
Sign up to save your podcasts
Or


Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.” (Spr 3:27).
In 1973 het twee dosente ‘n navorsingsprojek met 40 teologiestudente van die Princeton Teologiefakulteit gedoen. (Dit staan bekend as die “Van Jerusalem na Jerigo-studie”.) Die studente het van niks geweet nie! Hulle is ingedeel in twee groepe: sommige moes ‘n lesing gaan aanbied oor werksgeleenthede vir predikante; die ander groep moes praat oor die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37). Elke student het ‘n afsonderlike tydsgleuf gekry om sy lesing aan te bied. Uitdruklik is herhaal dat niemand laat mag kom nie. Omdat die lesinglokale aan die ander kant van die kampus was, moes sommige behoorlik hardloop om betyds te wees; ander sou vinnig moes stap; die laaste groep het ‘n raps meer tyd gehad. Wat nie een geweet het nie, is dat daar – oppad na die lokale – ‘n akteur sou wees wat maak asof hy hulp nodig gehad het.
Wie sou stop om te help? Sou almal stop - hulle was immers teologiestudente? Toe nie. Sou minstens hulle wat oor die barmhartige Samaritaan moes praat stop? Nee, ewe veel van die twee groepe het gestop. Sou álmal wat rus-rus kon stap help? Nee, slegs 65% uit die groep het gestop. Van die wat bietjie meer tyd gehad het, het 40% gehelp. ‘n Skamele 10% van hulle wat haastig was het gestop. (Die meeste uit die groep het gesê hulle het glad nie eers die man raakgesien nie!) Een ding was van álmal waar: niemand wou laat kom by hulle lokaal nie. (Niemand het dus aangebied om die “akteur” na ‘n dokter/hospitaal te neem nie.)
Iemand het eenmaal gesê, haastig-wees is nie “van die bose” nie, dit is die bose self. Leef jy so met jou oog op die horlosie/selfoon/rekenaarskerm dat die lewe by jou verbygaan?
GEBED: Here, vergewe my dat ek miskyk waar ek moet raak.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 27 van #WeesWys kyk ons na die nuwe video-opname van die a capella-koor VOCES8 se uitvoering van Anton Bruckner se motet “Locus Iste”.
’n Motet is 'n vokale musikale komposisie, van hoogs uiteenlopende vorm en styl, van hoë Middeleeuse musiek tot die hede. Locus iste (Afrikaans: Die plek), 'n motet wat in 1869 deur Anton Bruckner gekomponeer is. Die teks is in Latynse vir die jaarlikse viering van 'n kerk se toewyding. Die inleiding “Locus iste a Deo factus est”, beteken "Hierdie plek is deur God gemaak". Bruckner het dit vir vier onbegeleide stemme gekomponeer vir die inwyding van die Votivkapelle (stemkapel) by die Nuwe Katedraal in Linz, Oostenryk, waar Bruckner 'n katedraalorganiseerder was. Dit was die eerste motet wat Bruckner in Wene gekomponeer het. Dit is in 1886 gepubliseer
Liriek:
Locus iste a Deo factus est, inaestimabile
sacramentum irreprehensibilis est.
This place is made by God, inestimably
sacred, irreprehensible.
https://youtu.be/udZCjXbwkzk
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
“Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.” (Spr 16:24).
Ons het nou al meer as een keer gekyk na die krag van woorde, maar kan ons genoeg daaroor praat – veral in ‘n wêreld waar mense mekaar met woorde vernietig. Skewe woorde vir iemand gesê kan net so diep sny soos oneerlike woorde wat met ‘n heuningkwas soet gemaak word. Tog is dit ook waar wat die Amerikaanse President, Benjamin Franklin, gesê het: “Skelwoorde maak geen vriende nie: 'n lepel heuning vang meer vlieë as 'n liter asyn.” Dis waar, met vriendelikheid kry ‘n mens veel meer reg as met ‘n gebrom!
Die wyse mens wat hierdie spreuk verstaan, weet dat dit nie oor “stroperige” (oordrewe) soet woorde gaan nie; dit gaan oor iemand wat verstaan dat woorde die krag inhou om aan ‘n stukkende lewe weer hoop te gee. ‘n Mens kry sulke mense: as jy in hulle teenwoordigheid was (selfs al praat hulle hoe min) gaan jy vandaar met blymoedigheid weg. Woorde kan inderdaad salwend wees vir die een wat dit ontvang!
Die Direkte Vertaling sê dat “Vriendelike woorde is ‘n heuningkoek wat oorloop – soet vir die keel en helend vir die gebeente.” Heuning was beskou as die “nektar van die gode” – dit was ‘n heilige produk. Heuning kon ‘n septiese wond genees; dit was gebruik om allergieë te beveg. Selfs die beloofde land was beskryf as ‘n “land van melk en heuning” – ‘n land wat oorloop met God se goedheid. In 1 Sam 14:27 lees ons hoe Jonatan “die punt van sy kierie in 'n heuningkoek gesteek en daarvan geëet het. Dit het hom nuwe krag gegee.”
Sulke wyse raad: spreek eerder lewe oor iemand as dood; spreek eerder woorde van hoop as uitsigloosheid; aanvaarding as verwerping. Spreek opstandingswoorde. Verlossingswoorde. Helende woorde.
GEBED: Mag my woorde vandag vir iemand soet soos heuning wees, Here.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 25 van #WeesWys luister ons na die nuwe vrystelling van “Holy - Song of Ages” deur die The Worship Initiative saam met Shane & Shane.
Uit die liriek:
In Your hand is the life of every creature
The breath of all mankind in You began
Your promises are written in creation
Oh, everywhere I look I see Your plan
Even the rocks cry out, so I'll cry out
Heaven and earth will sing, so I'll sing
Holy, holy, holy, Lord God Almighty
You'll find me singing worthy, worthy is the Lamb
Yes, You are, Lord
https://youtu.be/4D-gG2PyD1c
Augustus 2022 is oor enkele dae ‘n realiteit . Daar is – naas Desember – seker nie ‘n maand wat by my soveel emosies wakkermaak nie. Ek is as ‘n Augustusbaba in die Vrystaat gebore. As getoë Noord-Vrystater is Augustus vir my sinoniem met aaklige stofstorms (wat ons met liefde moes aanvaar, “want dit bring bring reëns” soos my oupa sou sê.) Later jare, as Johannesburger, was Augustusmaand daar weer sinoniem met alewige veldbrande (maar, danksy vroeë reën – ja, danksy die stofstorms – bring dit weer die mooiste Hoëveldgroenigheid). Augustus is juis die voorloopmaand vir die lente. Dan natuurlik, is dit ook Vrouemaand!
Die blogger, Khuana Anthonia, het iets geskryf wat my hart roer - noem dit haar ode aan haarself: “Ek weet nie van jou nie, maar ek is 'n geskenk vir my generasie,” het sy gesê. “Ek is 'n geskenk vir die wêreld – want, ek het 'n stem om gehoor te word. Ek wil ‘n positiewe impak in die wêreld maak. Ek wil 'n groot krag wees om mee rekening te hou. Dit is die krag wat ek as vrou het.”
Min woorde is so kragtig soos die woord impak. Om ’n impak te hê is veel groter as om in invloed uit te oefen. Die woordjie “invloed” kom van ‘n Latysen woord “influentia " wat letterlik beteken om in te vloei. Die probleem met “influentia” is dat die “in + vloei-proses” net so vinnig kan stop. Soos ‘n kraantjie wat toegedraai word.
Impak, daarenteen, is om ‘n sterk, kragtige invloed uit te oefen. Dit maak ‘n diep, sigbare en blywende verskil. Soos die bekende GK Chesterton gesê het, “As gelowiges wil ons nie saam met die wêreld sal beweeg nie. Ons wil gelowiges wees wat die wêreld sal beweeg.” Hierdie verandering moet positief wees, blywend.
Augustusmaand se daaglikse meditasies is ‘n nadenke oor die woord “impak”. EK nooi jou om saam met my karakters in die Bybel te bestudeer (veral ook vrouekarakters) wat ‘n groot impak op mense gehad het; soms negatief; ja, maar veral positief. Ek en jy, as gelowiges op wie Jesus se lewe so ‘n groot impak het, word uitgedaag om gereeld oor ons roeping en verantwoordelikheid n ate dink: gaan ons nalatenskap dié wees van mense wat “suutjiesrig” geleef het? Of leef ons vanuit die “dunamis” waaroor Paulus in Ef 1:19 skryf: die kragtige werking van God in hulle wat glo?
https://youtu.be/awJgplOkxH8
Sou jy wonder: ek is 'n opgeleide teoloog en wy my lewe daaraan om verantwoordelik met die Bybel te probeer omgaan. Dit is my roeping om mense toe te rus om in hulle geloof te groei. Daar is ‘n plek vir alle invalshoeke, maar ek verkies om vir mense te skryf wat al deur die meule van die lewe gegaan het en nie met oppervlakkige antwoorde tevrede is nie. (Dalk skryf ek vir myself, oor dit wat ek nog moet leer, oor die vrae wat die lewe by my wakker maak, oor die werk van die Gees in my eie lewe.)
Ek nooi jou uit om die daaglikse meditasie-boodskap op Facebook, Instagram en op ons webwerf te lees en op potgooi daarna te luister.
Jy kan ook dit daagliks per WhatsApp ontvang, maar ingevolge die nuwe Popi-wetgewing moet jy self daarvoor inteken op die skakel onder. (Behalwe as jy reeds deel van ons daaglikse WhatsApp groep is).
Jy kan daarop staatmaak dat die boodskappe altyd op dieselfde tyd, via whatsapp, uitgestuur word. Jy kan kies tussen 21:00 of 06:30 vir jou dagstukkie se lewering. Ons deel ook ekstra inligting, video's en selfs musiek op Facebook en Instagram en die webwerf.
Hierdie boodskapreeks werk op ‘n vrywillige donasie basis. Bydraes word wel opreg waardeer. Ek is dankbaar vir die gawe van woorde en tegnologie om steeds in God se koninkryk te kan werk. Jou bydrae maak dit moontlik .
Klik en lees meer oor die reeks: https://ronellbezuidenhout.co.za/impak
Agtergrondmusiek: Phil Wickham se Hymn Of Heaven (Instrumental)&nbs
“Vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag, is daar minder hoop as vir 'n dwaas” (Spr 26:12).
Is daar iemand wat dommer is as ‘n dwaas? Ja! Iemand wat dink hy weet alles. Vir ‘n dwaas is daar hoop, want hy kan nog leer (as hy wil). Maar iemand wat dink dat hy alles weet, wat is daar dan nog om te leer? Ons het mos ‘n gesegde: daar is niemand so blind soos die een wat nie wil sien nie.
In Jes 42:20 lees ons van God wat die volk Israel in die beskuldigde bank het. Die klag teen hulle: “Julle het baie gesien, maar julle slaan nie ag daarop nie, julle het gehoor, maar julle luister nie.” Waarskuwing op waarskuwing het gekom, maar steeds was daar ‘n hardnekkige koppigheid by hulle. Dit is amper soos aan die gemeente van Laodisea van wat oor hulself gesê het, “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en tog weet hulle nie hoe “arm, blind en kaal” hulle regtig is nie (Op 3:17).
Ons het almal blindekolle in ons lewens. Die probleem is dat ons nooit ons eie blindekolle kan raaksien nie; ons het altyd ander mense nodig om dit vir ons uit te lig. Soos John Ortberg in een van sy boeke skryf: “Wie ek is en wat ek doen moet altyd bevraagteken word. Op ‘n gereelde basis. Deur mense wat my ken en liefhet. Daarom kan ons nooit gelowiges ‘op ons eie’ wees nie.”
Iemand met ‘n leerbare gees, is iemand wat van nederigheid ‘n boesemvriend maak. Iemand het eenmaal gesê nederigheid is nie ‘n natuurlike “menslike” eienskap nie – dit is ‘n vrug van die Heilige Gees. Daarom het Jesus vir ons kom wys hoe lyk dit om “sagmoedig en nederig van hart” te wees (Matt 11:29).
GEBED: Heilige Gees, hou my nederig en leerbaar, sodat ek wysheid kan bekom.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 24 kyk ons na “Tshela Moya Ke nna yo Morena” deur die Tuks Camerata-koor onder leiding van dr. Michael Barrett.
Tshela Moya Ke nna yo Morena is 'n kombinasie van pragtige tradisionele Suid-Afrikaanse lofliedere. Dit kan gewoonlik gehoor word gesing in oomblikke van dankbaarheid en viering binne gemeenskappe regoor die land.
Uit die liriek:
Pour down spirit, pour down spirit, pour down the Holy Spirit
Lord, Messiah, pour down the Holy Spirit
Eyes are piercing like bows/spears as they fight for the Lord
Here I am, here I am, here I am Lord, here I am I have arrived
https://youtu.be/aXcttZVhf0s
“Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak?” (Spr 6:28).
Van hartstog gepraat (n.a.v. #22), daar is inderdaad ‘n ander hartstog waaroor Spreuke skryf, en dit is die “vleeslike hartstog” - hy beskryf dit as vuur wat jy in jou liggaam voel brand vir wat nie “joune” is nie. Jy mag dalk nou dink - pfieu! - gelukkig is dit nie een van jou “probleme” nie, maar wag, voordat ons te vinnig aanblaai na ‘n ander spreuk, dalk hou hierdie teksvers tog vir ons ‘n baie wyse les in…
Ons word elke dag onderwerp aan hordes versoekinge - soms baie subtiel, ander kere weer baie direk. Die grootste versoeking is waarskynlik om versoekinge te ontken. ‘n Versoeking is niks anders as ‘n toets van ons integriteit nie. Weerstaan ons die versoeking, word ons karakter versterk – wat beteken dat ons dan “al meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word” (2 Kor 4:18). Gee egter aan die versoekinge toe, weerstaan ek die vormingswerk van God! Om die waarheid te sê, dan breek ek af wat God vorm. Dit is wat dit beteken om my doel te mis – om nie te word wat jy bedoel is om te wees nie. Om aan sonde te dink as diefstal teen jouself is al erg genoeg; maar om te dink dit is eintlik vir God wat jy te na kom, dít is nóg erger! Juis daarom het Dawid bely dat sy sonde nie teen Urria en Batseba was nie, maar “teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps 51:6).
Spr 24:28 vra, “Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?” Dit is ‘n vraag waaroor ons maar elke dag kan nadink.
GEBED: Dankie vir genade dat ek oor my lewenskeuses kan nadink, Here.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 23 van #WeesWys luister ons na “Genade Onbeskryflik Groot” deur Leza Liversage.
Uit die liriek:
U het gekom vir my gebrokenheid
My sagkuns kom optel uit my seer
En ek sal bly sing van U goedheid
My wese sal bly uitroep dat U leef
Genade onbeskryflik groot
Het U aan my bewys
U liefde onbegryplik groot
Verander my
Kom leef in my
https://youtu.be/XBONXQ4qlWM
“'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond; hartstog vreet 'n mens op” (Spr 14:30).
'n Wyse mens beskerm die gesondheid van hulle hart soos jy ‘n rare edelsteen sal bewaar. Hoe doen jy dit? Hoe? Hou hartstog uit jou lewe - dit bring onrus in jou gemoed. Maar wag net, nie sommer enige hartstog nie. So het die psalmdigter byvoorbeeld ‘n brandende begeerte na God gehad, soos ‘n bok wat na water smag (Ps 42). Maar wanneer hartstog jou van binne af opvreet, dan het die vroeë christene dit die “siekte van die siel” genoem het. In Spreuke is hierdie hartstog alle naywer; jaloesie; kompetisie met ander; om jou lewe en jou omstandighede te vergelyk met ander s’n (veral met die ongelowiges). Dit vreet jou van binne af op, soos daardie fungus wat stil-stil van binne af die houtbalke vrot en waardeloos maak. Juis daarom is ‘n direkte vertaling van Spr 14:30, “’n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente.”
Paulus skryf in Fil 4:7, “Moet oor niks besorg wees nie.” Hoe goed weet ons nie dat bekommernis (soos jaloesie en bedrog) aan ‘n kalm gemoed vreet! “Maak in alles julle begeertes (m.a.w. hartstogte) deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Ons weet dat die “siekte van die siel” letterlik ons lewensjare kan verkort! Daarom skryf Paulus: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Dít is die beproefde resep waarmee jy die “verrotting in die gebeente” kan keer.
GEBED: Laat niks my my kalmte van gees ontneem nie, Here.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 22 van #WeesWys kyk ons na die musiekvideo van Lauren Daigle se lied “You Say”.
Uit die liriek:
You say I am loved
When I can’t feel a thing
You say I am strong
When I think I am weak
You say I am held
When I am falling short
When I don’t belong
You say I am Yours
And I believe
I believe
What You say of me
I believe
The only thing that matters now is everything You think of me
In You I find my worth, in You I find my identity
https://youtu.be/sIaT8Jl2zpI
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 22 van #WeesWys kyk ons na die musiekvideo van Lauren Daigle se lied “You Say”.
Uit die liriek:
You say I am loved
When I can’t feel a thing
You say I am strong
When I think I am weak
You say I am held
When I am falling short
When I don’t belong
You say I am Yours
And I believe
I believe
What You say of me
I believe
The only thing that matters now is everything You think of me
In You I find my worth, in You I find my identity
https://youtu.be/sIaT8Jl2zpI
“Die Here het 'n afsku van mate en gewigte wat nou sus en dan so is” (Spr 20:10).
Die woord “integriteit” is afgelei van ‘n Latynse woord wat heelheid beteken. As jy met integriteit leef kan mense op jou staatmaak as deurlopend betroubaar. (Integriteit beteken nie om perfek te wees nie; dit beteken minstens om eerlik en deursigtig te wees oor jou eie tekortkominge.) Wie van ons sal stry dat een van die grootste geskenke wat enige ouer ons samelewing kan bied, is om ‘n kind integriteit te leer. G’n wonder dat net ‘n paar verse vroeër die skrywer juis sê, “Wie reg doen en eerlik lewe – met sy kinders gaan dit altyd goed” (20:7). Die probleem is net dat ‘n mens nie integriteit vir iemand kan leer nie; jy moet dit vir iemand illustreer.
Die Spreukeskrywer gebruik die voorbeeld van skale wat so bietjie “gedokter” word. (Onthou: nie te veel nie, want dan word jy uitgevang … ) Maar dit gaan nie net oor besigheidstransaksies nie, dit gaan sommer oor eerlikheid in die algemeen. Daarom het die skrywer van 1 Kron 29:17 gesê, “Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê.”
Dit is ‘n geweldige gedagte om te dink dat God se reputasie gebou word op gelowiges se gedrag. Of anders gestel, christene dra die “DNA” van Jesus in ons gedrag. Juis daarom is deurlopende betroubaarheid so belangrik! Die plek waar ons DNA die duidelikste sigbaar is, is die wyse waarop ons God met ons hele hart liefhet, en ons naaste soos onsself. Dit is waar die “integriteitstoets” daagliks aan ons gestel word. Dan maak Alan Simpson se woorde soveel sin: “As jy integriteit het, maak niks anders saak nie. As jy nie integriteit het nie, maak niks anders saak nie.”
Laat alles wat jy vandag doen saak maak!
GEBED: Uit myself, Here, is integriteit onmoontlik, maar nie as dit van U kom nie.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 21 van #WeesWys kyk ons na die Multi-Grammy genomineerde kunstenaar en liedjieskrywer Cody Carnes se nuwe musiekvideo "Be Glad".
"'Wees bly' is 'n lied reguit uit die Skrif en vol vreugde en lof," deel Cody Carnes oor die inspirasie agter die nuwe snit. “Psalm 118 sê: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons bly wees en ons daarin verheug!’ Daar kan baie redes wees om enigiets anders as blydskap te kies. Dit is maklik om 'n rede te vind om hartseer, kwaad, gefrustreerd of hopeloos te wees. Maar die Bybel sê dat ons 'n rede het om vandag bly te wees. Jesus het ons gered en verlos. Sy genade was splinternuut toe jy vanoggend wakker geword het. Trek dus 'n bietjie vreugde aan en aanbid die Here vandag! Ek hoop hierdie liedjie help jou om dit te doen."
https://youtu.be/DHTszgzcADI
“Blydskap laat 'n mens se gesig straal; … die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees” (Spr 15:13, 15).
Hoe ouer ek word, hoe meer ontdek ek dat ons ons eie lewens kies. Nee, daarmee bedoel ek glad nie dat ons ons omstandighede kies nie. “Life happens” sê ons mos almal. Baie dinge gebeur met ons waaroor ons werklik nie beheer het nie. Maar, het ek maar vroeër in my lewe geleer dat ek kan kies hoe ek na my omstandighede kan kyk, dan sou baie van my slegter omstandighede dalk glad nie so sleg daar uitgesien het nie. Dit is wat hierdie wysheid ons wil leer: oor jou omstandighede het jy nie beheer nie; oor jou ingesteldheid het jy altyd beheer. Jy kies hoe jy oor iets voel!
Dit is waar wat David Steindl-Rast ons leer: dit is nie blydskap wat van ons dankbare mense maak nie; dit is dankbaarheid wat van ons blymoedige mense maak. Hy het juis ook gesê dat ons nie óór alles wat gebeur dankbaar kan wees nie (daarvoor is daar darem werklik te veel slegte dinge wat gebeur), maar ons kan steeds te midde van alle omstandighede kies om dankbaar te wees.
Prof. Normin Cousins, die skrywer van “Anatomy of an illness”, het aan ‘n seldsame en pynlike immuunsiekte gely. Hy het agtergekom dat sy pyn meer beheerbaar gevoel het nadat hy na ‘n komedie gekyk het wat hom laat lag het. Wie sou nou ooit dink dat lagterapie vir mense in pyn daarna voorgeskryf sou word! Maar, dalk moes ons net vroeër al vir Salomo ernstig opgeneem het, toe hy skryf: “'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput” (Spr 17:22).
Kies vandag met watter ingesteldheid jy wil leef. En onthou om te lag.
GEBED: Dankie dat U my die vermoë gee om van my lewe ‘n fees te kan maak.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 20 van #WeesWys luister ons na Chris Lamprecht se “Here hoe Blymoedig” uitgevoer op orrel deur dr Gerrit Jordaan in die Moedergemeente op George.
Chris is in 1927 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal en behaal in 1948 die graad B. Mus aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy verwerf sy Voordraerslisensiate in klavier, orrel en sang aan aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Tydens sy studietyd oorsee het hy aanvanklik in Wenen orrel- en sanglesse gehad en repetisies van die Weense Seunskoor bygewoon.
Hy spesialiseer in kerkmusiek aan die Westfälische Kirchenmusikschule in Herford, Duitsland, asook in komposisie, koorleiding en sang. Gedurende dié tydperk, publiseer hy sy eerste orrelkoraalvoorspele Gaan Deur Sy Poorte (Dertien koraalvoorspele vir orrel, 1955) in Duitsland.
Verskeie toekennings word oor die jare aan hom toegeken, waarvan hy die mees onlangse Andrew Murray FAK prys vir gewyde musiek in 2016 ontvang.
Sy lewenstaak was om toeganklike musiek te skrywe vir sy kerk en sy eie mense, deur die gawe wat hy van die Here ontvang het.
https://youtu.be/kThNmfBWtMA
“Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom” (Spr 6:6).
Salomo was nie net geag as die wysste mens op aarde nie, maar ook die rykste (aldus 1 Konings 10), tog was professore en besigheidsmagnate nie die koning se leermeesters nie, maar die kleinste en onbenulligste van alle insekte: die mier. Hou hulle dop, en jy sal sien, “miere is nie sterk nie en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg” (Spr 30:25). Met wie praat Salomo hier? Nou kan die flukses onder ons maar ore toedruk - hierdie lewensles is gerig aan die wat graag lyf wegsteek. Hoor hoe spot hy: “nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap…” (Spr 24:33-34).
Wat is die lewensles wat ek vandag leer? Ja, die luies moet luister! Maar ook die werkoholiste. Want ons word nie uitgedaag om méér te werk nie, maar om vir die regte dinge te werk. Anders as mense werk miere nooit vir hul eie gewin nie. Al die geskarrel om kos na die nes toe te dra is ter wille van die ganse kolonie miere se beswil. Een mier sorg vir almal. Almal sorg vir een. My hart word warm as ek dink aan mense wat net nooit moed opgee nie! Ek ken gemeentes wat besluit dat hulle nie ‘n gemeenskap aan hul eie lot gaan oorlaat nie, en inspring om ‘n verskil te maak; besigheidsmanne wat hande vat en besluit om die dorp se paaie op te knap; vroue wat ander leer naaldwerk doen en daarmee hoop vir gesinne skep. Ek ken soveel inspirerende verskilmakers – jy is dalk een van hulle…
Soms voel ons sosiale probleme te groot; maar vandag skep ek moed! Dalk is die saamwerk van miere vir ons ‘n les?
GEBED: Here, inspireer my vandag soos U vir Salomo ook inspireer het.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #WeesWys-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 19 van #WeesWys luister ons na die pas vrygestelde “For God Is With Us” van die groep For King + Country. Hillary Scott tree saam met hulle op.
Uit die liriek:
Can you hear the prayers the people prayed?
Can you see the skies begin to break?
When Heaven and Earth were face-to-face
Oh, how the world forever changed
For God is with us
https://youtu.be/w87nhz4DrfI
From the publisher's feed