien samestellende kerke” het.
    Kyk ook gerus hierdie video: https://youtu.be/JoYCvh7macw?si=4nB7vftiJPK02_0y
    19 min
  • Episode 13: Twee stories: Gesonde baba na kankerdiagnose + hoe kies jy vir wie om te stem?
    Ds Arina Zandberg van Kimberley was skaars twee maande swanger toe sy en haar man Dirk die skoknuus kry dat sy Hodgkins-limfoon het. Dit is ’n kanker wat die limfklierstelsel aanval wat deel vorm van jou liggaam se immuunstelsel.
    Hulle eerste gedagte was dat hulle die baba gaan verloor, maar in April vanjaar is klein Jana gebore. ‘n Gesonde baba van 3.1kg.
    Kerkbode het Arina gevra om hulle storie met Kollig te deel.
    Maar voor ons by daardie insetsel kom, kyk ons na stemdag: 29 Mei. Wat bly oor van die optimisme wat vele ná 1994 verkiesing gekoester het? Het staatskaping, korrupsie, beurtkrag ons hoop vir die land gesteel?
    Prof Erwin Schwella is die direkteur van die Sentrum vir Goeie Regering in Afrika by die Hugenote Kollege op Wellington. Kerkbode het hom gevra: hoe kan mens as gelowige weet vir wie om te stem? Uiteindelik verwagtend…maar toe ook ’n kankerdiagnose
    11 min
  • Episode 12: Twee skrywervriende gesels oor nuwe boeke in Pinkstertyd
    Donderdag 9 Mei is Hemelvaart. Nou in verkiesingstyd in ons land wonder Cas Wepener hoeveel vernuwingswerk die Gees van God by hom kan bring as hy bereid is om te luister eerder as kla.

    So vertel hierdie Stellenbosse professor vir sy jarelange vriend, emeritus-prof Chris van der Merwe. Dié twee skrywers het elk ’n nuwe boek uit wat oor geloofstema’s handel. Aan die hand daarvan gesels die liturg en die letterkundige vrylik oor geloofstema’s wat struikelblokke kan wees. Tema’s soos genade en geregtigheid, woede, hemel en hel.

    Cas vertel ook van sy behoefte om elke dag tyd in te ruim vir dinge wat mag lyk na tydmors. Hy sê ons raak te besig. Ons het stilword nodig om ons te help om weer reg na die wêreld te kyk.

    Hiermee nooi ons jou uit om so 20 minute se “tydmors” te vat vir ’n luister of kyk na hierdie podsending vir Kerkbode Kollig (vervaardig in dankbare samewerking met Kaapkerk).

    Meer oor die boeke: Cas Wepener se boek, Die heiligheid van hier het onlangs by Bybelmedia verskyn met as subtitel: Ontdek die goddelike op onverwagte plekke. 50 essays vir alleen lees of saamlees. (https://www.bybelmedia.org.za/product/die-heiligheid-van-hier/)

    Chris van der Merwe se boek, Grenslose genade: ’n Moderne geloofsbelydenis, het ook in Mei verskyn en is te kry by Lapa Uitgewers. Dit is ook in Engels beskikbaar as Boundless Grace – A Modern Confession of Faith. (https://www.lapa.co.za/grenslose-genade)

    VIDEO: https://youtu.be/thaI3UuSSrg?si=_8lrgXD0RGw09ujo KOOP: Grenslose Genade · KOOP: Die Heiligheid van Hier · VIDEO: Podsending Opname
    27 min
  • Episode 11: 'n Verhaal van omkeer uit die Paarl
    Aletia Grundling vertel die verhaal van hoe sy en vroue soos Cathy Ross en Jenny Arendse met liefde en omgee vir bendekinders ‘n drama-en skryfskool kon begin. Sy is die hoof van Monte Christo Miqlat of MCM, ‘n NGO wat deur hulle veeldoelige sentrum al vir jare ‘n veilige tuiste bied vir voorskoolse klasse en ‘n naskool.

    Luister ook na die volledige onderhoud met Aletia Grundling op Klank Kompas: Ek en my mense.

    Die verhaal van hierdie drama- en skryfskool en die heling wat dit binne hierdie arm gemeenskap in Paarl-Oos gebring het is ook vervat as een van 12 gevallestudies in ‘n nuwe boek, Caribuntu: Social innovation in South Africa waarvan die sosiale innovasie-navorser, prof Erwin Schwella, die redakteur is. Meer oor Monte Christo Miqlat (MCM)
    24 min
  • Episode 10: Hoe moet lidmate ‘goedkoop versoening’ verstaan?
    Is verhoudings tussen wit en bruin en swart Christene in die banke van kerke soos die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) 30 jaar ná apartheid aan ’t versterk en verdiep?

    Is daar grondige versoening tussen rasse en op strukturele vlak binne die NG Kerk die soort “herstellende geregtigheid” waarvan teoloë praat?

    In hierdie Kollig-episode berig ons vanuit Durban oor ’n onlangse interkerklike konferensie wat die VGK aangebied het en waar rolspelers onder meer eenheid met die NG Kerk op insiggewende wyse bespreek het.

    Die vraag is: Werk gemeentes, in hierdie jaar wat die VGK sy 30ste bestaansjaar vier, aan kerkeenheid en is daar vooruitgang, stagnasie of terugval? Is daar hoegenaamd vordering as prof Leepo Modise verduidelik dat versoening sonder restitusie “goedkoop” is? En as ds Jan Lubbe toegee dat die NG Kerk tot ’n mate na “binne gedraai het” oor die afgelope paar jaar – ten koste van eenheid?

    Die Kollig-aanbieder Heléne Meissenheimer nooi ook vandeesweek die joernalis en Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman in na die virtuele ateljee om sy indrukke van die interaksie tussen leiers van die NG en VG Kerke te hoor.
    23 min
  • Episode 9: 'Ek is nou genees van te gou opgee' - Red 'n plaas camino-stappers vertel
    Kollig Episode 9: Wanneer geloof tekkies dra Kollig reis vandeesweek binneland toe. Karoo toe. DJ Muller van Kaapkerk se kommunikasiespan is saam. Hier op Victoria-Wes kry ons twee stories wat iets vertel van hoe geloof lyk wat hande en voete kry.
    Die Red n Plaas naam is welbekend. Vanjaar se caminostap vir hierdie Noord- Kaapse inisiatief was in die omgewing van Victoria-Wes. Kobus en Zelda Groenewald van die Laeveld vertel hoe hulle dié veeldagstap ervaar het.
    DJ Muller is ‘n dominee wat hou van stories vertel en mooi foto’s neem. Hy werk as inhoudskepper by Kaapkerk, die sinode van Wes-Kaapland se kommunikasiespan. Op Victoria-Wes het hy gesels met Lazarus Makwena wat hoof is van ‘n plaaslike NGO Genadeland. Tyd was min so hulle het sommer in Kerkstraat langs mekaar op die sypaadjie gaan sit.
    14 min

About Kerkbode Kollig

From the publisher's feed

Gereelde podcasts gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, laat nadink en inspireer. Kerkbode is die amptelike nuusblad van die NG Kerk.