
Sign up to save your podcasts
Or


“Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” (Spr 11:24).
Die spreuke kontrasteer elke keer die optrede van ‘n wyse met die optrede van ‘n dwase; én dan word die implikasies van die gedrag ook beskryf. Vir ons wat onsself realisties (of sinies) noem, klink baie van die spreuke soms te idealisties - ons weet tog dat die lewe nie billik is nie, en jy kry nie altyd wat jy verdien nie. (Gelukkig is daar ander dele, soos Job en Prediker, waar hulle weer die jeugdige naïwiteit balanseer met hul soms sombere wyshede.)
As sommige van die spreuke vir ons soms naïef klink, des te meer in die antieke tye. As jy arm was, was dit omdat jy iets verkeerd gedoen het. Daarom was daar nie iets soos “’n hart vir armes” nie. Verder was daar ‘n beginsel dat jy net iets doen as jy self iets in ruil sou kry. Dit sou dus verspot wees om jou besittings met ‘n behoeftige te deel – jy sou niks terug kon verwag nie. Dit is dus nie ‘n “wen”-transaksie vir jou nie!
Maar, hier moet die volk van God ‘n groot lewensles leer: is ons nie almal die bedelaars wanneer ons voor God staan nie? Al die pad wen ons, maar ons het niks om terug te gee aan God nie. Dit is juis die beginsel van genade!
Verstaan jy dít, dan kan jy maar “afwaarts” gee, sonder dat jy “opwaarts” iets van die mindere verwag. Omdat jy verstaan, “die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf” (Spr 11:25).
Vrygewigheid begin dus wanneer jy die genade van God begin verstaan!
GEBED: Here, gee my ‘n ruim hart en ‘n oop hand, soos die hart en die hand wat U vir my het.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 8 van #WeesWys kyk ons na die musiekvideo van die Nederlandse sanger Christian Verwoerd se nuwe lied “Gezichten van miljoenen”.
Christian Verwoerd skryf hy het die lied geskryf in samewerking met die sendingorganisasie OMF. “Hierdie lied beskryf beide die noodsaaklikheid van sending, sowel as die doel, naamlik die aanbidding van Sy Naam.”
https://youtu.be/mdgLlWOaUGM
“Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my.” (Spr 8:17).
Wat die God van die Bybel anders maak as die gode van die omliggende volkere was dat “gewone” mense God kon leer ken; nie net “spesiale” mense nie. In Jeremia sê die Here, “Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken” (9:23-24a). Daar is ‘n groot verskil om van God te wéét en om God te ken. Hoorsê is iets gans anders as ervaring!
Die bekende skrywer en teoloog, Henri Nouwen, het oor sy eie lewe vertel hoe hy die grootste deel van sy lewe gesukkel om God te vind, om God te ken, om God lief te hê. Hy het al die riglyne van die geestelike lewe gevolg; versoekings probeer vermy – selfs toe hy al ‘n priester was. En toe lees hy die gebed van die Kerkvader Augustinus: “Ek het U buite myself gesoek, terwyl U al die tyd binne in my was.” Dit is wat ons vraag behoort te wees: nie “hoe moet ons God ken nie?” maar of ons God toelaat om ons te ken.
Dit laat my dink aan ‘n klompie jare gelede toe ‘n dokter my diagnoseer met ‘n ernstige Vitamine D tekort. Onmoontlik! Dit is iets wat in die noordelike hemisfeer gebeur – tog nie in sonnige Suid-Afrika nie! Ja, dis waar, het sy gesê, maar kom jy daagliks in die son?
Nou wil ek vir jóú vra: hoe gereeld baai jy in God se liefde?
GEBED: Wys vir my as ek ‘n tekort aan U liefde-vitamines het, my Here.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Op Dag 6 van #WeesWys luister ons na Deon Meiring se vrystelling “Goeie Hande”.
Uit die liriek :
want ek’s in goeie hande
my skrape brand
onder die watte
maar ek’s in goeie hande
my skrape brand
onder die watte
https://youtu.be/WzGKptlb_rc
“Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis” (Spr 1:7 – 1953 vertaling).
Die eerste nege hoofstukke van die Spreukeboek is ‘n inleiding wat uit lang gesprekke tussen ‘n pa met sy seun bestaan – amper soos daardie wat ‘n mens laatnag langs die viswater het. Daarna (vanaf hf 10-29) volg die brokkies eensin-spreuke, of wyshede wat soos “los pitjies kos” langs die pad val. Die laaste gedeelte (hoofstuk 30-31) het weer langer gesprekke, asook ‘n akroestiese gedig (‘n gedig waar elke sinnetjie met ‘n letter van die alfabet begin).
In hierdie reeks fokus ons soms op die los stukkie pitkos, ander dae besoek ons weer die boek se inleiding. Dwarsdeur die boek is daar ‘n “goue draad” wat elke spreuk aan mekaar vashou. Ja, daar is so ‘n draad: die teksvers van die dag is daardie draad. Hier is dit weer, “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE” (9:10 - 1953). Jy mag dalk wonder, waarom gebruik jonger vertalings nie meer hierdie begrip, “vrees van die Here”, nie? Waarskynlik omdat ons aan vrees as negatief dink en dit is nie die bedoeling nie! Nee, dan lees ‘n mens dit verkeerd: dit is nie “vrees vir die Here” nie, dit is “vrees van die Here”!
Om gevul te wees met die vrees van die Here is om gevul te wees met die heilige verwondering oor die wese van God. Om die Here te dien beteken daarom om ‘n heilige lewenswandel te hê. “Wees heilig want Ek, die Here julle God, is heilig” (Lev 19:2; 1 Pet 1:16). Dan verstaan jy wat Albert Martin bedoel het met sy woorde: “Een van die akkurate metings van ware geestelike groei is die mate waartoe mens toeneem om in die vrees van God te wandel.”
GEBED: Dankie dat ek nie vir U bang hoef te wees nie, my Heilige God!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 5 van #WeesWys kyk ons na die liriekvideo van “Wisdom Song” deur
Laura Woodley Osman.
Uit die liriek:
The fear of the Lord
Is where wisdom starts
Above all else please guard your heart
For out of your heart flow the issues of life
It matters how you spend your time
There is a path that leads to life
A narrow way only few find
Meditate on God's word in the day in the night
You'll know blessings of every kind
https://youtu.be/tMnIVe4-QUY
“Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar.” (Spr 21:23)
“Tel jou seëninge, tel hul een vir een” - só klink die Hallelujaliedjie, maar dalk moet daar nog ‘n versie gesing word: tel jou woorde, tel hul een vir een. Waarom is dit sulke wyse raad? Omdat jy nie kan luister en gelyktydig praat nie! Omdat jy nie woorde wat reeds gepraat is ongedaan maak nie.
‘n Vriendin van my is ‘n paar jaar gelede gediagnoseer met stembandverlamming. Vir etlike maande was haar enigste kommunikasiemiddel ‘n potlood en papier. Nadat sy haar stem langsamerhand weer teruggekry het, het ek eendag gevra wat sy uit die hele ervaring geleer het? Haar antwoord was kosbaar: “Omdat dit so tydrowend was om ‘n boodskap uit te skryf, het ek later besef ek hoef nie oor alles ‘n sê te hê nie. Tweedens: Omdat ek net met ‘n drukkie vir my mense kon wys dat ek hulle liefhet, is dit nou my grootste voorreg om dit te kan wys én sê. Nou sê ek selfs vir die werkers by die winkels dat ek vir hulle omgee – want ek doen. En ja, ek het nooit voorheen besef hoe belangrik stilte regtig is om te hoor nie. As my kind nou met my praat, hou ek op en lúíster behoorlik. Ek wil nooit sommer net weer praat nie, want praat is kosbaar!”
‘n Wyse mens leer uit die wysheidsliteratuur dat jou luistervaardighede (die gevolg van stilbly) waarskynlik ‘n groter geskenk vir die samelewing is as jou opinie. Dit is nie dat jy nie ‘n opinie moet hê nie, maar dit is dat jy iemand anders ook ‘n opinie moet gun. Onthou maar: gespitste ore bereik veel meer as ‘n gespitste tong.
GEBED: Here, leer my om te luister; leer my om die krag van woorde te eerbiedig.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 4 van #WeesWys kyk ons na die liriekvideo van “I'm Listening” deur Chris McClarney saam met Hollyn.
Uit die liriek:
When you speak, confusion fades
Just a word and suddenly I’m not afraid
Cause you speak and freedom reigns
There is hope in every single word You say
I don’t wanna miss one word You speak
Cause everything You say is life to me
I don’t wanna miss one word You speak
Quiet my heart, I’m listening
https://youtu.be/Ef52AmdVwYI
“'n Kalm hart gee lewe aan die liggaam” (Spr 14:30a – Direkte Vertaling)
Wysheid is nie ‘n abstrakte beginsel nie; dit gaan oor die alledaagse lewe. Daarom sou ons, in die plek van wysheid, ook bloot kon praat van lewensvaardigheid.
Kan jy onthou hoe jy leer motor bestuur het: eers het jy dopgehou, later het pa of ma jou agter die stuurwiel laat inklim. Nog voor die motor aangeskakel is, was daar ‘n paar beginsels van veiligheid wat – herhalend – beklemtoon is. Ek onthou hoe skrikkerig ek was; stadig vorentoe gery, die motor gestol, weer probeer, ruk-ruk weggetrek, en geleidelik, algaande … En vandag is motorbestuur ‘n ingeoefende vaardigheid.
Dink aan die wyse leermeester van die Spreukeboek is ‘n pa of ma wat langs jou in die motor kom sit en jou wil leer om die lewe te bestuur. Een van die heel eerste lesse gaan oor die beskerming van jou hart. Dit is amper soos die veiligheidsgordel wat jy aansit, nog voordat jy die motor aanskakel. Tog, so lyk dit vir my, as dit die een lewensvaardigheid waarmee baie mense sukkel – ek inkluis. ‘n Onstuimige hart ontneem jou van lewenskalmte. En hoe laat ons onsself nie op loop neem deur ‘n onstuimige gemoed nie! G’n wonder Spr 4:23 sê, “wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Die hart, vir die Hebreërs, was die setel van alles wat jou ‘n mens gemaak het: met jou hart voel jy; dink jy. Waarvan die hart vol is, daarvan loop die mond oor! Die ironie is dat ons ons eie gemoedstoestand kan kies. Daarom is een van die eerste lewensvaardighede wat ons moet leer juis dat ons ons hart (en ons gedagtes) moet bewaar! Die vraag is of ons dit doen?
GEBED: Soos Dawid bid ek ook, “Deurgrond my hart, Here. Toets my…”
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 3 van #WeesWys luister ons na “Die Woonplek Van Die Wysheid” deur die Camarata-koor van die Universiteit van Pretoria, geskryf deur Chris Lamprecht.
https://youtu.be/YBkaKQZCyCg
“Iemand wat nederig is en respek het vir die Here, kry rykdom, eer en lewe.…” (Spr 22:4)
Ook Job het geleer dat mense wat die Here dien die wyse mense onder ons is. Hy brei verder uit: “om die kwaad te vermy, dit is insig” (Job 28:28). As wysheid die vermoë is om met ‘n goddelike perspektief na die lewe te kyk, het Job dit veral nodig gehad! Die lewe het Job behoorlik deur die meule gestuur! So, “waar word wysheid gevind, en waar is die woonplek van insig,” wil Job weet (28:12). As dit so moeilik is om wysheid te bekom, is dit seker logies dat wysheid op die “moeilikste plekke” gesoek moet word.
Ek het op die Vrystaatse Goudvelde groot geword – daar ken ‘n mens die swaar lewe van mynwerkers, vol risiko’s van rondstortings; asbestos-siekte; gehoorverlies a.g.v. ewige geraas. Dít om klip en rots te myn! As jy soveel moeite doen om goud te bekom; wat is wysheid werd as “goud kan dit nie koop nie…” (Job 28:15). Waar dan moet jy gaan? En dit ontdek Job: “Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid” (v23).
Om te dink dat die blyplek van hierdie waardevolste van waardevolle in die mens gevind sal word! Maar nie enige mens nie; net die mens wat die Here dien en die kwaad vermy (aldus v25). In wêreldse standaarde is dit dwaasheid – waar sien jy die eenvoudigste mens en die een met aansien word oor dieselfde kam geskeer! Tog, dit leer ons later in die Nuwe Testament ook: “wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense…” (1 Kor 1:25). God werk anders as wat ons ooit sal verwag - by God kry die nederige altyd rykdom!
GEBED: Here, leer my nie met die wêreld se standaarde die lewe te evalueer nie, maar met U standaarde.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 2 van #WeesWys luister ons na die Grammy-bekroonde Tamela Mann se vrystelling van 'n pragtige nuwe enkelsnit, "Superheroes Prayer". Die ballade, grasieus uitgevoer saam met mede-vokale kragstem Yolanda Adams, is geskryf en vervaardig deur bekroonde Kirk Franklin.
"So dikwels soek ons na iets, iemand, om ons te help en ons hoop te gee, en nie te besef waarna ons soek nie, was nog altyd daar," sê Tamela Mann. "God is ons hulp en hoop, en Hy is altyd beskikbaar vir ons. Hy is die uiteindelike Superheld."
https://youtu.be/LForEtUFKDI
“Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks” (Spr 9:2)
Niks in die lewe – behalwe genade – val in jou skoot nie. Om ‘n gelukkige huwelik te hê vra harde werk; om ‘n suksesvolle besigheid op die been te bring vra matelose opoffering; om ‘n goeie verhouding met jou kind te hê, vra toewyding. Net soos met geduld word ‘n mens nie met wysheid gebore nie; jy leer by ander wyse mense hoe om wys te wees. As jy wysheid kortkom, so leer Jakobus, dan moet jy daarvoor bid en God sal dit vir jou gee (Jak 1:5). Maar, selfs om te bid, vra ‘n doelbewuste keuse en toewyding.
Wysheid – vir my – is ‘n ingeoefende gawe om vanuit God se perspektief na omstandighede te kyk. Soos Paulus in Rom 12:1-2 sê, net mense wat hulself “as lewende en heilige offers” aan God gee, sal mense se denke sal vernuwe word. Eers “dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Wysheid is ‘n sekere onderskeidingsvermoë – en Fil 2:9-10 leer dat jou daarvoor liefde moet hê wat “toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”
Met die Bybel as ons riglyn; die lewe as ons leerskool; medegelowiges as rolmodelle, en die Heilige Gees as Helper, het ons álles wat nodig is om wysheid te bekom.
Wysheid, so leer die Bybel “begin by die dien van die Here” (Spr 9:10). Wysheid loop dus hand-aan-hand met gehoorsaamheid aan die wil van God. Geloof in (en gehoorsaamheid aan) God is dus die beginpunt van wysheid, maar dit is dan weer wysheid wat die vrugbare grond bied waarin ons geloof in God kan floreer.
Mag wysheid soos ‘n boom groei, sodat die skadu daarvan vir ander begeerlik sal word.
GEBED: Here, ek wil vanuit U perspektief na die lewe kyk … leer my daarom om U te dien!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 1 van #WeesWys kyk ons na die liriekvideo van die lied “Perfect Wisdom of Our God” deur Keith en Kristyn Getty.
Uit die liriek:
Oh grant me wisdom from above,
To pray for peace and cling to love,
And teach me humbly to receive
The sun and rain of Your sovereignty.
Each strand of sorrow has a place
Within this tapestry of grace;
So through the trials I choose to say:
"Your perfect will in your perfect way."
Keith en Kristyn Getty is vooraanstaande moderne gesangskrywers in die wêreld, met 'n ongelooflike katalogus van liedjies wat regoor die wêreld gesing word, insluitend die bekende gesang, "In Christ Alone”. Gebore in Noord-Ierland en gebaseer in Nashville, is hulle multi-bekroonde kunstenaars met Keith wat die eerste musikant van die moderne era is wat die Ridderlike Orde van koningin Elizabeth II ontvang het vir diens aan musiek en gesangeskryf.
https://youtu.be/hSnzYnOe6kI
Dertig dae gelede het ons hierdie reeks begin met die herinnering dat ons “vrye toegang het tot 'n kragbron wat met 'n sterk stroom - ononderbroke - vloei waarby ons mag inprop. 'n Kragbron direk uit God se hand! 'n Brandpunt wat die gloed van God kan laat skyn.”
Met Jesus se hemelvaart het Hy (in Hand 1:9) beloof, “Julle sal ‘KRAG’ ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom”. Onbeperk. Vrylik beskikbaar. Dit is ons geskenk. Intussen het Pinkster aangebreek. Die krag is oor ons uitgestort.
Vir jou en myself bid ek ook die woorde toe wat Paulus vir die gemeente in Kolossense gebid het: “Mag ons vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag (aan ons) alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard” (Kol 1:10-11). Dank God dat ons nie hierdie werk uit ons eie hoef te doen nie, maar dat dit juis God is wat “deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan ons die krag sal gee om innerlik sterk te word" (Ef 3:16.)
Baie dankie dat jy hierdie Pinksterreeks saam met my gevolg het. Mag die Gees van Wysheid ons met ons nuwe reeks bystaan wat van môre af die tema van wysheid voortsit.
GEBED: Kom, o Skepper Gees,
Lewendmakend Gees;
Kom in al U volheid.
Kom in al U krag.
Lei my in U waarheid;
Leer my van die Vader en Seun.
Wees U ook my Trooster.
Kom, o Skepper Gees.*
(* aangehaal uit die Liedboek No 23)
KUNS-INSPIRASIE: Ikoon deur onbekende skrywer, “Uitstorting van die Heilige Gees”, 12de eeu, in die Nasionale Museum van Georgia.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Paslik kyk ons op Dag 30 van #Brandpunt na Stefan Ebersohn se musiekvideo van “Kom, o Skepper Gees”. Stefan, wat ’n musiekstudio bedryf in Polokwane, het verskeie ander verwerkings wat op YouTube en ander stromingsplatforms geluister kan word.
https://youtu.be/UIhb9eyEHHY
In “Spirit at Work” skryf Craig Keener, “Stel jouself voor jy besoek 'n dorp in die nag waar geen ligte skyn nie, geen televisies speel nie, of geen ander kragtoestelle werk nie. (Klink bekend, nè…) Maar, stel jouself voor dat jy ontdek dat die dorp nie ‘n probleem met kragopwekking het nie. Dit is bloot dat niemand in die dorp daaraan dink om hulle elektriese toebehore te gebruik nie. Alles is beskikbaar, maar almal sit in die donker. Jy sal net jou kop skud! Soveel keer funksioneer die Kerk soos daardie dorp. God het aan ons die kragtige werking van Sy Gees gegee, sodat ons ons roeping in die wêreld kan vervul, maar hoeveel van ons maak werklik van God se krag gebruik?”
Dit is waar, jy kan net daarvan gebruik maak as jy daarvan kennis dra. Maar juis te meer – ons doen! Dit is nie dat ons ons roeping moet volvoer vanuit ons eie krag nie! Nee, soos Paulus herinner: “Die krag van Christus kom juis tot volle werking wanneer ons swak is” (2 Kor 12:9-10). Maar luister net hoe getuig Paulus, “Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God” (Rom 15:18-19).
Daar is werklik geen beproewing of uitdaging te sterk om ons roeping as gelowiges uit te leef nie! Soos Paulus ons herinner, “(Ons) is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee” (Fil 4:13). En God, wat die “bron van hoop” is, sal jou met al die vreugde en vrede vul, deur jou geloof, “sodat jou hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees” (Rom 15:13).
GEBED: U is my bron van hoop! Dankie dat U Gees my sterk en getrou maak.
KUNS-INSPIRASIE: Christus in die woestyn, 1939 (Olie op Doek), deur Gustave Van de Woestijne. Gustave was 'n Belgiese ekspressionistiese skilder. Hy behoort aan die sogenaamde "First Group of Latem", 'n groep kunstenaars wat in die landelike dorpie Sint-Martens-Latem aan die oewer van die Lys, naby Gent, gewerk het. Hy was die broer van die Vlaamse digter Karel Van de Woestijne.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 29 van #Brandpunt kyk ons na die liriek-video van Jesus Culture se lied “Holy Spirit”.
Uit die liriek:
I've tasted and seen
Of the sweetest of Loves
Where my heart becomes free
And my shame is undone
In Your Presence Lord
Holy Spirit You are welcome here
Come flood this place and fill the atmosphere
Your Glory God is what our hearts long for
To be overcome by Your Presence Lord
https://youtu.be/qNwnOfZ5N8A
From the publisher's feed