Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 15 van Meditasie-reeks #Impak

    Waarom dit waardevol is om met die vergrootglas die (bybel)geskiedenis te bestudeer, is omdat jy in enkele paragrawe die impak van God op iemand se lewe kan ontdek, wetend, as God dít met gewone mense gedoen het, God dit ook met ons lewens kan verrig.  Soos Paulus skryf:  “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees” (Rom 15:4). Ons geloofsvoorouers se stories is bemoedigend; dit inspireer ons om standvastig te bly.  Dit bring hoop, veral wanneer ons hooploos voel.  Dít is hoe God se impak in menselewens werk!  

    God se eerste woorde aan Moses by die brandende doringbos was, “Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. …Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” (Eks 3:5-6). M.a.w., God is nie ‘n god wat Godself besighou met gode nie.  Nee! Die Groot “Ek is” is die belofte-makende God wat aan mense verbind is.  Net soos Moses moes Josua (en elke geslag daarna) later ontdek dat God die houer van sy eie beloftes was. “Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het” (Jos 1:5-6).

    God is nie die God “van” die geskiedenis nie; want dan sou God saam met die geskiedenis moes “gesterf” het.  God is die God “in” die geskiedenis.  Soos Jesus herinner:   “(God) is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob - Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes” (Matt 22:32). 

    Die God “in” die geskiedenis, is die God “van” vandag.  Die Lewende God.


    GEBED:  Dankie dat U getrouheid U wese is.


    KUNS:  Brandende Bos. Sewentiende-eeuse skildery deur Sébastien Bourdon in die Hermitage Museum, St Petersburg.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    VIDEO EN MUSIEK: Op Dag 15 van #Impak kyk ons na ’n video-uitreksel van die “Brandende 
    Bos” deel waar God met Moses praat uit die Dreamworks-film “The Prince of Egypt”.   Luister na die pragtige film-musiek wat vir die gedeelte deur Hans Zimmer gekomponeer is. 

    https://youtu.be/6ds9y3lJGig

    4 min
  • Dag 14 van Meditasie-reeks #Impak

    In die geloofsgalery van Hebreërs 11 word daar na slegs drie vroue verwys: Sara, Jogebed (of dan “Moses se ouers”), en ‘n naam wat ‘n mens nie in “goeie” geselskap sou noem nie – t.w. Ragab, ‘n “rooi lig-meisie.”  

     

    As daar een storie in die Bybel is wat jou – met reg – jou wenkbroue laat oplig, is dit die verhaal in Josua 2.  Die storie maak net nie sin nie:  Josua stuur twee spioene oor die grens die land Kanaän in om dinge te gaan “uitkyk”, veral in Jerigo.  Dit moes wraggies die twee treurigste spioene gewees het, want sommer in die tweede vers soek hulle slaapplek vir die nag by die prostituut, Ragab, se huis.  Wat het hulle gedink!  Mense praat mos…  En toe kom die praat by die Kanaänitiese koning uit, en hy laat weet:  “Lewer die manne uit, of…” (Jos 2:3).  Vir haar eie koning vertel sy ‘n leuen dat die twee manne reeds weg is, terwyl sy hulle al die tyd “in die linnekas” versteek het.  Soveel drama, en dít net in ses verse!  

     

    Waarom?  Die rede gee sy later.  Die reputasie van julle God het ons bereik.  “Ons het gehoor wat by die Rooisee gebeur het; ons het gehoor dat julle God, die Here, God (is), bo in die hemel en onder op die aarde” (Jos 2:11).  

     

    Wat ‘n aangrypende verhaal van hoop!  Sy het net die verspieders se belofte dat hulle haar en haar familie sal kom red:  “Laat dit wees soos julle gesê het” (v21).  Dis al waaraan sy kon vashou, want sy het van hulle God gehoor.  

     

    God werk op vreemde maniere, want uit hierdie Kanaänitiese vrou se nageslag sou later die Hoop vir die wêreld gebore word.  Maar soos Ragab sou sê, “dit is hoe julle God is, die God bo in die hemel en onder op die aarde.”

     

    GEBED: Here, dankie vir die Ragab’s van die lewe wat my vandag kan inspireer.

     

    KUNS:  “Rahab III” uit herwinde material deur Thru His vessel JB prints. Lees meer: https://www.artpal.com/thruhisvesseljb

     

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     

    MUSIEK: Op Dag 14 van #Impak kyk ons na ’n video-opname van “Joshua!” deur die Stellenbosch Universiteitskoor. 

    Die verwerking is deur Stacey V. Gibbs en die koor is onder leiding van André van der Merwe.   Die opname is in Maart 2020 in die Endler-saal op Stellenbosch gedoen. 

     

    https://youtu.be/MHraYGGPSBQ

     

    4 min
  • Dag 13 van Meditasie-reeks #Impak

    Die Bybel vertel soms hartverskeurende stories!  Maar, dankie tog dat hulle nie uitgelaat word nie! Neem nou maar die verhaal van Hagar.  Danksy beide Abram en Saraï se ongeloof in die belofte van God word Hagar misbruik.  Maar sy word so sleg behandel dat sy wegloop.  By ‘n fontein ontmoet sy ‘n engel met ‘n boodskap:  Gaan terug, Hagar, die Here het van jou swaarkry gehoor.  En. net soos Sara hoor Hagar ook, God sal vir jou ‘n groot nageslag gee (Gen 16:9).  

    En daar hoor ons, die eerste en enigste keer dat dit in die Bybel verskyn, ‘n nuwe naam vir God – uit die mond van ‘n slavin:  “El Roi.” (In Afrikaans:  God het gesien.)  Dít is Hagar se naam vir God. Soos ons in v13 lees: “Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

    God se belofte laat haar terug keer; maar soms lyk dit asof ons dalk vergeet gehoor het; of dat God vergeet het.  Is God dalk nie “El Roi” nie?  Want, weereens vind Hagar haarself op vlug.  Die keer weggejaag a.g.v. Sara se jaloesie.  Dit breek jou hart om dit te lees:  “Hagar het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil” (Gen 21:14-16).

    En weereens staan die engel daar.  “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor” (21:17).  
    God sien nie net nie, Hagar, 
    God hoor ook! 
    Nog meer, God sal sorg!

    GEBED:  Dankie dat ek U ook kan noem, “El Roi”

    KUNS: “Hagar in the Wilderness” (1835) deur die Franse skilder  Camille Corot in olie op doek. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 13 van #Impak iets heel anders! Ons kyk na ‘n musiekvideo van die Indiese sangers Sam Jaideep en Patricia Jaideep se lied “El Roi: You are the God who sees me."  
    Die lied is in die Indiese-taal Tamil en is by die pragtige dorp Manali aan die voetheuwels van die Himalajas verfilm. 
    Sam skryf: “In today's dark and difficult times, when we feel insignificant and the most vulnerable, and sometimes even invisible, we can confidently rely on the Lord who sees us.”
    Volg gerus die Engelse liriekvertaling op die video. 

    https://youtu.be/lnGzdUv1_Hk

    4 min
  • Dag 12 van Meditasie-reeks #Impak

    Daar was besondere sterk vrouefigure in die Bybel wat groot invloed op hul volk gehad het, (dink nou maar aan Debora en Ester).  Maar daar was ook vroue wie min van ons ken omdat hulle net “terloops” in die stories verskyn.  Soos die verhaal van Abigajil in 1 Sam 25. Sy was getroud met Nabal (wie se naam toevallig “dwaas” beteken het … en hoe dwaas was hy nie!)  Só word Abigajil en Nabal beskryf:  “Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi, maar die man was 'n regte korrelkop en onbeskof” (v3).  “Brains & Beauty”, nogal!  Maar sy was ook ‘n strateeg wat planne kon maak; sy kon ‘n plofbare situasie met haar insig ontlont. 

    Ons almal ken sulke vroue: hulle wat in moeilike verhoudinge of situasies vasgevang is, maar in plaas van desperaatheid, “bestuur” hulle daardie situasies dat daar iets mooi uit dit gebore kan word.  Ons ken almal sulke vroue: hulle wat nie op wanhoop se hoop gaan sit nie, maar – soos Abigajil – inspring en vooruit beplan.  

    Dwase Nabal het die nuut-gesalfde Koning Dawid behoorlik te nagekom met sy arrogansie sodat ‘n bloedslagting onafwendbaar was.  Maar Abigajil laat nie op haar wag nie.  “Sy het vir haar slawe gesê: ‘Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.’ Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie” (v19-20).   Wanneer sy by ‘n wraakgierige Dawid opdaag, herinner sy hom dat God weet wat Dawid sou wou doen, en dat dit vir God verkeerd sou wees.  Waarop Dawid antwoord, “Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem” (1 Sam 25:33). 

    Dit neem braafheid om op te staan en iemand “hoër” as jy aan te spreek oor wat reg en verkeerd is.  Maar gelukkig het ons vir Abigajil as voorbeeld.

    GEBED:  Here, waar swyg ek dalk waar U wil hê ek moet praat.

    KUNS:  Handgekleurde druk-ets van Abigajil voor Dawid deur die Vlaamse kunstenaar  Marten de Vos (1585)

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 12 van #Impak kyk ons gepas vir hierdie vroue-maand na die nuwe musiek-video van “I See the Light” uit die die gewilde Disney-film “Tangled” deur die  BYU Vocal Point groep saam met Laura Osnes en die All-American Boys Chorus. 

    Uit die liriek: 

    All those days watching from the windows
    All those years outside looking in
    All that time never even knowing
    Just how blind I've been
    Now I'm here blinking in the starlight
    Now I'm here suddenly I see
    Standing here it's all so clear
    I'm where I'm meant to be


    https://youtu.be/BsQ6K0yJpkY

    4 min
  • Dag 11 van Meditasie-reeks #Impak

    Jogebed se kinders, Aäron, Mirjam en Moses, was al drie buitengewone leiers.  Manlike leiers in die Bybel ken ons goed, maar vroue in die posisies was ‘n rariteit.  Mirjam was ‘n besondere vrou:  sy het nooit getrou en kinders gehad nie (nie waarvan ons weet nie). Dit maak haar alreeds anders vir haar tyd, maar wat haar werklik besonders maak, is dat sy die eerste vroue profeet in die Ou Testament was. Eeue na haar dood is sy steeds daarvoor onder haar volksgenote onthou.  Luister na wat die profeet, Miga, oor haar skryf:  “Ek het jou uit Egipte gebring, … Ek het vir Moses gestuur om jou te lei, ook vir Aäron en Mirjam” (Miga 4:6).

    Die eerste keer waar ons haar naam raaklees is in Eks 15:20.  Sy was reeds ‘n ou vrou, maar met haar tamboeryn neem sy al die vroue agterna om te sing en dans.   Kan jy jou die prentjie indink, ‘n ou vrou wat dansend voorsing:  “Sing tot eer van die Here, omdat Hy hoog verhewe is.”  Daar is “iets” aansteeklik aan iemand wie se hart oorloop van dankbaarheid en verwondering!

    Dit is wat die stories van die Bybel vir my so inspirerend maak:  dit gaan oor gewone mense van alle ouderdomme, en nie een van hulle is perfekte mense nie.  Mirjam is ‘n goeie voorbeeld!  In Num 12 lees ons dat sy Moses teengegaan het (met slegte gevolge vir haar), maar dit is juis die leersame:  die sleg neutraliseer nie die goeie nie; en vir die goeie word sy later geëer.  Vir altyd sal sy die singende, dansende profetes bly!

    Mag ons tog geen mens (of onsself) gevange  hou van hulle tekortkominge en foute nie, sonder om nie die kollig ook op die inspirerende te laat val nie.   

    GEBED:  Vul my hart tot oorlopens, my Here, dat ek singend en dansend vir U sal leef. 

    KUNS: Washington Allston se skildery  “Miriam the Prophetess” (1821) in die “Maine and American Art: Farnsworth Art Museum”.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 1 van #Impak luister ons na “Sing Tot Eer Van Die Here” deur Anneli van Rooyen.

    Uit die liriek:

    Sing tot eer van die Here die Koning wat lewe
    So hoog en verhewe tot in ewigheid
    Sing tot eer van die Here die Koning wat lewe
    So hoog en verhewe tot in ewigheid
    Ons juig ons jubel voor Hom
    Die rots van ons heil
    Die Koning wat kom

    https://youtu.be/50hfBQJO3io

    4 min
  • Dag 10 van Meditasie-reeks #Impak

    Die Bybel is ‘n biblioteek vol stories van gewone mense; mense wie se name op die “ere-rol” gekom het as die “vormers” (“influencers”) van hul eie tyd.  In Hebreërs 11 stap ons selfs deur die helde-akker en luister na stories van hierdie mense – gewoon, ook met voete van klei, maar groot van geloof!   Tog is daar báíe wie se name nie daar verskyn nie. Dit is mos maar hoe die lewe werk:  min van ons bereik ooit die voorblad (of agterblad) van ‘n koerant.  
    Met Vrouedag pas agter die rug, wil ek ‘n paar vroue se stories laat herleef; veral hulle van wie ons dalk net eenmaal hoor.  Iemand soos Jogebed (Num. 26:59 en Eks. 2:1). Haar naam beteken “Die Here se eer.” (Dit is alreeds besonders – sy is die heel eerste mense in die Bybel met ‘n “goddelike naam”.) Sy het haar plek in die geloofsgalery ingeneem – al word daar net gepraat word van “Moses se ouers.”  Dit is haar “ma-wees” wat haar daar in die gallery gekry het – die ma van Miriam, Aäron en Moses.  Was haar derde kind maar ‘n dogter was daar geen vrees vir hierdie derde kind van haar se lewe nie.  Maar, soos enige ma, sou sy alles moontlik vir haar babatjie doen – selfs haar kindjie vir drie jaar lank wegsteek.   

    Was Jogebed soveel “anders” as ons?  Waarskynlik nie.  Maar, soos Samuel moes leer:  “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” (1 Sam 16:7). Sy was ‘n gewone vrou met ‘n gewone lewe met ‘n buitengewone God.  Maar, dan onthou ‘n mens ook weer C.S. Lewis se aanhaling, dat daar “in God se oë geen ‘gewone’ mens bestaan nie, net ‘buitengewones’”.

    Dit maak van my en jou elkeen ‘n Jogebed.

    GEBED:  Mag my lewe ‘n gewone buitengewone vir U wees, my Here. 

    KUNS:  Die Brasiliaanse skilder Pedro Américo se skildery  “Moses and Jochebed”  (1884).

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 10 van #Impak kyk ons na die liriek-video van die You Tube-violis Jennifer Jeon se “Jochebed's Song”.

    Uit die liriek:
    Your God is in complete control
    Your God is your father
    And in His hands
    I entrust Him with your life

    https://youtu.be/bqX2ZVE2BiI


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/











    4 min
  • Vrouedag-boodskap as deel van Meditasie-reeks #Impak

    Op Vrouedag moet ‘n mens jouself afvra of ons enigsens “vordering” maak in ‘n samelewing waar vrouens, bloot op grond van hul vroulike liggame, bedreig word.  

    Dalk sit jy rustig in jou veilige huis, in die geselskap van ‘n man wat jou respekteer en versorg; dalk weet jy hoe voel dit om ‘n pa en ooms en broers te hê wat jou veilig laat voel het. Dan is dit maklik om te wonder, “hoekom maak ons so ‘n groot ophef”?  Natuurlik dink on sook maklik dat geweld teen vrouens en dogters iets is wat net “aan die anderkant van die draad” gebeur. Dit is natuurlik ‘n leuen waarmee ons onsself blind hou.  In meer as 30 jaar se voltydse werk in gemeentes, kan ek nie eers meer onthou hoeveel vroue ek in terapie gesien het, gewone vrouens soos ek en jy, wat oorkant my gesit het met haar “storie”.  Dan besef ‘n mens, “dít is hoe geweld teen vroue lyk”:  soos ek en jy.

    Maak ons vordering in ‘n land?  Maak ons vordering as ons ‘n reputasie het as die land wat die hoogste risiko inhou vir vroue wat bv alleen reis?  Maak ons vordering as ons ‘n reputasie het dat 40% van alle vroue in Suid-Afrika kan verwag dat sy méér as eenmaal in haar lewe verkrag kan word? 
    EK wonder wat die 20 000 vroue sou sê wat op 9 Augustus 1956 aan die optog na die Uniegebou  deelgeneem het?  Sal hulle vir ons, die vroue wat nou, op 9 Augustus 2022, na al die praatjies en preke op vrouedag luister, sal hulle vir ons sê, “ons is trots op julle.” Of sal hulle vir ons sê, “was ons baklei vir vroueregte dan verniet”?

    Durf ons generasie ophou baklei?  Wat sê ons dan vir die 8 vroue wat onlangs deur ‘n groep mans verkrag is – herhááldelik.  Versaak ons hulle nie!  Durf ons ophou protesteer?  As die minister vir ‘n vrou wat verkrag word sê, sy moet dankbaar wees dat was net een man wat haar verkrag het en nie ‘n groep mans nie.  Ja, hy is reg.  Sy moet bly wees.  Máár – en dit is wat die minister nagelaat het om te sê – om deur één man verkrag te word is reeds een maal te veel.

    Maak ons vordering?  Waarskynlik “ja” en “nee”. Waarskynlik wil baie van ons net “nee” antwoord.  Want dit gaan ons denke moet verander; nie net hoe mans en seuns vroue en dogters hanteer nie; of hoe die samelewing stereotypes oor vroue koester nie; maar hoe vroue baie keer self daarvoor verantwoordelik is.  Hier is twee voorbeelde:  die anderdag kla ‘n tienerdogter - ‘n sterk dinamiese jong leier wat regtig nog ver in die lewe sal kom:  “My ma sê ek moet oppas, te sterk en dinamiese vrouens kry nie ‘n man nie”.   ‘n Sesjarige dogtertjie wat daarvan hou om saam met haar pa in die motorhuis te timmer se ouma sê vir die skoondogter, “julle maak haar mannietjiesagtig groot”.  

    Op Vrouedag moet ons onsself afvra watter tipe stereotipes hou ons – vrouens - steeds in stand?   
       
    Maar daar is gelyktydig ook wonderlike positiewe dinge wat ons kan vier.  Ons het soveel vroue om wie ons trots is.  Ma’s, susters, dogters, vriendinne.  Vroueleiers; vroue mentors; vroue geloofsleiers.  Vroue van formaat.  Vroue wat van die wêreld ‘n beter plek maak. 

    Dankie vir daardie vroue wat ons aanhou laat hoop dat daar ‘n dag mag kom waar vroue weer veilig in die strate mag loop sonder om oor hul skouer te moet loer; en veilig in hul eie huise mag wees sonder om ligvoets te moet trap.  

    Dankie vandag aan daardie vroue wat vir ons ‘n gesonder en heler wêreld help skep.   



    11 min
  • Dag 9 van Meditasie-reeks #Impak

    In ‘n boek van Craig Bishop* beskryf hy hoe ‘n ontluikende kunstenaar sy skildery van Jesus se laaste Avondmaal na die Russiese skrywer, Leo Tolstoy, neem vir kommentaar.  Tolstoy - ook ‘n kunsliefhebber - kyk en kyk, beweeg soms nader, dan staan hy weer verder.  Toe, met sy hand wys Tolstoi na die  hooffiguur in die skildery en sê, “Jy het Hom nie lief nie…”.  Uit die veld geslaan antwoord die kunstenaar, “Maar dit is Jesus Christus.”  “Ja, ek weet” sê Tolstoy, “maar steeds, jy is nie lief vir hierdie Jesus nie.  As jy Hom liefhet, sou jy Hom beter geskilder het.”  N.a.v. die storie sê Craig Bishop toe:  “Ons is dalk nie ontluikende kunstenaars nie, maar almal van ons is ontluikende volgelinge van Jesus.  Die wyse waarop die ‘kwaliteit’ van ons liefde vir Christus vir die wêreld sigbaar is, is die wyse waarop ons Hom en ons naaste dien.”  

    Die wyse waarop ons ons naaste liefhet en versorg, is ons geloofsgetuigskrif in die wêreld.  Of, soos Jesus sou sê: “Julle is die lig vir die wêreld.” (Sien ook Impak #8).  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt 5:16). Daarom skryf Paulus, “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is… ” (Ef 5:8-10).

    Weggesteekte, verskuilde lig beteken niks (aldus Matt 5:16)! Dit is soos ‘n liggaam wat nie asemhaal nie – dit is dood, skryf Jakobus. “So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jak 5:26).

    As Leo Tolstoy by my lewe sou kon kom staan, wonder ek wat sy kommentaar sou wees…

    GEBED:  HERE, mag my lewe ‘n kunswerk tot U eer wees.  

    KUNS:   “Die Laaste Avondmaal” is 'n laat 15de-eeuse muurskildery deur die Italiaanse kunstenaar Leonardo da Vinci. Dit is een van die wêreld se mees herkenbare skilderye in die wêreld. 
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 9 van #Impak kyk ons na die liriekvideo "Dieper" deur Midpoint Worship.

    Uit die liriek: 

    Here rig my op
    Deur die krag van U Gees
    Sodat ek meer soos U kan wees
    Hier is my hart
    Ek wil net meer vir U kan gee
    My hele lewe le ek neer
    Soos ek in geloof staan

    Midpoint is ’n groep musikante wat 'n aanbiddings-groep in Oos-Londen begin het.  Hulle skryf: “Ons hart is om die mense om ons aan die Woord van God bloot te stel deur ons musiek.”

    https://youtu.be/CAAiL0mvErc

    4 min
  • Dag 8 van Meditasie-reeks #Impak

    Een van my gunsteling Walt Disneyfilms is “Inside Out” - ‘n storie wat illustreer hoe dít wat in ons binneste is ons hele bestaan en almal om ons beïnvloed.   Plutargus, ‘n Griekse filosoof uit die eerste eeu het oor “Inside Out” geskryf:  “Wat in die binnekant groei, groei uitwaarts.” Een kan plant en een kan laat natgooi, skryf Paulus, “maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei” (1 Kor 3:6-8).  

    “Inside Out” is die domein van God. “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor 5:17-18).   

    Wanneer Jesus sê, “Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:14), gaan dit oor ons binneste.  Daar waar God se lig - die lig van Onblusbare Vuur - die verskil maak.  Jesaja noem hierdie lig “die magtige teenwoordigheid van die Here” wat oor ons verskyn (60:1-2).  “Wake up. Put your face in the sunlight. God’s bright glory has risen for you,” vertaal The Message dit.  

    Kan jy dink hoe geskok moes die mense gewees het, toe hier ‘n jong rabbi kom wat sê, “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12).  Kan jy dink hoe geskok moes die mense gewees het toe die jong rabbi sê, “Julle is die lig vir die wêreld.”  Hoor mooi, dit is nie: “Julle móét die lig vir die wêreld wees” nie.  Glad nie.  

    Wat Jesus van Homself sê, sê Hy presies van ons ook.  Wie Ek is, is My volgelinge ook.   Dit is ‘n “Inside Out” verandering.  Moenie dit weerstaan nie.

    GEBED:  Lig vir die Wêreld, laat U glans in en deur my skyn, helder soos die gloeiende son!    


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 8 van #Impak kyk ons na die musiekvideo van Juanita du Plessis se bekende lied “Wees Lig”.

    Uit die liriek:

    Jou voete los die spore
    Van die waarheid
    Vir almal agter jou
    Wie sal Hy kan stuur
    Om sy lig te wees?
    Wie's bereid om die sout vir die wêreld te wees?
    Dis ek en jy    

    https://youtu.be/YFiwsxllAQE

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenho

    4 min
  • Dag 7 van Meditasie-reeks #Impak

    ‘n Enkele knypie sout kan ‘n bord kos se smaak 100% verbeter. Dan verstaan ‘n mens waarom dit ‘n leeftyd neem om saam met iemand die spreekwoordelike “sak sout” op te eet”.  ‘n Knippie sout help om iemand se grootpraat of leë woorde  te verteer.  So is ons taal deurspek (of is dit “deursout”?) met gesegdes oor sout.  Selfs ons woord “salaris” (in Latyn:  salarium)  stam van die Latynse woord “sal” af (“waar die Engelse “salt” vandaan kom).  Dit was juis die gebruik in Jesus se tyd dat Romeinse soldate se loon (hulle “salarium”) ‘n sak “sal” (sout) was.  Daarom moet iets/iemand die sak sout werd wees as jy waarde vir jou geld wil kry. 

    In die antieke tye is baba’s direk na geboorte met ‘n klein bietjie sout ingevryf as ‘n reinigings- en beskermingsmiddel (bv. Eseg 16:4).  Priesters moes offervleis eers sout voor dit vir God geoffer word (Eseg 43:24).  God se verbond aan priesters was ‘n “ewige soutverbond” genoem (Numeri 18:19 – 1953 vertaling).  Sout – soos jou woorde – is bedoel om kosbaar te wees:  “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel…”, sê Paulus in Kol 4:6 (1953 vertaling).  Mense het ‘n bietjie sout saam geëet nadat hulle ‘n ooreenkoms gesluit, of vrede onderteken het.  Daarom sê Jesus – net nadat Hy met die dissipels oor die implikasies van sonde praat:   “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar” (Mark 9:50b – 1953 vertaling).

    Kom jy uit al hierdie teksverse agter dat alles eintlik oor twee woorde gaan, nl. “heiligheid” en “heelheid”.  Soos sout reinigend is, so reinig God se genade ons; en soos sout smake bymekaar bring, so bring God se genade gebroke verhoudings bymekaar.  Ons roeping is dus duidelik:  Wees wat jy is - ‘n geheiligde heelmaker.  Of sommer net kortweg:  wees sout!

    GEBED:  Was my, Here, met U soutwater en reinig my.  Gebruik my, Here, as U soutpot.

    KUNS: Red my deur die Koreaanse Christen skilder Yongsung Kim. https://havenlight.com/collections/yongsung-kim

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 7 van #Impak kyk ons na die video-opname van “Great Is Thy Faithfulness” deur Loyiso Bala, Neville D, en wyle Adam Barnard tydens ‘n Great Hymns of Our Faith-konsert.

    Uit die liriek: 

    Summer and winter and springtime and harvest
    Sun, moon and stars in their courses above
    Join with all nature in manifold witness
    To Thy great faithfulness, mercy and love
    Great is Thy faithfulness

    https://youtu.be/jDlwWf7EMOo


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…