Oolfant se potgooi

Oolfant se potgooi

By Karin van OostrumEducation
Download on the App Store

Oolfant se potgooi episodes

  • So gebruik jy oolfant se kursusse in die Amerikaanse hoërskooldiploma

    Hierdie is ʼn bonusepisode. Al hoe meer en meer ma’s wat ʼn eklektiese tuisskoolbenadering volg, dink daaraan om die Amerikaanse hoërskooldiploma te gebruik vir ʼn matriek. 

    Maar nou wonder hierdie ma’s wat doen mens vir Afrikaans op hierdie roete. 

    In hierdie episode gee ek graag vir jou ʼn paar maniere waarop jy oolfant se kursusse gebruik in die verwerwing van ʼn Amerikaanse hoërskooldiploma.

    Die Amerikaanse hoërskooldiploma is ʼn bewese roete met kinders wat reeds op universiteit is nadat hulle dit gedoen het. Dis ook ʼn matriekroete wat vir mens baie vryheid bied.

    Daar is twee ander potgooi-episodes hieroor as jy graag meer inligting hieroor wil kry. 

    Makliker matriek? Nee. Wel lekkerder.

    So maak jy matriek in Afrikaans sonder CAPS

    Vir meer inligting oor die Amerikaanse Hoërskooldiploma gesels gerus met een of albei hierdie tuisskoolma’s:

    ·         Stephane Burger: [email protected]

    ·         Annerine Wenhold: [email protected]

    11 min
  • Dié 5 bobaaswenke laat jou kind makliker leer

    Hoe kan ek leer makliker vir my kinders maak? 

    Dis ʼn vraag wat elke tuisskoolma soos jy haarself afvra. 

    Hierdie week gee ek vir jou vyf wenke wat jou hiermee gaan help.

    • #1 Gebruik die vier leerstyle (visueel-ruimtelik, ouditief, lees en om deur beweging te leer) maar doen dit op ʼn meer gesofistikeerde manier
    • #2 Verstaan wanneer jy jou kind se selfbeeld moet uitbou en wanneer jy hom of haar moet help om vaardighede in te oefen
    • #3 Leer van die nuwe navorsing wat vir eens en vir altyd wys wat die beste agtergrondgeluide is om te speel vir maksimale leer om plaas te vind (Dis nie totale stilte nie. En nee, dis ook nie Mozart nie.)
    • #4 Vind uit watter verskil 10 sekondes kan maak as jou kind iets in taal, wiskunde, musiek of iets motories probeer leer
    • #5 Ontdek wat jou kind moet doen NA ʼn tydperk van intense leer wat sal veroorsaak dat hy of sy die werk regtig hulle eie maak 
    21 min
  • Hoekom jou kinders MOET speel

    In hierdie week se potgooiepisode praat ek nie soseer oor sosialisering nie, maar oor speel. Kom vind uit hoe en hoekom kinders speel. 

    Jy gaan hoor van die man wat uitgevind het rotte lag, hoe belangrik dit is dat pa’s hulle kinders so hoog in die lug gooi (al wil die ma se hart gaan staan) en die ware rede waarom ons vir ons kinders goeie sportmanskap leer.

    As jy wil hoor hoekom spel so belangrik is vir jou kinders, luister gerus.

    Hier praat dr Warren Farrell, wie in die potgooi ter sprake kom, oor sy boek.

    18 min
  • "My tuisskoollewe met 'n outistiese seun"

    Daar is vir my twee soorte swaarkry. Die een is amper soos om 100 meter te hardloop. Dis intens en verg baie inspanning, maar dis gou verby. Soos ʼn operasie of ʼn siekte of die ma wat vir my geskryf het hoe hulle gesin vasgekeer was in die onluste en hoe benoud hulle was.

    Die ander soort swaarkry is meer soos ʼn marathon. Dit hou aan en aan. Wat beteken dat jy ʼn pas moet aanslaan wat jou gaan help om die wedren klaar te maak. In ʼn marathon moet jy ook seker maak dat jy nie dehidreer nie en maar die water drink wat jou span vir jou gee.

    Om ʼn kind met outisme groot te maak, is om so ʼn marathon te hardloop. Dit kry nooit klaar nie. Daarom dat die onderhoud wat ek vandag weer vir jou wil speel so waardevol is. Dis met tuisskoolma Sonja Taljaard en ek het dit in 2018 opgeneem. Dis inspirerend om te hoor hoe Sonja haar gees en haar geloof bly versterk.

    Sy is in baie opsigte ook ʼn tuisskoolma wat noodgedwonge baanbreker moet speel en haar eie vorm van ontwerperonderwys moet maak. Daar was nie ʼn pasgemaakte program wat sy kon gebruik om haar met haar seun, Ewan te help nie. Probeer-probeer het sy ʼn manier gekry om hom te leer. Ek hoop hierdie onderhoud gaan jou weer moed en hoop gee. 

    As jy na Sonja se kuns wil gaan kyk, doen dit HIER.

    36 min
  • Kinders by dosyne

    Ons het almal nogal ʼn rowwe tydjie agter die rug. Die pandemie ry ons steeds. En die onrus in die land wat toe boonop uitgebreek het, het ons almal taamlik vuisvoos op moed-verloor-se-vlakte. Daarom het ek dit goed gedink om van die inspirerendste onderhoude wat ek al gevoer het weer met jou op die potgooi te deel.

    Die een wat vandag aan die beurt kom het ek in 2018 met Tina van Deventer gevoer. Tina het twaalf kinders, wat sy almal tuisskool of getuisskool het. Hulle is almal nou al bietjie ouer as in die onderhoud, maar hulle gesin gaan steeds sterk voort. Haar raad en wenke oor dissipline, verskillende kinders wat elkeen uniek is en die waarde en genot van voorlees is steeds goud werd.

    Maar die groot rede hoekom ek graag hierdie onderhoud in hierdie moeilike tye met jou wil deel, is die voorval wat dié gesin tydens ʼn gewapende rooftog gehad het. Tina praat daaroor hier by die vyftienminuutmerk in die onderhoud. Haar vertelling hieroor gaan jou weer moed en hoop gee. En jou geloof versterk.

    Lekker luister.

    Onthou van oolfant se groot promosie wat nog tot einde Augustus 2021 aan die gang is.

    KLIK HIER vir meer inligting.

    23 min
  • Tatta toetse en koebaai eksamens

    Ek wil hierdie week die bangmaak-vraag wat alle tuisskolers een of ander tyd hulleself afvra, help beantwoord. Veral die van ons wat in die laerskooltyd ons eie ding doen.

    En daardie vraag klink gewoonlik so: hoe weet ek my kind is op standaard?

    Maar wat die ouer eintlik vra, is: hoe kan ek seker maak my kind leer die regte dinge op die regte tyd en kry die werk regtig onder die knie?

    In hierdie week se potgooi help ek jou met al hierdie bekommernisse. Ek skop af deur te kyk na die manier waarop skole tradisioneel die vraag oor standaard beantwoord. Dis deur toetse en eksamens te skryf.

    Ons dink so ʼn bietjie na oor vier redes waarom skole toetse en eksamens gebruik en watter van daardie redes geldige redes vir jou as tuisskoolma is.

    Maar dan in die tweede helfte van hierdie potgooi-episode gee ek vir ʼn heerlike voorstel hoe jou tuisgeskoolde kind op ʼn lekkerder en sinvoller kan evalueer.

    Die gratis werkboek waaroor ek in hierdie episode praat, sal jy vind binne-in die gratis kursus Begin hier met tuisskool gratis en verniet. Dis onder die opskriffie: kopskuiwe wat jy moet maak en dan onder die afdeling: hoe weet ek my kind is op standaard? Daar is ook ʼn video oor dieselfde onderwerp daar beskikbaar.

    KLIK HIER EN SKRYF HIER in Begin hier met tuisskool gratis & verniet. 

    Jy weet wat ek vir alle tuisskolers wil moontlik maak – ware een van sy soort ontwerperonderwys. Hierdie week se potgooi gaan jou baie daarmee help.

    26 min
  • Unieke leerkans vir tuisskooltieners: leer sweef

    Johan Pretorius, tuisskoolpa van die Kaap, gesels in hierdie week se potgooiepisode oor sweeftuie en sweefvlieg. 

    Sweefvlieg is ʼn wonderlike sport vir ʼn tiener wat enigsins in vlieg belangstel. Daar is net soveel lesse, ook emosionele lesse, en vaardighede te leer.

    Jou kind kan taamlik vroeg al met hierdie leersame sport begin. ʼn Mens moet minstens 14 jaar oud  wees om ʼn leerlinglisensie vir ʼn sweeftuig te kry en 16 jaar oud vir die volwaardige lisensie. 

    Maar soos alle vlieglesse is dit duur.

    En dis veral hier wat Johan goeie inligting en ʼn bekostigbaarder alternatief vir ons gewone tuisskolers verskaf. 

    Johan is lid van die sweefklub en hy verduidelik hoe so ʼn klub leer sweef meer koste-effektief kan maak. 

    KLIK HIER vir ʼn kaart van al die sweefvliegklubs in Suid-Afrika.

    Jy kan ook op YouTube na hierdie onderhoud kyk.

    Lekker leer vlieg.

    45 min
  • So maak jy matriek in Afrikaans sonder CAPS

    Ek het hierdie week ʼn heerlike gesprek gehad met Annerine Wenhold oor matriekopsies vir tuisskolers. Die Wenholds het die Amerikaanse hoërskooldiploma vir hulle matriekseun gekies en Annerine praat oor haar ervaring daarmee.

    Kom hoor onder andere:

    1.       Hoe maklik dit is om die papierwerk af te handel sodat jou kind toelating tot die universiteit kan kry

    2.       Presies watter dokumente jou kind nodig het 

    3.       Hoe jy matriek selfs in Afrikaans kan voltooi volgens hierdie roete

    “Dis ʼn bewese roete met kinders wat reeds op universiteit is,” sê Annerine. 

    In die onderhoud vertel sy juis van ʼn meisie wat tans Ingenieurswese studeer nadat sy die Amerikaanse hoërskooldiploma verwerf het. 

    As jy graag meer inligting oor hierdie matriek wil hê, kontak gerus vir Annerine. Sy bied ʼn konsultasiediens aan tuisskolers om hulle met hierdie keuse te help.

    Stuur vir haar 'n e-pos na: @Kairos AcademySA 

    30 min
  • Het jou kind taalprobleme? Hier’s ʼn plan

    Om jou kind se taalvermoë sterk te maak, moet jy net met jou kind praat, so verduidelik taal- en spraakterapeut Lize van Merwe.

    Lize, self ʼn tuisskoolma, voel baie sterk daaroor om ma’s te bemagtig om hulle kinders self te leer.

    As spraak- en taalterapeut het dit haar gepla dat sy net 45 minute per week met ʼn kind deurbring om taalagterstande te probeer uitwis, maar dan het die kind verder geen tyd om die konsepte in te oefen nie.

    Lize het toe besluit om opleiding te kry in ʼn Kanadese model waar ʼn terapeut baie meer met die ouer as met die kind werk en die ouer as’t ware leer om die werk self te doen. Die naam van hierdie stelsel is die Hanen metode.

    Vir 12 weke lank een maal per week gee Lize aanlyn vir ouers binne-in ʼn groep leiding hoe om met hulle kinders te praat. Deur praktiese raad en wenke leer ouers hoe om hulle kinders baie meer effektief met hul taalontwikkeling te help. Die feit dat ouers die sessies saam met ander ouers doen, help boonop dat almal by mekaar leer.

    Elke week gaan die ouers dan terug huis toe en is nou voorberei om situasies in hulle alledaagse lewe raak te sien en te benut om elke dag vir ʼn paar minute hulle kinders se taalvermoë uit te bou.

    Die klasse is in Engels, maar die beginsels kan in enige taal toegepas word. Lize se kursus is ook internasionaal beskikbaar, maar sy het ʼn baie, baie spesiale prys vir Suid-Afrikaanse ma’s.

    Luister gerus hier na hierdie week se potgooi waar ons weer bevestiging kry hoe belangrik dit is om met jou kind te praat. Ook watter rol dit in jou kind se uiteindelike leessukses speel.

    KLIK HIER vir meer inligting.



    30 min
  • Die beste manier om tyd saam met jou kind te spandeer

    Die wintervakansie is op hande. ʼn Heerlike tyd om weg te raak in lekker stories en goeie boeke. Daarom het ek dit goed gedink om weer hierdie week in die potgooi die onderhoud met Hannekie Verwoerd, spraak- en taalterapeut met jou te deel.

    Die onderhoud is al drie jaar oud, en meer as 4000 mense het op YouTube daarna gekyk. Hannekie deel soveel insig en wysheid en kennis oor taalverwerwing in daardie onderhoud dat ek dit graag ook as ʼn potgooi-episode met jou deel. 

    In die onderhoud verduidelik sy so mooi wat die verskil tussen boek- en gesprekstaal het en hoekom jou kind albei moet ken.

    Ook watter groot rol hardop voorlees in jou kind se uiteindelike leesbegrip speel.

    Hannekie het ʼn passie vir goeie boeke en ek dink jy gaan ook hou van die titels waarna sy in hierdie onderhoud verwys.

    Sy praat onder andere oor die verskil tussen slaaptydstories en hardop voorlees, oor hoekom illustrasie belangrik is, hoe lank jy op ʼn slag moet voorlees en ook hoe mens Engelse boeke inbring.

    Mag hierdie onderhoud jou opnuut inspireer om hardop vir jou kinders voor te lees. En mag dit jou hope skietgoed gee om vir ander mense te verduidelik hoekom julle so baie stories lees en dit nog steeds leer noem.

    Vir meer inligting oor Hannekie se webwerf Luistervinkstories, klik hier:

    Verslind gerus hierdie volgende twee maande al daardie boeke. Dis die beste ding wat jy vir jou kind kan doen.

    44 min

About Oolfant se potgooi

From the publisher's feed

Welkom by oolfant se potgooi. Ons leuse is oos, wes, tuis bes, want ons wil van tuisonderwys ontwerperonderwys maak.