
Sign up to save your podcasts
Or


“God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in Hom” (1 Joh 4:16).
God se DNS is my en jou DNS. Dit is amper te groot om jou dit in te dink! Tog, daar staan dit - op die eerste blaaie van die Bybel: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem ... God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep” (Gen 1:26-27, uit die Nuwe Lewende Vert.).
As jy vir iemand wil verduidelik wie God is, dan sou jy goedskiks kon sê, “Gaan kyk in die spieël.” Maar, kyk bietjie dieper as jou velkleur en gelaatstrekke en plooie … kyk dieper … nee, verby die are en bloed en senings … nog dieper … Of wag, doen dit anders om. Gaan kyk eers wie God is, dan sal jy ontdek op watter “patroon” jy gesny is.
Daar is een sin wat soos ‘n standhoudende stroom deur die Bybel se blaaie vloei: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” (Eks 34:6). Blaai deur die Psalms, dan staan dit daar (Ps 86:15; 119:156, 145:8). Ook in Joël 2:13 en Jakobus 5:11.
Die Johannesskrywer som God se wese sommer met een woordjie op: liefde. Dit is hoe en wie God is. As daar een ding is waarvan ons oortuig kan wees (sien #19), dan is dit dat God ten volle in en om en by ons is, want niks kan ons van die liefde van God – van God self - skei nie.
Wie is God? Bestudeer die liefde.
Hoe werk God? Ervaar liefde.
Aldus Johannes kyk ek na God elke keer in die gesig van my medemens wat my met liefde bedien. En so sien hulle weer vir God deur my liefdeshandelinge.
LENTE-IN-GELOOF spel ‘n mens só: L-I-E-F-DE.
GEBED: Mag my gedrag vandag met U wese ooreenstem, Liefdevolle God.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 21 van #Lente kyk ons na “O Heer my God” se Akoestiese weergawe deur Vredelust Worship. Dié groep is die aanbiddingsbediening van Vredelust Gemeente in die Noordelike Voorstede van Kaapstad.
https://youtu.be/gRCvx9Z5KKE
“Hiervan is ek oortuig…” (Rom 8:38)
Ek moes langs die pad stilhou om die skoonheid behoorlik te kon inneem: groot, rondewang-wolke, met die verblindendste silwerrandte. Toe ek die motor aanskakel om verder te ry, luister ek halfhartig na die nuusleser wat “nogmaals” vertel van ‘n politieke krisis. Dit maak eintlik nie saak waaroor die berig gegaan het nie; dit het my vinnig-vinnig die soompie van elke wolk laat vergeet; al wat oorgebly het is die donker angstigheid in my hart.
Ek het in my lewe al geleer dat dít waarop ons ons aandag fokus ons gedagtes sal oorheers . Paulus skryf dat daar vir hom een ding is wat álle werklikhede oortref. Hoor hoe begin hy: “Hiervan is ek oortuig…” Die donker wolke op ons horisonne is ‘n realiteit, maar waarop Paulus fokus, is slegs die skitterrende realiteit van God se teenwoordigheid: “(niks) kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom 8:39). Alles in hierdie lewe is veranderlik (die goeie sowel as die slegte), maar daar is een vaste realiteit: dat God die betroubare God is! Hiervan is ek ook oortuig! Duidelik het Salomo ook so gevoel toe hy kniel om voor die altaar te bid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe” (2 Kron 6:14).
Lees Romeine 8:31-39 weer en gou sien jy, daar is geen vooruitsig van rustige waters vir ons lewensbootjies om op te vaar nie. Ons word wel herhááldelik verseker dat God se se karakter standhoudend in ons onsekerheid sal wees. Liefde is ons reisgenoot … daarvan mag ons oortuig wees.
GEBED: Leer my om soos Paulus oortuig te wees van die “regte werklikheid” – U self!
KUNS: Govert Flinck se skidery “Salomo vra vir Wysheid” (1658) in die Koninklike Paleis, Amsterdam.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 20 van #Lente luister ons na “Niks kan ons Skei” deur die groep Manne Wat Glo. Die Manne Wat Glo-projek het onstaan vanuit die behoefte van vier gospel sangers om saam te werk: Jan de Wet, Willie Joubert, Dewald Gouws en Leon Ferreira.
https://youtu.be/pIWdkO2IKRs
“Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind … Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” (Ps 1:2-3).
Wanneer ‘n mens die hand van die “Koesterende Tuinier” (#18) verstoot, gaan iets in jou stelselmatig dood. Jy raak soos “'n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie” (Jer 17:6). Die kwaliteit van jou hele menswees verdroog. Ek ken sulke tye. Dit voel soos ‘n geloofshongersnood.
God sy dank, ons ken ook ander tye! Daardie tye van onwrikbare sekerheid dat God goed is; dat God vertrou kan word. Die Bybel noem sulke mense gelukkig! “So iemand is soos 'n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; 'n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer 17:8-9).
Hulle wat in die skadu van die Here hul skuilte vind, word weer diegene wat hul skadu vir ander aanbied. Jóú sterk boomstam word die stut waarteen ander kan leun; jóú vrugte is die padkos vir iemand wat geloofshongersnood ervaar. Heeljaar lank! Mense wat hul wortels laat groei tot by die rivierwalle, word deur God sélf regop gehou! Sulke mense help om ander weer regop te hou. Aldus die profeet Esegiël bied hulle blare die medisyne om ‘n siek samelewing te herstel. Hoe kry hulle dit reg? Hulle voeding kom direk uit die heiligdom (lees Eseg 47:12).
Mag ons vandag, deur die genade van die koesterende Tuinier, groei tot ‘n kwaliteit boom wat vir die moeë voetgangers op die sypaadjie van die lewe ons hand kan uitsteek.
GEBED: Voed U my sodat ek weer ander kan voed, my Here.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 19 van #Lente kyk ons na die liriek-video van Psalm 1 deur die groep Sons of Korah.
Sons of Korah is 'n Australiese groep wat daarop fokus om 'n vars stem aan die Bybelse Psalms te gee. Die Psalms was die primêre bron vir die aanbiddingstradisies in antieke tye. Met hul unieke akoestiese, multi-etniese klank slaag hulle om aan hierdie Bybelse liedereboek 'n dinamiese en emosionele nuwe musikale uitdrukking te gee.
https://youtu.be/TYhQATf8HDw
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
“Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” (Mark 6:26-29).
Jesus begin bykans elke gelykenis met hierdie woorde: “met die koninkryk van God gaan dit só…” (Mark 6:26). Hy gesels oor die regte grondtipe waarin saad kan wortel skiet (bv Matt 13). In Luk 13:6-9 vertel Jesus die gelykenis van die vyeboer wat uit radeloosheid vir die tuinier opdrag gee om ‘n “droeë” vyeboom uit te kap. Maar die tuinier antwoord: “Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.” ‘n Ander keer leer Jesus die dissipels dat God, die Vader, die wingerdboer is, en Hy die wingerdstok. Soos ‘n druiweprieël is ons die lote wat opgelei word om groot druiwetrosse te dra (lees Joh 15:1-8).
Al hierdie verhale leer ons om uit te kyk vir die “Koesterende Tuinier” – die Een wat die potensiaal raaksien en pleit vir nóg ‘n kans! Die Een wat met sorg sélf die graaf neem en omspit en bemes. Só lief het die Tuinier die tuin (die mensdom – aldus Joh 3:16) dat Hy sy eie lewe vir die tuin prysgee.
In elke nuwe LENTE-seisoen loop ons saam met die Groot Tuinier tussen die wingerde en die vrugteboorde en die saailande en tuine, en alles spel “LEWE”. Dit is ons gelykenis – jaar na jaar – om ons te leer wat LENTE-IN-ONS-GELOOF beteken. Alles is vir ons illustrasies van hoe ons geloof ook moet “ontkiem en groei” tot “’n volle koringaar”.
GEBED: Hemel-Vader, bewerk lewe in my dat ek ook al meer daardie “volle koringaar” in U oesland kan wees.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 18 van #Lente luister ons na die inspirerende opname van “Wees stil en weet” soos verwerk deur Erik Dippenaar deur die Stellenbosch Madrigaalsangers.
Uit die liriek:
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar –
Ek sal ook jou getrou bewaar.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, ek gee jou krag.
Ek is by jou soos ek beloof.
https://youtu.be/F6iIkQd2y34
“En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade 'n blywende troos en goeie hoop gegee.” (2 Tess 2:16-17)
Mense wat aan hoop vashou is brawe mense. Soos Paulus skryf, hulle word deur God bemoedig en sterk gemaak. Mense wat met hoop leef, leef met waagmoed. Ons het meer sulke mense in ons samelewing nodig! Daar is reeds genoeg – te veel! - mense wat so uitsigloos geraak het oor die toekoms van die mensdom, dat hulle óf heeltemal boedel oorgee en maar net met hul “eie dingetjies” doenig bly; óf opgesweep raak deur ander se leë beloftes en dan onnadenkend optree. Maar, mense wat met hoop leef, is daarvan oortuig dat die goeie die slegte sal oorwin (aldus Rom 12:21). Sulke mense (ons) haal hande uit die sakke “en begin hul/ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor God hulle/ ons bestem het” (Ef 2:10).
Op 28 Augustus 1963 het Martin Luther King sy “I have a dream”-toespraak gelewer. O.a. het hy gesê, “Ek het 'n droom dat … die ruwe plekke gelyk gemaak sal word, en die krom plekke reguit gemaak sal word, en die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en dat alle mense dit saam sal sien. … Dit is ons hoop. Dit is die geloof waarmee ek huistoe gaan. Met hierdie geloof sal ons 'n klip van hoop uit die berg van wanhoop kan kap. … Met hierdie geloof sal ons kan saamwerk (en) saam bid …”.
Mag jy saam met ander hoopvolle mense droom dat die goeie sal oorwin! Mag ons met ander hoopvolle mense die berg-van-wanhoop wat ons wil verswelg, plat te stoot.
GEBED: U is ons hoop, ons bemoediging en ons versterking!
KUNS: Angelus (Frans: L'Angélus) is 'n olieverfskildery deur die Franse skilder Jean-François Millet, wat tussen 1857 en 1859 voltooi is. Die skildery beeld twee kleinboere uit wat in 'n veld oor 'n mandjie aartappels buig om 'n gebed te sê, die Angelus, wat saam met die lui van die klok van die kerk op die horison die einde van 'n dag se werk aandui.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 17 van #Lente kyk ons na ’n video-opname van Nianell se “Magaliesburg se Aandlied” vir Skouspel 2005.
Uit die liriek:
Wanneer die aand weer kom
Verwerk die droom die dag se son
Wanneer die aand weer kom
Verwerk die droom die dag se sonO, vergeef my al my sondes
Dan lê ek my pyn neer
Dood of hel sal ek nie vrees nie
Want U is my Rotssteen, Heer
https://youtu.be/yGlFV8rojp8
“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is 'n tyd om gebore te word, …'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans” (Pred 3:1, 4)
Die Amerikaanse sangeres, Jennifer Rush, het gesê, “As hoop ‘n geur gehad het, sou dit ruik soos LENTE; soos reën; soos iets nuuts en lewendig.” (Ek glo dit ook - HOOP is vir my ‘n mooi sinoniem vir LENTE – Sien #4). Maar, hoe hoop ‘n mens wanneer jou lewe voel asof dit in duie tuimel?
Alle mense praat een of ander tyd in hul lewens die “taal van droefheid.” Ek dink sommer aan my sus se gesinsvriende wat in ‘n motorongeluk betrokke was – ons vriend en hul oudste seuntjie sterf, die dogtertjie is verlam; self gaan ons vriendin vir altyd gestrem wees, een seuntjie is ongedeerd. Hoe gaan jy aan met jou lewe? Ag, so kan elkeen ‘n storie vertel…
Maar, soos ons algaande raaksien dat lewenswinters weer met nuwe seisoene opgevolg word, ontdek ons ook dat ons geskape is met die vermoë om weer regop te kom. Soos die Dawid skryf, “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer” (Ps 30:6). Ja, ons onthou “agteruit”, maar gelydelik leer ons om weer vorentoe te kyk. Hoop raak die anker om aan vas te hou terwyl jy ronddobber.
Hoop loop hand-om-die-lyf met geloof en vertroue. Hoe nader ons aan God beweeg, hoe duideliker word die wese van God (aldus Jak 4:8). Hoop is om die krag van God te te vertrou, en dan – algaande asof deur ‘n magneet - nader getrek te word in God se kragveld in.
Mag jy vandag al meer die GEUR VAN LENTE aanneem, soos die HOOP in jou groei.
GEBED: Trek my in U kragveld in en versterk my hoop; Genadige God.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 16 van #Lente kyk ons na die liriek-video van Chris Renzema se lied "Springtime".
Uit die liriek:
We will sing a new song
'Cause death is dead and gone with the winter
We will sing a new song
Let hallelujahs flow like a river
We’re coming back to life
Reaching toward the light
Your love is like springtime
https://youtu.be/aYdkqhnGviE
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbe
“Humor is 'n voorspel tot geloof en lag is die begin van gebed.” (Reinhold Niebuhr)
Nog is het einde niet! G’n mens kan in twee dae (#13, #14) alles sê oor lag nie. N.a.v. Spr 17:22 (sien #14) het ek besef, ons kan Salomo se woorde gerus aanpas: “'n Vrolike gelowige is 'n gesonde mens, 'n uitsiglose gelowige put almal om hulle uit.” Immers het nog ‘n groot teoloog, Thomas van Aquinas, geleer, “Dit is nodig vir die verslapping van die gees dat ons van tyd tot tyd gebruik maak van speelse dade en grappies."
Ek wonder wanneer laas het ek ‘n preek gehoor (of self gepreek) oor “speelse dade en grappies” ? Teresa van Avilla (‘n 16de eeuse non) het eenmaal gebid: “Ag Here, hierdie priesters van ons is so stram en ernstig, wil U nie deur U Gees kom en hulle kielie tot hulle uitbars van die Lag nie.”
Hoe lekker! Om bietjie deur die Gees “gekielie” te word! Dalk sal ons dan uit die Kerk stap met gesigte stralend van blydskap, vrolik van al die feesvieringe wat ons pas ervaar het, opgewonde oor die avontuur wat nou voorlê, omdat ons weet: God leef!
Wonder jy of Jesus grappies kon vertel? Gelag het tot sy oë traan? ‘n Sin vir humor gehad het? Ek dink so! Eenmaal het Hy gesê dat dit makliker is “vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as wat dit vir ‘n ryk man is om hemel toe te gaan” (Matt 19:24) Kan jy jou daardie kameel indink! nie. Nog erger, vir die Fariseërs sê Hy, “Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.”
Mag jy, ondanks jou lewensomstandighede, nie die vreugde om te leef verloor nie. Die dankbaarheid wat jy vandag ervaar verdryf die toekoms se onsekerheid.
GEBED: Maak elke oomblik vir my Godsoomblik, dan sal elke oomblik vir my ook ‘n vreugde-oomblik wees!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 15 van #Lente kyk ons na die musiek-video van die pas vrygestelde “Ich laufe zum Vater", die Duitse weergawe van Cody Carnes se liedjie 'Run To The Father' deur die Duitse-groepe Urban Life Worship & Outbreakband.
Juri Friesen van Outbreakband skryf: " 'Ich laufe zum Vater' resoneer met die waarheid oor God, ons Vader, en verf verskeie foto's van Sy liefde.’” Hulle visie is om 'n passie vir die Here en vir aanbidding in die jeug van Duitsland en aangrensende Duitssprekende lande aan te moedig.
https://youtu.be/PtW0d24CHJk
“'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput..” (Spr 17:22)
Ek wonder hoekom is ons so ernstig? (Dit mag dalk net ek wees!) Martin Luther het baie oor lag en humor geskryf. “Die hemel is die geboorteplek van lag”, het hy geskryf. Ons het rede om bly te wees, skryf hy, want “Die hart wat die vreugde van God leer ken, loop oor van dankbaarheid en is dansend van blydskap.” Mense wat dans is mense wat die lewe geniet. En mense wat die lewe geniet is laggende mense.
Daar is al soveel navorsing oor die waarde van lag gedoen! As jy pyn wil verlig; of angstig is; selfs bekommerd, leer om uit jou maag te lag, so sê die navorsers. As jy vir ‘n eksamen moet leer; of selfs net vir ‘n moeilike vergadering voorberei, lag eers lekker – jy sal helderder kan dink. Humor in tye van tragedie verlig die intensiteit daarvan.
Duidelik het Salomo iets oor vrolik-wees verstaan: “Blydskap laat 'n mens se gesig straal …Stralende oë bring blydskap” (Spr 15:13, 30).
Wat sou Salomo oor ons sê, wanneer ons so maklik eerder die doemprofete se boodskappe as die waarheid aanvaar? Tussen die vingerswaaiery en die voorspellinge van wat nog alles verkeerd sal gaan (“want die einde is op ons”), klink dit asof die donkerte die Lig oorwin (met apologie aan Jesus wat sê dat die duisternis nie die Lig kan uitdoof nie – Joh 1:5).
Begin lag! Waarom? Die Psalmdigter gee die rede: “Die Here het die lot van Sion verander, die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly. Dit was vir ons soos 'n droom. Ons het gelag en gesing.” (Ps 126:3 en 1). ‘n Laggende volk begin by laggende mense.
Wat weerhou jou om vandag te lag?
GEBED: Dankie dat U aan my die genade van lag en die gawe van dans gee!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Ef 5:22-23a)
‘n Geloofsvriendin stuur onlangs vir my hierdie boodskap: "Die lewe bied soveel deure, maar jy moet self besluit watter om oop te maak, watter om toe te maak en watter om ongeraak te laat. Mag jou lente-deure vir jou goedheid en guns inhou! God se geskenke oortref enige mens se drome.”
Ons kan nog lank praat oor al die dinge wat ons - na ‘n winterslaap – wil agterlaat. Maar dalk is die uitdaging om dieper te delf in die geskenke wat God vir ons aanbied, sou ons saam met God oor die drempel van die LENTE-DEURE trap.
Die bekende John O’Donohue* (Ierse digter en priester) het hierdie seënbede geskryf:
“Mag jy jou siel met skaterlag skoonwas.
Mag jou swaarmoedigheid deur genade verlig word.
Mag jou gedagtes gevul wees met eerbied en respek.
Mag jy vry wees om te word wie jy bedoel is om te wees.
Mag jy perspektief gegee word.”
Wat Paulus in Gal 5:22-23 skryf, is presies dít – sy seënbede vir ons : “(Mag) julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word” (Gal 5:16), dan sal julle lewens oorloop van daardie dinge wat van jou ‘n gelukkige, geseënde en vervulde mens maak. Laat die Gees jou hand neem, en jou oor die drumpel lei. ‘n Ganse nuwe lewe wag vir jou!
Sien jy ook deesdae soveel onvergenoegde, onvervulde mense om jou soos ek: Sondag-in-die-kerk mense, maar Maandag ontevrede met die lewe. Ongeduldige gelowiges. Strak-gesig christene.
God bied vir ons ‘n hand aan om ons te lei op die pad van vreugde en gemoedsvrede. Hand-aan-hand wil God ons leer hoe om te lag en lig te leef. Die voetpaadjie van vergifnis en versoening te stap.
Mag die LENTE-DEURE vir jou oopgaan en goedheid en guns jou inwag.
GEBED: Dankie dat U my om my hand vra, Here!
Uit A Blessing for Equilibrium, John O’Donohue.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 13 van #Lente kyk ons na ’n musiek-video van Sinach se treffer “Way Maker” in Hebreeus, Arabies en Engels.
Dié video-opname is in Jerusalem gedoen en die sangers is Rebekah Wagner, Joshua Aaron, Nizar Francis en Shilo Ben Hod. Dankie aan ’n leser wat dit aanbveel het.
https://youtu.be/HhbtVCI67pw
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe…” (Ef 3:20-21)
‘n Wyse mens het eenmaal gesê, “Soms is die grootste risiko juis dat jy nie bereid is om die risiko te neem nie.“ Ek glo dit heelhartig! Ons word nie die geskenk van lewe gegee, en daarna in veilige watte toegedraai nie. Die lewe is daar om gelééf te word. Natuurlik nie op ‘n dwase wyse nie. Immers het ‘n ander wyse ons geleer, “Dit betaal om jou verstand te gebruik” (Pred 10:10). Maar ja, hande wat gevou sit, gaan baie min bereik. Prediker leer darem ook, “Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek” (Pred 10:18).
Nadat Moses gesterf het, is Josua gekies om die leier van die Israeliete te wees. Natuurlik moes hy bang gewees het vir die uitdaging, maar daarom hoor hy “wees sterk en vasberade” (Jos 1:6). ‘n Tweede keer word dit herhaal, “Wees veral sterk en baie vasberade” (Jos 1:7). Dan ‘n derde keer, “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Jos 1:9).
Is daar ‘n uitdaging nóú op hande? Hier is die raad wat jy moet volg: Hou God se Woord as die rigsnoer van jou lewe. “Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees” (Jos 1:8).
As die krag van God in jou werksaam is, wil God dalk oneindig meer met jou doen as wat jy kan droom (Ef 3:20). Vertrou God!
GEBED: Ek weet nie hoe U my wil gebruik nie. Plant U droom in my hart. Rig my gedagtes. En leer my om ten volle op U te vertrou.
KUNS: Moses seën Josua voor die Hoëpriester (waterverf omstreeks 1896–1902 deur James Tissot)
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 12 van #Lente kyk ons na ’n musiekvideoopname van “Joshua” deur die Stellenbosch Universiteitskoor. Die verwerking is deur Stacey V. Gibbs.
https://youtu.be/MHraYGGPSBQ
From the publisher's feed