Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 11 van Meditasie-reeks #Lente

    “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” (Spr 3:5-6)

    Ons mag maar grappies vertel, veral in LENTE-IN-JOU-GELOOF.  Soos die een van die vrou wat uit die badkamer kom en vir haar man sê, “Ek is vet en oud en vol plooie; gee my tog ‘n kompliment dat ek net beter kan voel.” Waarop haar man antwoord, “Gelukkig skeel daar niks met jou oë nie.”  Marcus Aurelius, ‘n filosoof uit die tweede eeu, het gesê, “Alles wat jy hoor is ‘n opinie – dit is nie ‘n feit nie. Alles wat jy sien is perspektief – nie die volle waarheid nie.”  

    Die manier hoe ek na die lewe kyk is altyd vanuit my eie perspektief!  Is dit nie waar bekommernisse vandaan kom nie?  Wat vir my die grootste bekommernis is, kan iemand anders dalk heeltemal anders.  Word bekommernisse nie maar gebore vanuit ons verknogtheid aan ons skewe of angsbevange interpretasie van omstandighede nie?  Wat help al julle bekommernisse, vra Jesus tereg? “Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Allesbehalwe” (Matt 6:27, Die Boodskap).   Jy kan maar net sowel anders na dit kyk. G’n wonder Dawid bid, “Maak my oë oop … ”(Ps 119:18).  In Ef 1:18 bid Paulus ook, “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder …” 

    Lyk jou omstandighede dalk vandag vir jou uitsigloos? Voel jy vasgedruk en maak dit jou bekommerd? Is jy bang vir die toekoms - die toekoms van ons land, of van jou kinders en kleinkinders? Dalk moet jy ‘n ander “bril” daarop sit.  Probeer om deur “God se bril” te kyk.  

    GEBED: Leer my tog om reg te kyk, Here. Laat ek nie op my eie perspektiewe  (of insigte) staat maak nie. Leer my om vanuit U perspektief te kyk.

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 11 van #Lente luister ons na Josh Groban en Lili Hayden se weergawe van “Jesu, Joy of Man's Desiring.”

    Uit die liriek: 

    Word of God, our flesh that fashioned,
    With the fire of life impassioned,
    Striving still to truth unknown,
    Soaring, dying round Thy throne.
    Through the way where hope is guiding,
    Hark, what peaceful music rings;
    Where the flock, in Thee confiding,
    Drink of joy from deathless springs.

    Die musiek is geskryf  deur Johan Sebastian Bach in 1723.

    https://youtu.be/4kbdoaNwuwA

    4 min
  • Dag 10 van Meditasie-reeks #Lente

    “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” (Jes 43:1)

    Een van die kenmerke van ‘n lewe saam met God, is dat God – anders as mense – ons nooit aan ons “gisters” vasbind nie.  “God-van-oorbegin” sou sekerlik ‘n goeie naam vir God kon wees.  

    In die Bybel speel name ‘n belangrike rol.  Abram (“vader”) se naam verander na Abraham (“die vader van baie”). Saraï (“prinses”) word Sara (“geseënde na wie toe die nasies sal stroom” (lees Gen 17:5). Abraham se kleinseun, Jakob, die bedrieër (letterlik, “hakskeengryper”) verander na Israel.  Nadat Jakob ‘n nag lank met die engel gestoei het, ontvang hy vroegdag ‘n nuwe naam, “want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou” (Gen 32:28).

    Wanneer God in ‘n mens se lewe ingryp verander jy!  Die oue is finaal verby.  In plaas daarvan dat jy met ‘n verdoemende etiket deur jou lewe hoef gaan, kry jy toegang tot ‘n nuwe toekoms.  Jakob is nie meer “Jakob-met-sy-oneerlike-verlede” nie, want nou is hy “Jakob-met-die-nuwe-naam.” 

    Ons is nooit bloot die somtotaal van ons tekortkominge nie.  Dit is belangrik dat ons onsself (en ander!) moet toelaat om nuut te kan begin.  Om lentebloeisels kans te gee om te bod, moet die boom die winterblare afgooi.  Soos iemand eenmaal gesê het, “jy moet ophou om dieselfde program oor en oor te kyk op jou ‘emosionele televisie’ – dit vergiftig jou net.”  Daarom leer Ps 103:12, “So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg.”

    As God dit met ons doen, laat ons ons verknogtheid aan “wat was” ook agterlaat.

    GEBED:   Maak my ook vry van gister en eergister, my Here.

    KUNS: Gustave Doré, Jacob Wrestling with the Angel (1855)

    MUSIEK:  Op Dag 10 van #Lente luister ons na “You Are Mine” deur Kelly Parks ’n liedjieskrywer en sanger.  Kelly is deel van Daimonds Worship, ’n samewerkingsooreenkoms van musiekprodusente, aanbiddingsleiers en kreatiewes in die VSA.

    https://youtu.be/yDyQWdzt_L8

    4 min
  • Dag 9 van Meditasie-reeks #Lente

    “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.” (Ps 37:9)

    Doodgaan is beslis ‘n “swaar” onderwerp (veral as dit jou éíé doodgaan is – Sien #8), maar die Bybel is duidelik daaroor:  ons staan saam met Jesus op uit die dood.  Soos Rom 6:4 leer, “… ons  (is) immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei.” 

    Wanneer Jesus sê, “Ek bied vir julle oorvloedige lewe” (Joh 10:10), moet ons onthou met wie Jesus praat.  Die Joodse volk was werklik uitsigloos.  Hulle storie is die van ‘n verdrukte volk: Egipte, Assirië, Babilonië, die Grieke, en nou die Romeine.  Dan is daar ook nog die swaar las wat die Fariseërs en die kerkleiers op hulle eie mense plaas.  Daarom sê Jesus, “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. … Julle verhinder dié wat wel wil ingaan” (Matt 23:13). Kan jy dink wat beteken dit dan as Jesus vir die mense sê, “Ek bied vir julle lewe!”  

    Die lewe wat Jesus aanbied is so oorvloedig dat dit oorloop na die volgende lewe. Maar Jesus het dit gewis ook vir hierdie lewe bedoel!  ‘n Lewe in oorvloed is om die lewe te leef soos God dit bedoel het! Jy leef die droom uit wat God het. Kan daar iets beter wees?   Om werklik die lewe voluit te kan lewe, moet jy werklik “lewendig” wees: liggaam, siel, gedagtes, gees en hart. 

    Vra jouself af, is jy só lewendig? Só oorvloediglik lewendig? Indien nie, wat weerhou jou daarvan? Gaan sit by die Bron van Lewe, daar sal jy antwoorde vind. 

    GEBED:  Soms leef ek maar so suutjies-suutjies, Here. Ek wil die lewe wat U bied met albei hande aangryp!


    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/



    MUSIEK: Op Dag 9 van #Lente, gepas na die afsterwe van Koningin Elizabeth gister, kyk ons na ‘n video-opname van die pragtige gesang  “Immortal, invisible, God only wise” tydens die dankdiens vir haar Platinum-gedenkdiens vroeër vanjaar in die St Paul's-katedraal in Londen.
    Die liriek is deur Walter Chalmers Smith (1824-1908) en die musiek deur John Roberts’s Caniadau y Cyssegre (Denbigh, 1839).

    https://youtu.be/o6sAToCxJs0

    4 min
  • Dag 8 van Meditasie-reeks #Lente

    “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” (Mark 8:34).

    Dietrich Bonhoeffer het gesê, “Wanneer God ‘n mens roep, dan roep God jou om te sterf.” Ek wonder altyd, watter regdenkende mens sal op so ‘n uitnodiging reageer?  Klaarblyklik is daar baie gelowiges wat dit ook dink – veral dié wat glo dat dit met christene goed moet gaan.  Mense wat in die “suksessindroom” vasval (ook t.o.v. hulle geloof) sal baie selde bid:  Roep my vandag, Here, sodat ek kan sterf…  In Bonhoeffer se lewe het sy geloof hom sy lewe gekos toe hy opgehang is deur die Nazi’s.  Dit is natuurlik nie elkeen van ons se lot nie!  En dit hoef ook nie te wees nie. Die sterf (m.a.w. die kruis wat jy moet opneem) waarvan Jesus praat, is ‘n ander sterf.

    Elke gelowige hou ‘n “begrafnis” as jy Jesus begin volg, want “twee mense” (die “ou” mens en die “nuwe” mens) kan nie saam die roete van geloof stap net.  Daagliks!  Omdat daar altyd ‘n worsteling met ons “oue” is. Dink maar net hoe maklik praat ons van “my tipe mense”, of om dinge “op my manier” te doen, en so kan ek aangaan.  Maar Paulus leer, wanneer jy Jesus volg is daar van “my voorkeure” geen sprake meer nie.  Gal 6:15 praat juis oor ons “ideologië”:  Niks is meer “van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is.” (Lees ook Kol 3:5-11). Jesus se manier is al manier!

    Is dit darem nou nie ‘n swaar onderwerp so aan die begin van LENTE nie?  Glad nie!  Daar is geen groter bevryding as om God se genade aan te gryp en die Heilige Gees toe te laat om die oue te kruisig nie.  Eers dan sal jy “die lewe, en dit in oorvloed” (Joh 10:10) kan verstaan. Dan breek LENTE-IN-JOU-GELOOF aan.

    GEBED: U het my gekies, daarom wil ek kies wat U kies, Here. 
    KUNS:  Quo vadis? (1601) deur die Italiaanse skilder Annibale Carracci.

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 8 van #Lente kyk ons na die musiekvideo van."No Turning Back" deur Hope Darst en The Belonging Co.
    Uit die liriek:

    No turning back, won’t change my mind 
    I will follow You all of my life 
    The cross before me, my past behind 
    I will follow You all of my life

    https://youtu.be/eZAOnzsPAQ8

    4 min
  • Dag 7 van Meditasie-reeks #Lente

    “Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie, Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig  en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. ” (Jesaja 42:16).

    LENTE impliseer verandering.  Alles verander.  Selfs ons gesindheid oor die lewe ook.  Sielkundiges beweer dat ons sekere chemiese stowwe afskei wanneer dit lente raak.  So tipe “goedvoel” hormoon.  LENTE-IN-GELOOF impliseer ook verandering.  Dalk het ons ook ‘n verwagting vir ‘n “goedvoel”-verandering.  Ja, somtyds is dit.  Maar meermale is verandering nie iets waarop die meeste van ons goed reageer nie. 

    Die lewe – dit weet ons – bestaan uit ‘n ritmiese opeenvolging van siklusse. Maar, wanneer daar verandering in ons lewens plaasvind wat ons uit ons gemaksones wil stoot, dan stribbel ons maklik teë.  ‘n Gemaksone is ‘n ruimte waar jy veilig voel en min onsekerheid ervaar.  In gemaksones weet jy presies hoe môre en oormôre gaan verloop.  Maar lees Deut 1:6-8, dan sien jy vinnig dat God ons nie in ons gemaksones wil hou nie.  Só sê Moses aan die Israeliete:  “Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Breek nou kamp af … Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit’”.  

    Ai, het die Here maar só duidelik in ons ore gefluister wanneer ons uit ons gemaksones moet “trek”, né? Maar, lees weer die woorde van Jesaja 42 dan sien jy, ons moet nie éérs sekerheid kry oor waarheen die lewe ons wil neem, voordat ons ‘n nuwe lewensfase betreë nie. Wat ons nodig het, is die absolute sekerheid dat God weet!   

    LENTE-IN-GELOOF begin daar waar jy jou in God s’n sit en sê, “Ek volg, ongeag waarheen U my lei.”
     
    GEBED: Dan sit ek nou my hand in U hand, my Leidsman. Doen soos U goeddink.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 7 van #Lente kyk ons na ’n video-opname van Kristene DiMarco se uitvoering van haar lied “I Will Follow You”.  

    Uit die liriek:

    My heart is steadfast oh God,
    And I won't be led astray by the things
    That quickly fade before Your face..
    I will follow You
    I wrapped up in You
    I belong to You
    And I was made for this one thing
    Is to see and to seek Your goodness...

    https://youtu.be/o8Sx_U0Ztr8

    4 min
  • Dag 6 van Meditasie-reeks #Lente

    “Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? … Kom dan na My toe!  … Kom luister … Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê” (Matt 11:28 – Die Boodskap).

    Henri Nouwen het eenmaal geskryf, “In die geestelike lewe verwys die woord ‘dissipline’ na die ‘inspanning om ‘n ruimte te skep waarin God kan werk. … In die geestelike lewe beteken dissipline om daardie ruimte te skep waarin iets kan gebeur wat jy nie beplan of verwag het nie.”     

    Niks is só selfgerig soos ‘n lewe wat net altyd besig-besig-besig is nie.  (Kahlil Gibran het eenmaal grappenderwys opgemerk: Só besig is hulle, maar gelukkig het hulle darem nog tyd om daaroor te kla.)  Maar ja, die een kenmerk van ons moderne samelewing is dat ons régtig besige mense is. Oral hoor jy mense kla, “waar gaan die tyd heen?” Asof daar minder tyd vandag is as ‘n eeu gelede.   Deesdae praat ons van “te min tyd” en “tyd is geld” – g’n wonder moderne mense is so gefokus en gedrewe nie … maar ook net so gedaan.  Of anders gestel, oorwerk, oorlaai en geestelik ondervoed.  

    In my besig-wees moet ek myself afvra, hoeveel keer het Jesus, in die gestalte van ‘n medemens, nie dalk al vandag by my verbygekom en het ek nie eers opgekyk nie?  Omdat ek “te besig” was. Selfs in ons navolging van Jesus kan ons ook soms “oorpresteerders” wil wees.  Of so met “godsdiens” besig wees dat godsdiens later beleef word as ‘n las.  

    Dalk het LENTE-IN-GELOOF veral te make met nadenke oor wat jou alles van die vreugde van die lewe waarvoor God jou bestem het, ontneem? Iets om gewis oor na te dink.

    GEBED: Bewaar my van die gevangeneskap van altyd-besig-wees, Here.

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 6 van #Lente kyk ons na ‘n musiek-video van die koor van die Usenathi Primêre Skool op Sterkstroom se weergawe van Chris Lamprecht se “Kom na My Toe”.

    https://youtu.be/6_SFBRLR0dQ

    4 min
  • Dag 5 van Meditasie-reeks #Lente

    “En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy.” (Rom 11:16)
     
    In ‘n tuintydskrif lees ek, “Moeder Natuur het die gewoonte om op die regte tyd van enigiets wat onnodig is ontslae te raak.” Klim ons die vrugteboorde met snoeiskêre in, is dit ons wat aan Moeder Natuur ‘n hand verleen.  Doen ons dit nie, verswak die stam met die wilde lote; en kom die oestyd, is die vrugte yl versprei, klein en kliphard.  As jy die plant “jammer” kry en nie wil snoei nie, doen jy die arme plant nie ‘n guns nie!  Dit werk ook so met ons.   

    Jesus herinner die dissipels dat God hulle ook snoei, want –soos vrugtebome – moet ons geloof vrug dra (aldus Joh 15:1-8).  In Hebreërs 12:5-7 lees ons, “Jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem. Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram” ((uit die Nuwe Lewende Vertaling).

    Dit is vir my ‘n pynlike oog om gesnoeide bome te sien (al wéét ek hoe goed dit vir die boom is!) Dit is bykans asof die die boom skielik vir my nou “minder boom” is.  Maar, hoe ouer ek word, hoe meer weet ek dat die “gestrooptheid” van die boom (nie net van blaar nie, maar ook van tak) presies dit is wat die boom nodig het. En ek ook! 

    Die vraag is, waarvan wil God jou en my stroop?  Aan watter verknogthede hou ons vas wat ons weerhou om vrugte te dra wat by die boom pas? 

    GEBED: Here, wys my waar ek U stroopproses in my eie lewe weerstaan. Skep in my die brandende begeerte om deur U reg gevorm te word.

    KUNS: Olyfbome in die Heilige (1879) Land deur die Russiese kunstenaar Vasilii Dmitrievich Polenov.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 5 van #Lente kyk ons na die musiekvideo van Matthew West en Anne Wilson se nuwe vrystelling “Me on Your Mind”.


    Uit die liriek:

    Who am I that the king of the world 
    Would give one single thought about my broken heart?
    Who am I that the God of all grace
    Wipes the tears from my face and says "Come as you are"?
    You paid the price, You took the cross, You gave your life, And You did it all
    With me on Your mind 
    Just knowing you’re mindful of me
    Just knowing you call me your child
    It’s flooding my soul with unspeakable hope    
    Thank you Lord, that it’s me on your mind

    https://youtu.be/Hie9q5aOA6k

    4 min
  • Dag 5 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.” (Heb 11:1, NIV) 

    Iemand het eenmaal gesê, God roep nie bekwame mense nie; God maak die mense wat Hy roep bekwaam.  Die VERWAGTINGE wat God van ons het, maak God self waar.    

    Neem vir Moses as ‘n voorbeeld:  Leiers is woordvaardig, nie struikellend oor hul eie tong soos Moses nie.  Waarop God antwoord, “Wie het aan die mens 'n mond gegee? … Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê” (Eks 4:11-12). Moses moes leer om op God te vertrou!

    Leiers bly kalm in vurige situasies - Moses gooi die kliptafels stukkend (Eks 32:19).  Het God maar die volledige plan vooruit aan Moses gewys, was al die spanning onnodig. Dit is waarom hy sê,  “U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur … Maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag” (Eks 33:12-13). Moses moes leer om op God te vertrou!

    Is dit nie ook ons versugting nie, dat ons net vooruit die “groter prentjie” kan sien? Dán sal ons staande kan bly.  Dan sal ons vooruit kan beplan. Dán sal ons kan vertrou.  Maar dit is nie vertroue as jy vooruit weet nie! Vertroue is om werklik te glo, as God sê, “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou” (Jes 43:13).

    Soos Moses moes leer om op God te vertrou, so moet ons ook.   

    GEBED:  My Here, vertrou ek U regtig? Selfs al weet ek nie ‘n tree vooruit nie? Leer my tog!

    KUNS:  Moses en die brandende bos (1610) deur die Italiaanse skilder Domenico Zampieri.

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK: Op Dag 5 van #Verwagting luister ons na die gewilde koortjie-sanger Dawn Petersen se lied “Vertrou Op Die Here”.  Dawn is pastoor by die AFM Blackheath gemeente.   
    Die lied is op haar album “In U Teenwoordigheid”. 

    https://youtu.be/Py8YBFeH7Zw

    4 min
  • Dag 4 van Meditasie-reeks #Lente

    “Vir 'n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan dit weer uitloop, en sy lote sal aanhou groei. … al gaan sy stam dood in die grond, spruit hy weer uit as hy net water ruik, en groei sy takke asof hy pas geplant is. (Job 14:7-9)
     
    HOOP is vir my ‘n mooi sinoniem vir LENTE.  

    Dit laat my dink aan die doodsheid wat gevolg het na die atoombomontploffing in Hiroshima in 1945.  Alles in ‘n radius van twee kilometer is tot op die grond gebrand. In die ganse stad was geen kleur behalwe swart en grys te sien nie.  Daar is gereken dat vir minstens 7 dekades geen plant weer in die omgewing sou groei nie.  Al wat van die bome oorgebly het was steenkoolstompe.  Maar, maande later het oplettendes op 170 van hierdie steenkoolstompe groeiknoppies gesien. Mense het n.a.v. hierdie botsels begin glo dat hulle dalk self ‘n kans mag staan om te oorleef.  Vandag, bykans 80 jaar later, groei die 170 bome steeds. Twee vroue het daarna met ‘n projek begin, genaamd “Groen Erfenis, Hirosjima” wat vandag steeds voortbestaan.  Die saailinge van hierdie eens dooie bome word getrou verplant, en dit word as simbole van hoop versprei na plekke oor die wêreld heen wat rampe ervaar. Om ander te bemoedig:  hoop beskaam inderdaad nie!

    Midde-in pynlike omstandighede is vernuwing altyd moontlik  Ons sien dit telkemale - hoe daar, t.s.v. intense pyn, steeds botsels van groei ervaar word. As dit van bome waar is, hoeveel te meer nie van mense nie.  Laat ons in ons grootste beproewinge die woorde van Jesaja onthou: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie” (43:2). Is daar groter hoop as Hoop wat van God kom?

    GEBED:  Maak my lewe ‘n simbool van hoop waarmee U ander kan bemoedig, Here.

    KUNS:   Die profesie van Jesaja (1778) deur Francisco Bayeu. Olieverf op doek. Die profeet Jesaja word uitgebeeld op wolke, omring deur engele.  Bayeu se skildery was 'n voorbereidende skets is vir die plafon van die hoë altaar in die kapel van die koninklike paleis in Aranjuez in Spanje.  ©Museo Nacional del Prado

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 4 van #Lente luister ons na die “The Messiah: If God Be for Us" van Handel deur Joan Sutherland saam met die Londen Simfonieorkes. 

    Uit die liriek: 
    The people that walked in darkness have seen a great light;
    and they that dwell in the land of the shadow of death, upon them hath the light shined.

    https://youtu.be/9cm3ZqtL9t8

    4 min
  • Dag 3 van Meditasie-reeks #Lente


    “As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou!” (Ps 119:5)
     
    Ek sien dit gereeld: dinamiese mense wat nadink oor hul eie lewens, en dan tot die gevolgtrekking kom dat daar niks is “om te wys” nie.  Ons bewonder suksesvolle mense.  Dit is hulle stories wat die voorblaaie van tydskrifte kleur. Maar vergelyk jy dit met jou eie lewe, lyk joune vaal en onindrukwekkend.  As jy nie in jou beroepslewe suksesvol is nie, wil jy darem in jou geloofslewe suksesvol wees!  Maar, dan ken jy jouself goed, en weet jy, selfs daar is jy ook maar net “gemiddeld.”  

    Wanneer ‘n mens oor ‘n onderwerp soos “LENTE-IN-GELOOF” praat, is dit goed om dalk nie dadelik te begin praat oor die wonderlike groei wat op jou wag nie.  Dit is ‘n belofte, inderdaad!  Maar, dalk moet God jou eers “genees” van daardie immer-teenwoordige verslawing om besonders te wees.  In ons kompeterende wêreld is dit goed om te onthou dat God ons juis wil stroop van ons behoefte aan sukses.  Soos die Duitse teoloog, Karl Rahner, gesê het,“God se koninkryk verskyn daar waar jy jou bevind, terwyl jy met die alledaagse dinge besig is, en bloot daarin volhard om dag-na-dag vir God te leef.” 

    Die koninkryk van God het werklik met gewone mense en hul gewone lewens te make: soos watter tipe ouer jy is; hoe tree jy teenoor kollegas of, teenoor die petroljoggies, ens. Dit is ‘n wonderlike troos om te weet dat God se koninkryk nie net deur die “groot reuse” se “groot dinge” kom nie.  Dit gebeur bloot daar waar mense die “vaste koers” volg – soos die Psalmdigter skryf.  Onthou dus, God soek nie besonders en suksesvol nie – God soek betroubaar.

    GEBED:  Ek bid vir my alledaagse en gewone lewe, Here.  Mag U daarin vreugde vind.


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 3 van #Lente kyk ons na die musiekvideo "Whatever Your Plan Is" van Josie Buchanan.

    Uit die liriek: 
    You alone can hold
    This heart and all my hope
    You're the author and the architect
    Of flesh and bone
    My future and my past
    This life and all my plans
    I'm surrendered on the altar
    Light the flame again
    Whatever your plan is
    You will make a way for it
    Whatever Your will is 
    Come and do it here

    https://youtu.be/9MoLLtZIxdE

    3 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…