
Sign up to save your podcasts
Or


“Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” (Jes 30:15a – Die Boodskap)
Winter is ‘n tyd vir stilword; dit is wagtyd. Vir ons in die suidelike halfrond dalk nie soveel soos daardie donker winters van die noorde nie. Daar word mense gedwing om binne te bly … en te wag… Die sonstrale sal weldra die dae langer rek. Ons wat aan “son en see” gewoond is hou nie baie van binne bly nie. En veral nie van wag nie! Maar, mense wat nie geduldig in ‘n situasie kan wag nie, raak maklik ongeduldige mense.
Ongeduldige mense ondersoek selde hulle lewens. Sulke mense mis die rykdom van die winter. Ongeduldige mense gee selde tyd vir ‘n gedagte om “ryp” te word. In hul ongeduld gryp hulle in en probeer self ‘n situasie red. Sulke mense verleer om soos Dawid te sê, “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!” (Ps 27:14, 1953-vert). Ongeduldige mense probeer die ysige ongemak van die lewe vinnig “uitsorteer.” En tog is dit juis die ysige koue fronte in die lang winterslaap wat die saad in die grond laat ontkiem om te kan groei.
Dalk het jy ‘n begeerte dat iets in jou lewe moet gebeur. Dalk bloot dat jy weer geloofsvreugde kan ervaar; of dat die pyn en trane, dalk teleurstelling, weer in vreugde kan verander; dalk bloot om weer hoop te vind. Moenie ophou wag nie, want wag bied jou die kans om te ontdek. Soos Pete Greig geskryf het, "Soos ek op God wag, so wag God op my; God wag om te sien of ek regtig vir Hóm wag, en nie net dinge van Hom wil hê nie."
GEBED: HEMEL-VADER, op U alleen is my vertroue, en op U alleen wag ek.
KUNS: “Wait on the Lord” deur www.chrisduffettart.com
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 2 van #Lente luister ons na “Ek Wag Op Die Here” deur wyle Ivan Siegelaar. Dit is op sy album “I learn to fly” wat opgeneem in die maande voor Ivan se siekte en daaropvolgende afsterwe. Die musiek en woorde is deur Johannes Coetzee. Ivan het in 2013 op uitnodiging saam met Barbra Streisand in Amsterdam opgetree.
Uit die liriek:
Die sorge van die lewe maak ons soms depressief
Dan roep ons uit die dieptes met harte swaar gegrief
Maar in Sy woord belowe God dat hul wie op Hom wag,
Hul hoop net op die Here stel dié gee Hy nuwe krag
Ek wag op die Here, ek hoop op sy woord
Ek wag op die Here, Hy ken my hart en nood
Sy goedheid ken geen einde, in die skadu van die dood
Bewys Hy Sy genade is onbeskryflik groot
https://youtu.be/S7G_T0_oc6I
“Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad.” (Heb 12:12-13)
Hier in die Suidkaap waar ek woon het ons al geleer om nie te vinnig die wintersklere weg te pak nie. Hou maar jou verhouding met jou “menslike verwarmer” liefdevol, want vanaand mag jy dalk net nog nader wil skuif om jou voete warm te maak. Koue fronte storm op verskillende maniere op ons af – dit is veral die emosionele koue fronte wat soos vlae ysigheid oor ons kan waai. Maar dan onthou ek die goeie raad van Lilly Pulitzer, “Ten spyte van die weervoorspelling, leef asof dit lente is.”
Ek weet dit is waar. Ons staan nie bakhand vir geluk nie … ons is medewerkers van ons eie geluk. Nie daardie naïewe soort gelukkig-wees waarmee ‘n storieboek eindig nie. Nee, volwasse gelowiges weet dat die Bybel gelyktydig vol beloftes en vol opdragte is. Psalm 126:5 leer ons, “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.” Getrouheid, ten spyte van omstandighede. Getrouheid omdat jy die Beloftemaker glo.
Die boodskap van Hebreërs is duidelik: hoe meer jy jou “geloofspiere” oefen, hoe regopper kan jy staan. Die lewe en die nukke van menswees kan maar soos stormwolke oor jou waai, en nogtans kan jy jubel. Dit is mos wat Habakuk ons leer: “Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, … nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder” (Hab. 3:17-19). Nogtans! Nogtans! Dit is vandag ons jubelwoord.
GEBED: Vreugdevolle-God, vandag gee U aan my ‘n keuse oor hoe ek na my lewe wil kyk. Ek wil oefen om reg te kyk. Al gebeur wat ook al.
KUNS: Hebrews 12 van Pam Herrick Prophetic Art
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Ons is skop die nuwe reeks #Lente lewendig en alternatief af met ’n video-opname van die Afrikaanse rock-sanger en dromspeler, Ghapi, se verwerking van “Hoe Groot is U”.
Uit die liriek:
Dan moet ek juig
My Redder en my God
Hoe groot is U
Hoe groot is U
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer
U groote naam
Ghapi is die verhoognaam van Philip Botha wat in die laat negentigs saam met sy broers Andries en Conrad Botha bekend was as die gewilde rockgroep Georgia. Dié video-opname is by die Inniebos-fees gedoen.
https://youtu.be/KZDdr7Yx5qQ
Ek kan nie aan ‘n beter manier dink om ‘n reeks oor IMPAK af te sluit as met ‘n boodskap van hoop nie. Christene is die ontvangers en die uitdelers van hoop! Die Evangelie is die boodskap van hoop. Die woord “evangelie” (wat in Grieks beteken: “die goeie nuus van die engele”) is die engeleboodskap van hoop. Dit is die boodskap van die engelekoor vir die skaapwagers, daardie aand toe Jesus gebore is: “Vandag is daar vir julle gebore die hoop vir die wêreld” (Luk 2:8-20).
Gister (#30) het ons in Rom 15:2 gelees, “Elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.” In Rom 15:4 lees ons, “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.” Jy sit met die boodskap van Hoop in jou hande, die oomblik as jy die Bybel oopmaak!
Paulus, die boodskapdraer van goeie nuus, af met ‘n gebed in Rom 15:13. Hierdie is die gebed wat ek vandag spesifiek vir jou ook bid: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees” (Rom 15:13).
Mag jou hoop al sterker en sterker groei.
Mag jy volkome op God vertrou!
Mag jou lewensvreugde toeneem.
Mag ‘n geseënde wees omdat jy ‘n vredemaker is.
Mag die krag van die Heilige Gees jou oorweldig.
Mag God met jou lewe bereik waarvoor God dit bedoel het: om namens God ‘n werklike IMPAK op die wêreld uit te oefen.
GEBED: Dankie dat ek met my bakhande álles wat ek nodig het by U kan kom ontvang. Leer my om met oophande weer álles uit te deel.
KUNS: Pastel skets vir Die Geboorte van Christus deur Sir Edward Coley Burne-Jones, 1887. Tans in die Nuwe Kunsgalery Walsall, Engeland.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 31 van #Impak kyk on na die video-opname van “Die vreugdelied wat engele sing” deur ‘n massakoor en die Kaapse Filharmoniese-orkes onder leiding van Chad Hendricks.
https://youtu.be/zPFx6gGdy3w
Wat hoop jy sal mense eendag op jou begrafnisdiens van jou sê? Dit moet tog net eerlik wees, want jy het sekerlik ook al ‘n eulogie (wat letterlik beteken, “mooi woorde”) van iemand aangehoor waar soveel prysenswaardige dinge oor die afgestorwene gesê word, dat jy wonder of jy dan nou by die regte begrafnis is. Die mens wat jy geken het, is nie die mens oor wie daar nou gepraat word nie!
Die woord “reputasie” kom van ‘n Latynse woord – “reputare” – af, wat “om weer te dink” beteken. “Dade spreek harder as woorde,” leer die gesegde ons. ‘n Mens se reputasie hang veel meer van jou gedrag af as van jou woorde. Woorde kan vinnig uitgevee word, maar dade is soos ink wat droog geword het – dit is “leesbaar”, selfs lank nadat jy dood is.
In Rom 15:2 skryf Paulus die eenvoudigste woorde, maar tog is dit presies wat met “reputare” bedoel word: dit dwing jou om weer oor jou eie lewe na te dink. Daar skryf Paulus: “Elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.” Wees ‘n “opbouer”, nie ‘n “afbreker” nie! In 2 Kor 10:33 sê Paulus, “Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.” Voor jy enigiets doen, vra jouself eers af of dit vir jou naaste se beswil sal wees? Fokus jy op die welsyn van die omgewing, of fokus jy net op wat vir jou goed is?
Ek besef skielik, dat die mens wat Rom 15:2 hul lewensmotto maak, werklik ‘n reuse leemte sal laat wanneer hulle die dag tot sterwe kom! So iemand het waarlik ‘n LEWE VAN IMPAK geleef.
GEBED: Here Jesus, U het nie aan Uself gedink nie. Nie eers in U dood nie. Maak my ook so.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 30 van #Impak luister ons na “Romans 15:13 - Benediction Song” deur Cheri Keaggy.
Uit die liriek:
May the God of hope fill you with all joy
And peace as you trust in Him
So that you may know and overflow
With hope by the power of the Holy Spirit
May the God of hope fill you with all joy
And peace as you trust in Him
So that you may know and overflow
With hope by the power of the Holy Spirit
For He is good, His love endures forever
We walk in Him and live for evermore
May the God of hope fill you with all joy
And peace as you trust in Him
https://youtu.be/EYL69BZJWH4
September 2022 is oor enkele dae ‘n realiteit . September is vir my ‘n hoogtepunttyd. VIr wie is dit nie … Al kom daar nog ‘n enkele kouefront weet jy: julle dae, ysigheid, is getel! Nou is dit ‘n nuwe seisoen se beurt.
https://youtu.be/cJk6pQxP5iQ
Iets gebeur met ons wanneer ons weet die lente breek aan – soos Rainer Maria Rilke, die Duitse digter, geskryf het: “Dit is weer lente. Die aarde is soos ’n kinders wat hul gedigte uit hul kop ken.” Alles word om ons wakker; begin lewe; en ons begin ligvoets beweeg – ook vir die Here.
Geen seisoen beeld vir ons die opstanding so helder uit soos die lente nie. Die donker van die graf bars oop. Martin Luther, die Kerkvader, het gesê: “Ons Here het die belofte van opstanding geskryf, nie in boeke alleen nie, maar in elke nuwe blaar in die lente." Ons weet dat aan ons beloof is ‘n toekoms van vernuwing; nie net nou, in hierdie lenteseisoen nie, maar ook in die lewe hierna.
Ons buurvrou het vanoggend met hierdie pot clivias by ons opgedaag. Dit is haar eerste clivias wat begin blom. Sy het dit kom aanbied as haar lentegeskenk. My geskenk aan jou is ‘n nuwe reeks wat op 1 September begin – ek noem dit bloot #LENTE.
Ek nooi jou om saam met my dieper in die Bybel te delf oor vernuwing en beloftes van God se getrouheid om ons nuut te maak. Wanneer ‘n mens na vernuwing kyk, kan jy nie anders as om ook die teenpool daarvan te bestudeer nie. Vernuwing kan op vele fasette van jou lewe kom: nuutheid in verhoudings; nuutheid van persepsies; nuutheid in jou geloof.
Sou jy wonder: ek is 'n opgeleide teoloog en wy my lewe daaraan om verantwoordelik met die Bybel te probeer omgaan. Dit is my roeping om mense toe te rus om in hulle geloof te groei. Daar is ‘n plek vir alle invalshoeke, maar ek verkies om vir mense te skryf wat al deur die meule van die lewe gegaan het en nie met maklike en oppervlakkige antwoorde tevrede is nie. (Dalk skryf ek vir myself, oor dit wat ek nog moet leer, oor die vrae wat die lewe by my wakker maak, oor die werk van die Gees in my eie lewe.)
As jy nog nie deel is van hierdie groeiende internetbediening nie, besoek gerus www.ronellbezuidenhout.co.za vir meer inligting.
Ek nooi jou uit om die daaglikse meditasie-boodskap op Facebook, Instagram en op ons webwerf te lees en op potgooi-platforms daarna te luister.
Jy kan dit ook daagliks per WhatsApp ontvang, maar ingevolge die nuwe Popi-wetgewing moet jy self daarvoor inteken op die skakel onder. (Behalwe as jy reeds deel van ons daaglikse WhatsApp-groep is).
Jy kan daarop staatmaak dat die boodskappe altyd op dieselfde tyd, via whatsapp, uitgestuur word. Jy kan kies tussen 21:00 of 06:30 vir jou dagstukkie se lewering. Ons deel ook ekstra inligting, video's en selfs musiek op Facebook en Instagram en die webwerf.
Hierdie boodskapreeks werk op ‘n vrywillige donasie basis. Bydraes word wel opreg waardeer. Ek is dankbaar vir die gawe van woorde en tegnologie om steeds in God se koninkryk te kan werk. Jou bydrae maak dit moontlik .
Klik en lees meer oor die reeks: https://ronellbezuidenhout.co.za/lente
Agtergrondmusiek: Edvard Grieg - Peer Gynt - Suite No. 1, Op. 46 - I. Morning Mood, Slowaakse Filharmoniese Orkes
#Lente #LeefHoop #ElkeDag
Min boeke dra die titel as die “mees gelese christelike boek naas die Bybel.” Om te dink die skrywer, Thomas van Kempen, is reeds in 1471 dood. Die boek het oorspronklik in Latyn verskyn as “Imitatio Christi.” Soos Paulus in 1 Kor 11:1 van homself sê, so moet ons dit ook van onsself sê: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”
Op een plek sê Thomas van Kempen, “Wat baat dit om die Bybel volledig uit ons kop te ken as ons die genade en liefde van God nie ken nie? Laat ons vernaamste poging wees om die lewe van Jesus Christus te bestudeer. Wie die woorde van Christus verstaan, sal probeer om hul hele lewe volgens die ‘patroon’ van Jesus Christus leef.” Daar is net een manier om die genade en liefde van God te demonstreer, en dit is om “soos Jesus” te leef. Mag ek myself verstout deur te sê dat ons vandag in ons land (eintlik oor die wêreld heen) ‘n groeiende behoefte het om meer gelowiges teë te kom wat “soos Jesus” leef? Veral omdat daar soveel mense is wat - soos Thomas van Kempen sê - “vrede begeer, tog is daar bitter min wat dáárdie dinge begeer wat vrede skep."
Hoe gepas is die gebed van Thomas van Kempen dan nie vir elkeen van ons nie: “Laat U naam geprys word, nie myne nie. Laat u werk, nie myne nie, grootgemaak word. Laat u heilige Naam geseën word, maar laat geen menslike lof aan my gegee word nie. U is my glorie. U is die vreugde van my hart.” Gryp ons aan ons hart met U liefde en genade, ons Here (want dit is wat IMPAK beteken), sodat ons niks anders sal soek behalwe God se liefde nie. Vir ons en vir ons medemens.
GEBED: Here Jesus, U het ook my “patroon” geword. Gryp my met U genade en U liefde aan.
KUNS: Die binne-voorblad van die “De Imitatione Christi Libri Quatuor” deur Thomas Kempis gedruk in 1658.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 29 van #Impak kyk ons na die musiek-video van Sanctus Real se lied “Confidence”.
Uit die liriek:
I’m not a warrior
I’m too afraid to lose
I feel unqualified for what you’re calling me to
But Lord with your strength
I’ve got no excuse
Cause broken people are exactly who you use
https://youtu.be/KA9kSBv1QrI
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Voor Jesus se dood was die dissipels maar bra papbroekig. Immers het hulle Hom almal “in die steek gelaat en weggehardloop” toe Jesus in die tuin van Getsemane gevange geneem is (Mark 14:50). Na die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2) het dinge heeltemal verander - bang dissipels verander in brawe dissipels. Lees nou maar net Handelinge 4 - Petrus en Johannes is in die tronk gestop nadat Petrus ‘n verlamde man genees en daarna “in die pilaargang van Salomo” begin preek het (Hand 3). Nadat hulle ‘n naglank in die selle moes deurbring, het die raadslede hulle laat roep, want hulle weet, “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” Petrus het geantwoord: “in die Naam van Jesus Christus van Nasaret – dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het” (4:11).
Stom van verbasing was die raadslede “toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense” (4:13). Ten einde laaste word die dissipels beveel “om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie” (4:18). Waarop Petrus en Johannes antwoord, “Dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (4:19). Eens papbroekiges word nou moedige getuies.
“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” leer 2 Tim 1:7. Dit is die IMPAK wat die uitgestorte Gees op gelowiges het. Dit is hoe die Goeie Nuus uitgedra is deur die eeue. En vandag sit ons dit steeds voort. Soos Billy Graham gesê het, “Moed wat van God kom is aansteeklik. Wanneer 'n dapper man standpunt inneem, word ander se ruggraat ook sterk gemaak.”
GEBED: Maak dit vir my ook onmoontlik om nie oor U te getuig nie, my Here.
KUNS: Die Raphael Sketse: Die Genesing van die Kreupel Man Raphael se sketse word beskou as een van die grootste skatte van die Renaissance. Hierdie groot, skaalontwerpe vir tapisserieë is geskep deur Raphael - een van die belangrikste meesters van die Renaissance. Die prente in opdrag van Pous Leo X kort na sy verkiesing in 1513 vir die Sistynse Kapel in die Vatikaanpaleis beeld sleutel-episodes uit die lewens van Petrus en Paulus uit.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 28 van #Impak kyk ons na die musiekvideo van Francesca Battistelli se ”Holy Spirit”.
Uit die liriek:
There's nothing worth more
That could ever come close
No thing can compare
You're our living hope
Your presence, Lord
https://youtu.be/BoZd7ZXh9yY
Een of ander tyd loop almal ‘n bloutjie a.g.v. die skelmstreek van ‘n “oënskynlike” eerlike mens. Dalk het jy ‘n netjiese motortjie gekoop, net om veel later agter te kom dat die mooie tjorrie in ‘n ongeluk betrokke was en die bakwerk mooitjies reggemaak en oorgeverf is? Of, dalk is jy al om die bos gelei om te glo dat jy ‘n waardevolle kunswerk ontdek het; en wanneer jy later jou pronkstuk wil verkoop, hoor jy dit is ‘n “made in China” namaaksel. Baie dinge lyk bolangs mooi; maar is in wese van ‘n baie swak gehalte.
By Jesus werk dit andersom. Jesus verander die waardelose tot ‘n kosbare kunswerk! Waar ons onsself (of ander) geboei wil hou aan al ons tekortkominge, doen Jesus dit nie. Soos Gal 5:1 (uit die Boodskap-vertaling) dit stel, “Christus het ons vrygemaak om regtig vry te wees. Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van hulle skewe sienings maak nie.” Dit is sekerlik die grootste IMPAK van Jesus op menselewens: Jesus is nie ‘n paneelklopper wat net ‘n paar duike reg “dokter” en die res laat soos wat dit voorheen was nie. Dit is waarom Paulus in 2 Kor 5:17 kon skryf, “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” In 2 Kor 4:16 leer hy ons dieselfde, “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.” Saam met hierdie vernuwing kry jy ‘n betroubare “sertifikaat” – geteken in bloed!
Adrian Rogers het eenmaal gesê, “Dieselfde Jesus wat water in wyn verander het, kan jou huis, jou lewe, jou gesin en jou toekoms transformeer. Hy is steeds in die wonderwerk-besigheid, en Sy besigheid is die besigheid van transformasie.”
GEBED: Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. (Ps 51:12)
KUNS: “Die huweliksfees in Kaänan” (1504), deur Nederlandse skilder Juan de Flandes.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 27 van #Impak kyk ons na ‘n video-opname van “Honey In The Rock” deur Brooke Ligertwood en Brandon tydens Passion 2022.
Uit die liriek:
There’s honey in the rock
Water in the stone
Manna on the ground
No matter where I go
I don’t need to worry
Now that I know
Everything I need You’ve got
There’s honey in the rock
Praying for a miracle
Thirsty for the Living Well
Only You can satisfy
https://youtu.be/3TcMSUFYIpI
mpakOns is bykans klaar met nóg ‘n maand se skrifnadenke. Laat ons hierdie laaste paar dae die vergrootglas plaas op die impak wat Jesus op mense deur die eeue gelaat het. Daar word vandag saamgestem, daar was nog nie weer iemand wat die mensdom só ingrypend beïnvloed het nie soos hierdie rabbi van Nasaret. ‘n Arm man, sonder status, wat net 33 jaar geleef voordat hy doodgemaak is. Self het Hy nie ‘n enkele sinnetjie op skrif nagelaat nie, tog is daar geen mens oor wie se lewe soveel boeke geskryf is nie, en dit net oor die laaste drie jaar van sy lewe.
Plinius, ‘n Romeinse goewerneur wat in sy tyd vele christene tereg gestel het, het oor hierdie volgelinge van Jesus gesê, “nooit het hulle enige bedrog, diefstal, owerspel gepleeg nie, nooit valse getuienis gelewer nie; of op hul woord teruggegaan nie.” Vele regeerders (soos die Farao’s, Aleksander die Grote en Romeinse keisers) het ook na hulself as “seun van God” verwys, maar nie een van hulle het – soos Jesus – bemoeienis gemaak met kinders en melaatses en armes en weduwees-en-wese nie; en vir wie vroue net so belangrik was as mans en slawe so belangrik soos rykes nie. Soos die kerkvader, Augustinus, gesê het, “Plato en Cicero se werke het ek alles gelees, maar nêrens het een van hulle geskryf, ‘Kom na my toe almal wat vermoeid en oorlaai is’ nie." Of soos ‘n ander kerkvader, Clement van Alexandria, dit gestel het: “Hy het sy dissipels se voete gewas, met 'n handdoek om sy middel gedraai - Hy, wat die Here van die heelal is!”
Soos Paulus skryf, “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan…” (Ef 3:18-19).
GEBED: Here Jesus, dankie dat ek in U lewe U liefde leer ken.
KUNS: Julia Stankova (Bulgaars), Christus en Bartimaeus, 2017. Skildery op houtpaneel.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 26 van #Impak luister ons na “Kom Na My Toe” van Chris Lamprecht deur Johann van der Sandt en die Oos-Rand Jeugkoor.
https://youtu.be/FqoTFQmGVmI
Dit voel soms asof die “aanslag” op christene vandag erger is as vroeër – soos iemand eendag vir my gesê het, “net mense wat nie vir hulself kan dink nie, hou hulle met sulke ‘tjol’ besig.” Maar lees jy die verhaal in Markus 15:3-9 weet jy dit is nie waar nie! Hierdie naamlose vrou het haarself sekerlik nie kon indink hoeveel kritiek sy sou kry nie, want, Almal “het teen haar uitgevaar” (aldus v5)! Sy mors, het hulle gesê. Hoeveel arm mense sou nie deur haar spandabelrigheid gevoed kon word nie, het hulle gesê. Maar, die ware kritiek was ongesê: sy het die Here Jesus werklik liefgehad! Dít het niemand besef nie, behalwe Jesus.
Ja, met die geld vir daardie "fles egte, baie duur nardusolie" wat sy oor Jesus se kop uitgegooi het, kon beslis baie armes gevoed word. Maar, dan lees jy hierdie besondere mooi woorde: "Wat sy kon, het sy gedoen" (v8)? Sy het Jesus reeds vooruit vir sy dood gesalf. Nie een ander een rondom die tafel kon dit sê nie. Presies soos Jesus voorspel het, het dit ook uitgedraai: “Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar” (v13). 2000 jaar later, en dit is steeds waar! Wat uit liefde gedoen word, word onthou, want liefde het altyd ‘n IMPAK!
Ek kan my nie ‘n mooier nalatenskap indink nie as dat die Here van ons ook sou sê, “wat hulle kon, het hulle vir My gedoen.” Ja, daar sal altyd kritiek ook teen óns gevind kan word, maar as daar kritiek teen enigiets is wat ons doen, laat dit wees oor ons liefde wat ons vir Jesus Christus het. Laat ons nalatenskap vir geslagte na ons ook ons liefdesdade van geloof wees.
GEBED: Heilige Gees, so maklik wil ek met woorde sê dat ek U liefhet, maar mag my dade eerder daarvan getuig.
KUNS: Jan van Scorel se olie op eikehout skildery “Maria Magdalena” (1530) in die Rijksmuseum Amsterdam.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Impak-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 25 van luister ons na die pragtige lied “My God” deur die Koreaanse groep Levistance op hulle album Nard.
Uit die liriek:
Die Here is my weg
Die Here is my hulp
Lei my op die weg
Waar jy ook al gaan, wat jy ook al doen, die Here is met my.
My Heer, die Sterke Heer, die Here van die Almagtige
My Herem Sterk Kasteel en My Skild
My Heer, die God van getroue belofte
Die Here wat my gered het
Die Here wat die see verdeel
Die Here wat my lei tot vuur en wolke
LEVISTANCE is 'n kontemporêre aanbiddingsmusiekgroep van The Cross Church en Korea House of Prayer (KHOP) in Seoel, Suid-Korea. Die woorde en musiek is deur Haein Park.
https://youtu.be/8CeTxNOgVsU
From the publisher's feed