Navorsing van die Verenigde Nasies se Wêreld Toerisme-organisasie, waarby 54 lande geakkrediteer is, dui daarop dat 1 uit elke 11 werksgeleenthede verband hou met toerisme. Die globale Bruto Binnelandse Produk raak-raak aan 10%. Johan Rademan het met PJ Basson, wat gereeld internasionale toerisme-skoue bywoon, gesels en in Montagu, waar hy werksaam is, gaan uitvind dat die dorpie op die R62 met sy 10 000 inwoners vaste betrekkings aan 675 mense bied in die toerismesektor. Baie beroepe dink 'n mens nie eers aan nie soos skoonmakers, tuiniers, terapeute, sjefs, opsigters, verwers, wassers en selfs 'n klavierspeler. Op Montagu is Wilan Temani die plaaslike selfopgeleide pianis wat deedae op 'n vaste basis in die restaurant van die hotel speel. Sy ma, Katie, wat in die 2 000 oorlede is, het by die hotel gewerk. As klein seuntjie het Wilan soms saam met sy ma hotel toe gegaan en handjie bygesit.