Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 24 van Meditasie-reeks #Impak

    “Laat diegene wat volledig van God se sorg afhanklik is julle lewens beïnvloed.”  Súlke mense – soos die arm weduwee by die tempel wat haar laaste munte weggee – moet ons geloofshelde wees. (Sien #23).  Nog ‘n rolmodel wat Jesus vir ons voorhou, was iemand van wie ‘n mens dit ook glad nie sou verwag nie.   So uit die veld geslaan was Jesus, dat Hy gesê het, "Dit verseker Ek julle, Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie" (Matt 8:10).  Waarom was dit so besonders?  Omdat dit ‘n Romeinse offisier was. Die God van die Jode was nie geag in die “godedom” (panteon) van die Romeinse en Griekse gode nie.   En hier was ‘n man wat bereid was om homself te verneder voor ‘n Jood (wat ver benede die Romeine was); méér nog, hy verneder homself ter wille van een van sy siek slawe.  Maar soos Thomas Merton gesê het, “'n Nederige man is nie bang nie; vir niks nie; aangesien volmaakte nederigheid volmaakte vertroue in die krag van God impliseer.”

    So oortuig daarvan was hy dat Jesus “net ‘n woord moes spreek” (v8) – Jesus hoef nie eers na sy huis te kom nie:  “Praat maar net, Rabbi, en hy sal gesond word.”  ‘n nie-Jood, maar wat die gesag van Jesus herken – gesag wat net van Een kan kom:  die Allerhoogste.   ‘n Nederige man met volkome vertroue in Jesus se woorde!   Dit is ware geloof.  

    As ‘n man wat min van Jesus geweet het - behalwe van wat hy van Hom gehoor het - met so ‘n groot oortuiging in die krag van Jesus kon leef; hoeveel te meer is dit nie waar van mense wat Jesus goed ken nie!  Hoeveel te meer nie die mense wat Jesus sy “vriende” (Joh 15:15) noem nie!  Mense soos ek en jy!  

    Dit is geloof wat werklik ‘n IMPAK kan maak!

    GEBED:   Versterk my geloof só, my Here, dat ek deur U krag leef. 

    KUNS: Ikoon uit Dionysiou Monastery in Griekeland.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 24 van #Impak kyk ons na ’n video-opname van Ubuntu deur Frieda van den Heever. Die lied is deel van 'n lewendig opgeneemde album (Doodmenslik) wat in  Mei 2019 opgeneem is ter viering van 10 jaar se musiek maak by InVia Gemeente.
    https://youtu.be/s08KfFUps-8

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    4 min
  • Ronell ontvang CORDIS TRUST se Orde van die Lamp

    CORDIS TRUST se BOODSKAP VAN HOOP is trots om die Orde van die Lamp in Augustus 2022 toe te ken aan RONELL BEZUIDENHOUT vir buitengewone bydrae tot die uitdra van die boodskap van hoop deur die Woord.

    Ronell is een van die eerste vroue-predikante van die NG Kerk. Haar beroepsroete het haar via Port Elizabeth en Johannesburg tot in die kusdorpie, Groot-Brakrivier, gebring. Sy is 'n gevestigde skrywer, wat oorwegend aandag gee aan die interpretasie van antieke geloofsgewoontes vir moderne besige mense.

    Die afgelope twee jaar het Ronell ’n aktiewe kuber-bediening uitgebou om die Woord uit te dra vir mense selfs buite Suid-Afrika.

    https://youtu.be/ROfAEmx2Nho

    Duisende mense word daagliks deur haar meditasies op die internet, Facebook, Instagram, potgooie en op kanale soos Whatsapp bereik. Sy vul dit aan met foto-gebede, musiekseleksies, video-onderhoude, gedrukte- en aanlyn-boeke en virtuele kursusse. Sy is in ‘n halwe pos ook pastor van die Suid-Kaap gemeente van die Evangeliese Luthersekerk.
    Ronell sê omdat sy self so lank in die stad gebly het en die “psige van gejaagdheid” verstaan, ken sy ook die versugting na stilte en verdieping. "Gelukkig is geloofsversorging nie meer gebonde aan plek of grense nie."

    “As ’n opgeleide teoloog nooi ek mense saam op kuberreise so ver terug soos die eerste eeue na Christus. Ek poog om dit in die taal van ’n post-modernis te doen wat graag glo dat ek die hart van mense verstaan. Ek wy my lewe daaraan om verantwoordelik met die Bybel te probeer omgaan.”

    “Dit is my roeping om mense toe te rus om in hulle geloof te groei. Daar is ‘n plek vir alle invalshoeke, maar ek verkies om vir mense te skryf wat al deur die meule van die lewe gegaan het en nie met oppervlakkige antwoorde tevrede is nie. Dalk skryf ek vir myself, oor dit wat ek nog moet leer, oor die vrae wat die lewe by my wakker maak, oor die werk van die Gees in my eie lewe.”

    Met haar hutsmerk #LeefHoop wil Ronell die Internet ‘n ruimte maak waar mense hoop kan vind.
    "My lewensbeginsel is dat as jy jou deernis vir ander mense verloor het, dan het jy jou eerbied vir God verloor."

    Vorige ontvangers van die Orde van die Lamp sluit Bybel-Media, die Christelike Lektuurfonds, 
    Riekert Botha, Danie Mouton, Johan en Nina Smit, Pieter Fourie ,Hennie Stander, Rodney Seale, Flip Loots en Hans Steyn in.

    #Vrouemaand #Lamp #CordisTrust #UitDieHart #Orde #boodskapvanhoop

    Stem: Petronel Baard

    3 min
  • Dag 23 van Meditasie-reeks #Impak

    In die Bybel lees ons van ‘n paar mense wat op Jesus se lewe ‘n groot indruk gemaak het. Voordat Jesus na een van hulle verwys, begin Hy eers met ‘n waarskuwing: “Pas op!”  Pas op vir mense wat raakgesien wil word en belangrike posisies wil beklee; pas op vir mense wat klaarblyklik diep gelowig is en dan hul medemens kan skade berokken (Mark 12:38-40).  Direk daarna het Jesus by die tempel oorkant die dankofferkis gaan sit.  Eers het ander hul geld ingegooi, daarna het ‘n arm weduwee twee muntstukkies ingegooi. (Presies genoeg vir die daaglikse porsie meel.) Toe sê Jesus, “Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense … Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (41-44). 

    Dit het destyds in Sarfat ook afgespeel toe ‘n weduwee vir Elia ook haar laaste aangebied het. (Sien #5, 1 Konings 17 en Luk 4:25-26.) Beide weduwees gee álles -al wat oorbly is God se genade.  Die absolute uitbeelding van afhanklikheid!  VIr Israel was die boodskap nog altyd duidelik:  “Jy mag nie 'n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie … Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie” (Eks 22:21-22). As Israel God se seën wil beleef, “leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees” (Jes 1:7).

    Waarom het hierdie twee vroue soveel IMPAK op Jesus – en ons – lewens? Dalk help hulle ons ontdek dit gaan nie oor wat of hoeveel jy gee nie; maar of jou prysgawe groter afhanklikheid van God bewerk.  Immers leer ons, “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt 5:3).

    GEBED: Here, wys my nie wat ek gee nie, maar wat ek terug hou.

    KUNS:  “Widow’s Mite” van www.catholicsteward.com.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    MUSIEK: Op Dag 23 kyk ons na die lied ”The Widow's Cry” uit die film “The Widow's Might”.

    Die Widow's Might is 'n 2009 Amerikaanse onafhanklike Christelike film wat afspeel in die hedendaagse Texas en die Ou Weste. 

    https://youtu.be/F5h3d8sGNPQ

    4 min
  • Dag 22 van Meditasie-reeks #Impak

    Wat Jesus met gelykenisse soos die “Barmhartige Samaritaan” (Luk 10:25-37, Sien #21) gedoen het, was om die verbeelding van sy luisteraars – ons s’n ook - wakker te maak.  Jesus plant ‘n saadjie in mense se verbeelding, en as hulle dan in verwondering kopknik en sê, “Wao”, sê Hy, “Nou maak julle ook so.” Wat eers net die verbeelding aangegryp het, word skielik ‘n uitdaging vir gehoorsaamheid.  Dit is werklike IMPAK!

    Albert Einstein het eenmaal gesê,  “Verbeelding gee ’n voorskou van die lewe se moontlikhede.”  In Jesus se lewe sien ons die sigbare verbeelding van God – Jesus word die voorskou van hoe lewe saam met God en ons medemens moontlik is.  En dan, soos deur die eeue, hoor ons ook die oproep:  “Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel” (Fil 2:5, uit Die Boodskap). 

    Ons kort niks in hierdie lewe om te leef soos God van ons vra nie: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien” (2 Pet 1:3).  En asof dit nie genoeg is nie, leer Paulus ook nog:  “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe …” (Ef 3:20). Dit is goed om te onthou dat ons nie gekies word vanweë ons vaardighede nie, maar bloot vanweë ons gewilligheid.  God maak gewillige mense dan vaardig.  Al wat nodig is, is ons gehoorsaamheid om vanuit God se krag te doen wat moontlik is.  
     
    Mense wat ander mense se lewens beïnvloed is mense wat eenvoudig God se drome saam met God begin droom;  en dan - stukkie-vir-stukkie – bousteentjies lê om die droom te realiseer.  Dit is hoe God werk. 

    GEBED:  Ek loof U dat ek in U verbeelding mag deel.   

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/




    MUSIEK:  Op Dag 22 van #Impak kyk ons na die liriek video van ses-keer GRAMMY wenner Amy Grant se nuwe lied “Walk On Water”.
    In September stel Amy ’n nuwe weergawe van haar 1997 album, Behind The Eyes, as ’n spesiale projek bekend. 


    Die nuwe album sluit die twaalf snitte van die oorspronklike album heeltemal hermeester, plus 18 bonus snitte, b-kante, demo's en twee splinternuwe snitte in, waarvan een "Walk On Water" is. 

    https://youtu.be/XnLSujC2J94


    4 min
  • Dag 21 van Meditasie-reeks #Impak

    Mark Noll, ‘n bekende historikus, skryf dat die christendom in die vroegste eeue versprei het,”ja, omdat die boodskap effektief was;  ja omdat mense deur die lewe van Jesus geïnspireer was; maar, miskien was dit meestal omdat Christene eenvoudig ‘dáár’ was – daar om dade van vriendelikheid en medemenslikheid te doen; daar om uit te reik na ander mense waar die destydse kultuur nie daarop gefokus het nie.” 

    Waar is jy? Dáár. Waar moet jy wees? Dáár. Waar is daar? Dáár waar jy nou is. En wat moet jy daar doen? Hê jou medemens lief – die een wat saam met jou dáár is - soos jy jouself liefhet; want so sal mense weet dat jy God liefhet (Matt 22:36-39).  En direk nadat Jesus hierdie opdrag gee, vertel Hy die bekende gelykenis van die Samaritaan wat barmhartigheid bewys  (Luk 10:25-37).  Sonder vrees kom hy die man – wat hy innig jammer kry – dáár te hulp; smeer sy wonde met salf, laai hom op sy eie donkie en neem hom na ‘n herbergier; gee twee muntstukke ( die ekwivalent van twee dae se werk), en – om alles te kroon - beloof hy om alle verdere kostes te dek as hy terugkom.   Dit pas nogal by wat ‘n kerkvader uit die eerste eeu, Clement, geskryf het:  “Laat die sterkes die swakkes versorg en laat die ryk man hulp verleen aan die armes en …  laat die wyse sy wysheid openbaar nie in woorde nie, maar in goeie dade ...”.

    Jou grootste IMPAK is bloot dit:  om heelhartig dáár te wees, daar waar jy nodig is.  Sonder om te wonder.  Soos Martin Luther King gesê het, “Waar die priester en die Leviet gevra het, ‘as ek stop, wat gaan met my gebeur?’ vra die Samaritaan die vraag anders: ‘As ek nie stop om te help nie, wat gaan met hom gebeur?”

    GEBED:  Mag ek die barmhartige wees, Here, dáár waar U my nodig het.
    KUNS:  Domenico Fetti se “Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan” (1622)

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 21 van #Impak kyk ons na Jonathan Rubain se “Die Goeie Samaritaan” op sy Koortjies-program op kykNET.  Begin van die maand is die een honderdste episode geskiet van Koortjies met Jonathan Rubain. Hy skryf: “Wat ’n wonderlike mylpaal is dit nie. Aan God al die eer want Hy is die een wie dit moontlik gemaak het om hierdie program op kykNET & kie te kan hê.”
    “Dan aan almal wie dit kyk; julle is amazing. Deur julle ondersteuning, is Koortjies een van die grootste programme. Baie dankie! Uit die diepte van ons harte.”
     https://youtu.be/xXO3YPAH32s
     

    4 min
  • Dag 20 van Meditasie-reeks #Impak

    Baie christene is “goeie sout” en “helder lig” - ongelukkig net nie altyd op die regte plekke nie.  Dit is amper soos daardie ekstra gloeilamp wat jy aanskakel in ‘n vertrek wat reeds helder verlig is.  Jy mors maar net krag.  Effektiewe sout se krag lê buite die soutpot, soos die waarde van lig in donkerte beleef word. 

    Die vroegste eeue se christene moes gou ontdek dat hul geloof in Jesus hulle nie ‘n “veilige bestaan” belowe het nie.  Aanvanklik het die eerste gelowiges - na die uitstorting van die Heilige Gees – steeds in Jerusalem gebly.  Máár, God het vir hulle ander planne gehad  -  grense baie verder as die veilige ruimte wat hulle verkies het (aldus Matt 28:19-20). Toe die vervolging van die christene in Jerusalem begin, moes hulle ontdek:  God het die wêreld lief, nie net die christene nie.  God wil inderdaad die wêreld red (aldus Joh 3:16-17). Soutpotte bo-op die soutrak is nie effektief nie; soutpotte uitgeskud in kospotte is eers effektief.

    Diognetus, ‘n skrywer uit die eerste eeu n.C., vertel vir ons hoe die “kerkmense” destyds geleef het:  Christene kan nie onderskei word van nie-christene nie:  hulle bewoon nie afsonderlike stede van hul eie nie; hulle neem deel aan al die aktiwiteite waaraan ons deelneem, en tog is daar iets buitengewoons aan hul lewens. Christene het alle mense lief,  al vervolg daardie mense hulle.  Hulle leef in armoede,  maar hulle bedien alle mense.  Christene het diegene lief wat hulle haat. 'n Seën is hul antwoord op vervolging en swaarkry.  Dit is deur die Christene – al word hulle aangehou in ‘n tronk - dat die wêreld bymekaar gehou word.

    Dit is ons rol – om die wêreld bymekaar te hou, al is ons nie deel van die wêreld nie.  Dít is werklike lig:  wanneer dit ‘n verskil in donker maak.  

    GEBED:  Begelei my deur U Gees om nie in ‘n veilige kringetjie te bly nie, maar gebruik my waar U wil.

    KUNS:  Skets wat dikwels by literatuur oor Diognetus se brief gebruik word. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 20 van #Impak kyk ons na die musiekvideo van die “Stand”, ’n bekende a cappella groep van Zimbabwe se lied “Blessings”. 

    Uit die liriek:

    We pray for blessings, we pray for peace
    Comfort for family, protection while we sleep
    We pray for healing, for prosperity
    We pray for Your mighty hand to ease our suffering
    And all the while, You hear each spoken need
    Yet love us way too much to give us lesser things

    https://youtu.be/zRJHuBG2fqM

    4 min
  • Dag 19 van Meditasie-reeks #Impak

    Ons roeping as doeners en bidders is om ‘n IMPAK op die wêreld om ons te hê.  Wat ‘n gelowige vinnig agterkom, is dat jou lewe baie harder praat as jou woorde.  Ons sê mos, “woorde wek, dade trek.”  Met ons gedrag word ons “rigting-aanduiders” na die Een wie se gesindheid ons in ons dade integreer (Fil 2:5).  Dan begin ons menslike arrogansie verander in nederigheid; hoogmoed verander na diensbaarheid; vergelding verander na vergifnis; woede verander in selfbeheersing; liefdeloosheid verander in deernis; vyandskap verander na vriendskap, ens.) Ons word die advertensieborde in die rigting van God se koninkryk wanneer ons “niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil 2:3-4).   

    Soos Jesus vir die wêreld die vingerwyser na God is, só word ons – Sy navolgers – weer die vingerwyser na Christus toe.  Die Hebreërskrywer së, “Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Hou Hom voor oë. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb 12:1-3). Presies soos die profeet Jeremia eeue gelede ook geleer het: “Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die grootpad, op die pad wat jy moet loop” (Jer 31:20).  

    Dit bly een van die grootste gedagtes dat God mense gebruik as ambasadeurs van die koninkryk.  Gewone alledaagse mense soos ek en jy.  Daarom hoef ons nie eers goeie predikers te word, of welsprekende reuse nie.  Bloot gewone mense wat met liefdesgedrag so leef dat omstanders vir hulle “aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle”(Sag. 8:23). 

    GEBED: Soos ek U as rigtingwyser volg, gebruik my om rigting na U te wys, Here Jesus.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 19 van #Impak na die bekende musiekgroep Broers se weergawe van “Hou jou oë op Jesus”.   
    In Afrikaanse liedere is slegs die koorgedeelte (Hou die oë op Jesus) bekend.  Die lirieke van die verse is 'n nuwe toevoeging wat deur Broers geskryf is.   Broers is 'n Afrikaanse musiekgroep wat uit die Snyman-broers, Christo, Cobus en Stephan bestaan. Die jongste broer, Stephan, gebruik die verhoognaam Nic Stevens vir sy solo-loopbaan. Die twee ouer broers tree ook saam onder die verhoognaam Christo en Cobus op.

     https://youtu.be/LF8T_F7MD1c

    4 min
  • Dag 18 van Meditasie-reeks #Impak

    #18 IMPAK


    Christene is bidders! Jesus leer nie verniet in sy groot preek (Matt 5-7) vir ons hoe om te bid met die “Onse Vader”-gebed nie.  Maar, die interessante is dat dit juis vir die bidders is, vir wie Jesus sê, julle is “die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld” (Matt 5:13-16).  Dus, bidders is doeners!  Soos die ou Kerkvader, Benediktus, gesê het: “Ora et labora!” Biddende christene, wat nie opstaan van hulle knieë om te gaan doen waarvoor hulle gebid het nie, verstaan nie die rede vir gebed nie.   

    Die skrywer van die Brief van Jakobus - wat waarskynlik Jesus se broer was – het dit goed verstaan:  “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jak 5:16). Maar, Jakobus is juis die skrywer wat ook die meeste skryf oor “geloof in aksie”. Bid vir ‘n stukkende wêreld, maar word ook die heelmakers van die stukkende wêreld . Soos Jakobus skryf, “Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood” ( Jak 2:15-17).

    Dit laat my dink aan die bekende woorde van John Wesley:
    “Do all the good you can,
    By all the means you can,
    In all the ways you can,
    In all the places you can,
    At all the times you can,
    To all the people you can,
    As long as ever you can.”

    Dit is ora et labora.  

    GEBED: Wys my waarvoor om te bid, Here, en leer my dan hoe om daarvoor te werk.


    KUNST:  “Laborare est Orare” eine Malertür John Rogers Herbert. (1862)
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 18 van #Impak kyk ons na die musiekvideo van die lied  “The Prayer” deur die groep Pentatonix.   
    Hulle vermeng twee verskillende weergawes van die liedjie: die eerste twee verse stem ooreen met die oorspronklike duet van Andrea Bocelli en Céline Dion, wie se lirieke onderskeidelik deur Scott en Mitch gesing word. Vanaf die brug word die verwysingsweergawe egter die een deur Donnie McClurkin & Yolanda Adams, wat lei tot 'n meer direkte Christelike interpretasie van die gebed ("En ons sal onthou dat ons almal God se kinders is wat uitreik om Hom aan te raak, na die lig te reik").

    Uit die liriek:

    I pray you'll be our eyes
    And watch us where we go
    And help us to be wise
    In times when we don't know
    Let this be our prayer
    When we lose our way
    Lead us to a place
    Guide us with your grace
    To a place where we'll be safe

    https://youtu.be/wnvzwAPqniU

    4 min
  • Dag 17 van Meditasie-reeks #Impak

    Ek weet nie van jou nie, maar dit voel vir my asof ons al meer in ‘n glybaan van pessimisme afgly:  was dit COVID19 wat dit aan ons gedoen het?  Is dit die dun draadjie van “wêreldvrede” wat ons uit ons hand voel glip? Moeder Aarde wat voor ons oë vergaan? Om nie te praat van die korrupsie en groeiende armoede (en anargie) in Suid-Afrika  nie!  Watter invloed het ons as gelowiges regtig op die wêreld om ons?  Of is ons maar pessimistiese saampraters?  Dalk vergeet ons te vinnig dat ons grootste invloed ons “vrye toegang” tot God is!  

    Daniël het dit nie vergeet nie!  Wanneer laas het ek, soos Daniël, “gevas en gerou” oor wat ek om my sien?  Daniël sien die lewe om hom raak, en dan gaan hy na God toe: “Luister tog, my God! Sien tog ons verlatenheid raak … … Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.  … Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep” (lees Daniël 9).  

    Was dit nie Paulus se opdrag aan Timoteus ook nie:  “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid” (1 Tim 2:1-2).

    John Stott skryf, “Christene is nie magteloos nie.  Ek is bevrees, as ons is, is ons lui en kortsigtig en ongelowig en ongehoorsaam aan die groot opdrag van Jesus.”  Dit durf nie van ons waar wees nie!  Soos Frederick (F.B.) Meyer skryf:  “Die grootste tragedie is nie onbeantwoorde gebede nie; maar die gebede wat nie gebid is nie.”

    GEBED:  Weerhou my van pessimisme, my Here, en maak van my ‘n hoopvolle bidder! 

    KUNS:  Uit “Becoming more like Jesus” op Renovaré.org.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 17 van #Impak kyk ons na Chris Tomlin se liriek-video vir sy nuwe lied “Holy Forever”.  Die lied is op sy nuwe album wat in September vrygestel word. 
    Uit die liriek:
    A thousand generations falling down in worship
    To sing the song of ages to the Lamb
    And all who’ve gone before us and all who will believe
    Will sing the song of ages to the Lamb
    Your name is the highest
    Your name is the greatest
    Your name stands above them all
    All thrones and dominions
    All powers and positions
    Your name stands above them all

    https://youtu.be/IkHgxKemCRk

    4 min
  • Dag 16 van Meditasie-reeks #Impak

    Die meeste bybelse figure illustreer vir ons hoe waar die idioom is dat daar met krom stokke reguit houe geslaan kan word. Maar, so nou en dan kom ‘n mens iemand soos die profeet Daniël teë. Daar is nie ‘n hoofstuk in die boek wat nie geloofsjuwele ingesluit het nie.  Soos die belydenis van Daniël se drie vriende wat weier om te buig voor koning Nebukadneser se afgodsbeeld, selfs al word hulle met ‘n vuurdood gedreig:  “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red … Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie" (3:17-18). 

    ‘n Belangrike tema in die boek is Daniël se onkreukbaarheid.  Dit is so maklik om maar net te wil toegee as almal rondom jou dit doen.  Oneerlikheid bewerk altyd groter oneerlikheid.  Maar die teenoorgestelde is ook waar!  (Dit laat my wonder, hoe sou dit wees as ons in ‘n land kon leef waar ons reputasie soos dié van ‘n Daniël kon wees, “betroubaar en aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie” - 6:5.)   

    Ons moet net nie in die strik trap om te dink die storie gaan oor Daniël nie.  Dit gaan oor God, die Allerhoogste, wat “mag het oor al die koninkryke op aarde…” (4:17; 5:21).  Soortgelyke woorde lees ons eeue later weer in die Openbaringe van Johannes: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid” (Op 11:15).  Ongeag hoe chaoties die lewe om ons lyk; en hoe wêreldmagte ons onveilig laat voel; steeds is God in beheer.  En steeds kan ons, soos Daniël, vir mekaar die voorbeeld stel, en onverpoosd voortgaan om “drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank” (6:2).

    GEBED: HERE, Soos ‘n Daniël wil ek leef, wetend U is in beheer.
     
    KUNS:  Skildery olie op hout. Daniël word getoon waar hy in die leeukuil sit, omring deur leeus en bene van diere en mense. Bo sy kop is twee engele. 'n Aantal van die oorspronklike figure is uitgeverf en ander is moontlik bygevoeg. Die werk is uit die 17de eeu en is in ‘n Vlaamse styl. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 16 van #Impak luister ons na  Louis Brittz se “Daniël-lied”.   Dis op die album  Duisende Daniels Aanbid  en Louis tree saam met Cornel Driessen op. 

    Uit die liriek :

    Net voor U sal ek val
    Net vir U sal ek staan
    Vir U woord, vir U lig
    Voor U aangesig
    Ek sal veg, ek sal staan
    Al sou alles vergaan
    Maar voor U, net voor U, my God
    Sal ek val

    https://youtu.be/6RuGm3DFJ8M


    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…