Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 9 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” (Rom 3:23-24)

    Nooit lees ons dat God sê, “Kom laat ons ‘n verbond maak tussen mekaar nie.” Dit begin altyd met, “Ek sal My verbond maak tussen My en jou ...”   Dit is elke keer o.g.v. wat God doen, dat God vir ons vra om iets te doen.  Tog lees ons sonder uitsondering, hoe God sy “Ek sal”-belofte nakom, maar van getrouheid is daar by mense net nie sprake nie.  Daarom roep Paulus tereg uit:  “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos” (Rom 7:24)?  Is dit nie vreemd dat God net nooit met die mensdom moed opgee nie.  Wat die nuwe verbond (sien Dag 7) anders maak as enige van die vorige, is dat God dan geen eise meer stel nie.  God sal self sorg vir getrouheid!   

    Die twee belangrikste woorde in die Christelike geloof is “GENADE, ALLEEN.” Maar dit is ook die twee moeilikste woorde, want dit voel net te goed om waar te wees.  Daarom hoor ons gewoonlik direk daarna twee ander woorde:  “Ja, maar…”.    Ons moet mos darem iets doen, of hoe?  Maar wat van genade verstaan ons nie!  

    ‘n Mens begin eers werklik die genadige kant van God verstaan wanneer jy besef, daar is werklik niks wat jy sou kon doen om aan God se verwagtinge te voldoen nie!  Al God se verwagtinge vir ons begin by die enkele woordjie:  genade!  Praat ons oor VERWAGTINGE, dan weet ons dat ons eintlik net een verwagting behoort te koester en dit is dat God die genade oorvloedig oor ons lewens sal hou.   Dit is danksy GENADE dat ons al meer groei in ons begeerte om te sê, “ek wil, omdat God het.”

    GEBED: Kelk my toe met U genade, Here, sodat ek ook al meer U wil wil doen.

    KUNS: “Die vervoer van die verbondsark” deur Nicola Malinconico in 1693.

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK: Op Dag 9 van #Verwagting kyk ons na “It Is Well with My Soul”  in vier tale deur die Rooted in Christ-groep.  Hulle skryf hulle is ‘n Christelike musiekgroep uit die pragtige Stille Oseaan Noordwes van die Verenigde State, en met Oekraïense wortels. Maar ons ware wortels word in Christus gevind.”


    https://youtu.be/JoxHRfrFI90

    4 min
  • Dag 8 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees.” (2 Kor. 6:16)

     

    Die God wat ons dien is nie ‘n “CEO” van ‘n maatskappy op die boonste vloer van ‘n hoë gebou nie.  Ook nie ‘n God met wie ‘n mens ‘n afspraak moet maak – of selfs ‘n offer moet bring nie.  Jy kan God nie “pla” asof jy ‘n laspos is nie.  En ja, God geniet nie net die geselskap van staatshoofde wat oor wêreldpolitiek praat nie.  God stel belang in gewone alledaagse beuselagtighede; in jou alledaagse lewe.  Natuurlik stel God ook in die groot dinge belang; maar die wonder van God is dat die Verbondsgod só ‘n persoonlike God wil wees met gewone, alledaagse mense soos ek en jy.

     

    Dit moet ‘n mens eintlik skok, hoe is dit dan dat God ons geselskap bo die van engele en hemelwesens verkies? Herhaaldelik word die belofte bevestig:  Ek is julle s’n, en julle is Myne (o.a. Lev 26:12; Eseg 37:27).  Hoor net hierdie woorde van Jeremia waarin ons ons VERWAGTING kan stel:  “Ek sal hulle (per implikasie, ook vir my en jou) 'n onverdeelde hart en 'n vaste koers gee: (julle) sal My altyd dien vir (julle) eie beswil en vir dié van (julle) kinders. Ek sal 'n blywende verbond met (julle) sluit. Ek sal nooit ophou om aan (julle) goed te doen nie en Ek sal in (julle) die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie. Ek sal dit geniet om goed te doen aan (julle) in my trou…” (Jer 32:38-41).

     

    Dit is vir God lekker om in ons teenwoordigheid te wees. 

    Dit is vir God lekker om aan ons die goeie te gee.

    Dit verskaf vir God vreugde om vir ons goed te wees.

    “Wees net Myne,” vra God.

     

    GEBED: Gee aan my ook ‘n onverdeelde hart en vir my lewe ‘n vaste koers, my Here.

     

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

     

     

    MUSIEK: Op Dag 8 van #Verwagting kyk ons na die liriek-video Dewald Gouws en Jannie Moolman se lied  “Met hierdie lofgesang”.

     

    Die liedjie is genomineer as een van die  #Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings se Geestelike liedjies van die jaar.

    Die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings vind op 29 November 2022 by die Choose Life Church in Pretoria plaas en die projek word aangebied deur Radio Pretoria.

     

    https://youtu.be/WyzIskdQD8o

    4 min
  • Dag 7 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.”  (Gen 17:7) 

    Ons geloof rus op ‘n paar “pilare”.  Een daarvan is ‘n woord wat dwarsdeur die Ou Testament en Nuwe Testament eggo. Dit is ‘n woord wat ‘n bewys is van die goedheid van God.  Meer nog, dit is ‘n woord wat bewys dat God met gewone mense in ‘n verhouding wil staan.  Dit is die woord “verbond.”   

    Daar is herhaaldelike verbondsluitings in die Ou Testament – onder andere sluit God met Noag ‘n verbond na die vloed (in Gen 9). Die bekendste is sekerlik die verbond wat God met Abram gemaak het: “Ek sal jou seën, en jy moet tot 'n seën wees” (Gen 12:1-3, ook 15:18; 17:7).  Met Moses maak God ‘n verbond.  Voordat God die verbond met die Israeliete sluit (in Eks 19) gee God juis die motivering: “Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het” (Eks 19:4).  Dit is die doel van elke verbond:  God wil mense in God se teenwoordigheid hê.  Nie ver nie; maar teen God se hart.

    Die laaste en nuwe verbond wat God sluit is juis in “heilige hartstaal.” God wil nuut begin, maar die keer nie meer  met woorde op kliptafels nie, maar met Sy woorde op mense se harte geskryf en in hul gedagtes vasgelê (aldus Jer 31:33). “Ek sal die kliphart uithaal en julle 'n hart van vleis gee,” soos Esegiël dit verwoord (36:26b).  “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery” (Eseg 36:25).  

    ‘n Persoonlike verhouding met die Verbondsgod.  Dit is God se VERWAGTING, vir jou en vir my.

    GEBED:  Dankie dat U “heilige hartstaal” in my hart gegraveer is, HERE

    KUNS:  Benjamin West se skildery van  Josua by Jordaanrivier met die Verbondsark (1800).

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK: Op Dag 7 van ons reeks #Verwagting kyk ons na die musiekvideo van Cody Carnes en Benjamin William Hastings se pas vrygestelde lied “Take You At Your Word”. 

    Uit die liriek:


    Your word is a lamp unto my feet
    Your way is the only way for me
    It’s a narrow road that leads to life
    But I want to be on it
    It’s a narrow road but the mercy’s wide
    ‘Cause You’re good on Your promise
    I’ll take You at Your word
    If You said it I’ll believe it
    I’ve seen how good it works
    If You start it You’ll complete it
    I’ll take You at Your word

    https://youtu.be/G_U5zlM6N2s

    4 min
  • Dag 6 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat u aangekondig het. (Jona 4:2) 

     

    Ek weet dat dit soms vir 21ste eeuse mense moeilik is om die Bybel te verstaan.  En “nee”, dit is te gerieflik om net te sê, “glo soos ‘n kind.”  Vertrou God, ja, soos ‘n kind ‘n pa of ma vertrou.  Maar, geloofsvolwassenheid impliseer dat ons die “dinge van ‘n kind” agter laat.  “Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind,” skryf Paulus (1 Kor 13:11).  Want, “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” (Heb 5:13)

     

    Die verhaal van Adam en Eva wys hoe moeilik dit is om “goed van kwaad te onderskei”. Selfs Paulus skryf, “Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek” (Rom 7:19 – Die Boodskap). Ons sal elkeen ‘n lang lys van God se VERWAGTINGE kon  neerskryf; maar as ons vanaand bestek opneem, hang ons ons kop in skaamte.  Help dit regtig enigsens om dan oor VERWAGTINGE na te dink?

     

    Daarom moet ons by die regte punt begin: nie by wat ons moet doen nie (en dan níé doen nie), maar by wie God is.  JHWH (Jahwe = “Ek is”). So stel God Godself aan Moses bekend (Eks 3:14). Ontmoet die God met ‘n onuitspreekbare naam.  Die enigste manier hoe jy God kan leer ken, is deur te ervaar wat God doen.  Dalk is dít God se eerste VERWAGTING:  leer God se genade en barmhartigheid ken. Ontdek dat God lankmoedig is en vol liefde.  Ervaar self God se vergifnis. 

     

    GEBED: Dit is my VERWAGTING dat ek U al beter kan leer ken, Here.  

     

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

     

     

    MUSIEK: Op Dag 6 van #Verwagting kyk ons na die liriek-video van "On Our Way" deur die groep MercyMe.

     

    In "On Our Way" sê die Christelike hedendaagse musiekveterane MercyMe dit is goed as ons nog nie ons beoogde bestemming bereik het nie. “Neem een stap op 'n slag en terwyl jy besig is, haal asem. Jy is op pad en as dit al is wat jy vandag kan regkry, is dit oukei. Daar kom meer en 'n deurbraak is net een belofte wat voorlê.”

     

    Uit die liriek: 

     

    There's no fear that can bind you

    There's nowhere hope won't find you

    As long as we have hope

    We have everything we need.

     

     

       https://youtu.be/B6fA35Ved-Y

    4 min
  • Dag 5 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.” (Heb 11:1, NIV) 

    Iemand het eenmaal gesê, God roep nie bekwame mense nie; God maak die mense wat Hy roep bekwaam.  Die VERWAGTINGE wat God van ons het, maak God self waar.    

    Neem vir Moses as ‘n voorbeeld:  Leiers is woordvaardig, nie struikellend oor hul eie tong soos Moses nie.  Waarop God antwoord, “Wie het aan die mens 'n mond gegee? … Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê” (Eks 4:11-12). Moses moes leer om op God te vertrou!

    Leiers bly kalm in vurige situasies - Moses gooi die kliptafels stukkend (Eks 32:19).  Het God maar die volledige plan vooruit aan Moses gewys, was al die spanning onnodig. Dit is waarom hy sê,  “U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur … Maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag” (Eks 33:12-13). Moses moes leer om op God te vertrou!

    Is dit nie ook ons versugting nie, dat ons net vooruit die “groter prentjie” kan sien? Dán sal ons staande kan bly.  Dan sal ons vooruit kan beplan. Dán sal ons kan vertrou.  Maar dit is nie vertroue as jy vooruit weet nie! Vertroue is om werklik te glo, as God sê, “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou” (Jes 43:13).

    Soos Moses moes leer om op God te vertrou, so moet ons ook.   

    GEBED:  My Here, vertrou ek U regtig? Selfs al weet ek nie ‘n tree vooruit nie? Leer my tog!

    KUNS:  Moses en die brandende bos (1610) deur die Italiaanse skilder Domenico Zampieri.

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK: Op Dag 5 van #Verwagting luister ons na die gewilde koortjie-sanger Dawn Petersen se lied “Vertrou Op Die Here”.  Dawn is pastoor by die AFM Blackheath gemeente.   
    Die lied is op haar album “In U Teenwoordigheid”. 

    https://youtu.be/Py8YBFeH7Zw

    4 min
  • Dag 4 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (Jes 55:1) 

    Die pendulum van die lewe swaai tussen chaos en harmonie; tussen die aantrekkingskrag van die duisternis en die belofte van lig.  Die storie van menswees begin in die Tuin van Eden, maar teen die einde van Genesis 3 leer ken ons die harde realiteit van die lewe in ‘n woestyn.  Aan vader Abraham word die beloofde land Kanaän belowe, en tog dwaal sy nageslagte vir 40 jaar in ‘n woestyn rond.  Spring ‘n paar eeue vorentoe en jy vra jouself af, hoe is dit moontlik dat die verbondsvolk van God hul erfenis prysgee vir afgode?  Soos Jeremia 2:13 sê, “My volk het twee verkeerde dinge gedoen: (Hulle het) My, die fontein van lewende water, verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Is dit nie dan verstommend nie dat God vir híérdie weerbarstige volk - weer-en-weer - ‘n belofte maak:  “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

     Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja. Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis” (Jes. 43:18-19).  
     
    Daar waar nooit water kom nie, kan niks blom nie!   Dit is natuurlik van menswees ook waar:  terwyl ons bedoel is om te floreer, maak ons ons tuis tussen verdroogde woestynbossies.  Dan vergeet ‘n mens maklik God se beloftes aan ons.  

    Leef jy die VERWAGTINGE wat God vir jou koester uit?  Is dit moontlik dat jy die dwarslat van VERWAGTINGE te laag gestel het? Dit is iets om oor te dink!

    GEBED:  Ek dors na U, O Fontein van Lewende Water. Weerhou my van ‘n woestynlewe.


    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK: Op Dag 4 van #Verwagting kyk ons na die liriekvideo van die bekende christelike musiek musikant  Matt Maher se nuwe lied “One Heart at a Time”.

    Uit die liriek:

    One heart at a time
    One heart at a time
    The way of the world keeps changing
    One heart at a time
    And if you lose your way
    Just remember this line
    Love moves at the speed of forgiveness
    One heart at a time

    https://youtu.be/pdZJWlGd5Lw

    3 min
  • Dag 3 van Meditasie-reeks #Verwagting

    “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” (Luk 19:10)

    Op Dag 6 – so vertel Genesis 1 – het God die mens geskape.  Anders as die eerste vyf skeppingsdae wat telkens afsluit met, “God het gesien dit was goed”, eindig Dag 6 met, “God het gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed” (Gen 1:31).  Maar iets loop liederlik skeef.  Húlle wat as “baie goed” geskape is, kies ‘n wegkruippad wat in ‘n ander rigting lei as na God toe. En so leer ken ons dan “Die Soekende God”.  “Waar is julle?” roep God (Gen 3:9).   God skep “met die verwagting” dat ons in God se teenwoordigheid sal bly  (terloops, dit is wat hemel beteken).  Maar ons keer ons rug op God!  Soos die Kerkvader, Augustinus (4de eeu), dit verwoord:  “U het ons vir Uself gemaak, O Here, daarom bly ons harte onrustig totdat dit rus vind in U.”  

    Die volk Israel word in Esegiël vergelyk met kleinvee wat verstrooi geraak het, en die soekende God wat verklaar, “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.  …Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God” (Eseg 34:16, 31).  DIt klink presies soos die gelykenis wat Jesus oor die verlore skaap vertel het:  Wat gebeur as ‘n boer agterkom sy een skaap het weggeraak; sal hy nie al die ander skape in die veld laat staan en die verlore een gaan soek nie?  “En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers” (Luk 15:3-5).   

    Die Skepper-God = die Soekende-God = die Genadige-God.   Dit is wat God se “waar is jy?” beteken. 

    Waar is jý…  
     

    GEBED:  U het my geskape om teenaan U hartklop te leef. Dankie vir my tuiskoms, Here.


    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/



    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK: Op Dag 3 van #Verwagting kyk ons na ’n video-opname van die uitvoering van die gesang  “The Lord's my shepherd, I'll not want” soos gesing by die Staatsbegrafnis van Haar Majesteit Koningin Elizabeth, by Westminster Abbey op Maandag 19 September 2022.

    Die gesang is gebasseerop die 'Skotse Psalter' van 1650, getoonset deur Jessie Irvine (1836 - 1887). Die deskant wat in verse 2 en 5 gebruik word, is gekomponeer deur W. Baird Ross (1871 - 1950).


    https://youtu.be/g2HLnjXKcHg

    3 min
  • Dag 2 van meditasie-reeks #Verwagting

    "Maar hoe kan Ek jou prysgee, …? Hoe kan Ek jou laat vaar …? Hoe kan Ek jou vernietig …? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” (Hos 11:8)

    Gesels ‘n mens oor VERWAGTINGE is daar seker geen ander plek om te begin as by die begin nie. In Genesis 1:26 hoor ‘n mens die woorde-vol-verwagting: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld … sodat …”.  Hierdie een woordjie sê álles!  God skep met ‘n rede. Maar, dwarsdeur die Genesisboek (eintlik die ganse Ou Testament) lees ons hoe God in Sy “sodat” teleurgestel raak.  Tog hou God aan!  Waarom? “Want Ek is God, nie 'n mens nie” (Hos 11:9). God, die belofte-maker is God, die getroue!    

    Onlangs het ek weer gelees hoe die Bybel met dieselfde verbondsteken afsluit as waarmee dit begin het.  Na die groot vloed gee God aan Noag ‘n verbondsteken: “Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. … Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond…” (Gen 7:13,16).  Noag ontvang die sigbare teken, maar eintlik is dit vir God om Self te onthou!  In Johannes se droom (in Openb 4:2-3) vertel hy, “Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. … Om die troon was daar 'n reënboog met die glans van smarag.” Tot aan die einde is God die belofte-makende God.  Getrou aan God se eie “sodat…”

    Hoor ons dit genoeg:  dat God uit Sy eie kies om nie met die mensdom moed op te gee nie!   Daar is soveel rede om lankal met die droom van “sodat” te kon ophou.  Ons sou.  Nie God nie!

    GEBED:  Getroue God, U is inderdaad God en nie ‘n mens nie!  Ons gee so maklik moed op met ons medemens.  Dankie dat U anders is!  


    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
    luister ons na in “In Die Hemel Is Die Heer” deur die Drakensberg Seunskoor.

    Uit die liriek:

    In die hemel is die Heer
    En Sy glans is soos kristal
    Hy's die Heilige van God
    En Hy heers oor die heelal, daar is mag
    In Sy Woord, soos die waters druis Sy stem
    Soos die son op die see se blou
    So die rykdom van Sy trou

    Die agtergrondmusiek vir ons reeks is ook dié lied van Louis Brittz op klavier deur Matt Foster.
    https://youtu.be/FY3CuvVe18o

    4 min
  • Dag 1 van meditasie-reeks #Verwagting

    “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” (Ps 62:5)

    In Afrikaans het ons ‘n gesegde, “so waar as padda manel dra …”.   Letterlik beteken die idioom:  so seker as wat die ouderlinge van toentertyd gelede met manelpakke kerk toe gegaan het, so kan jy maar wees.  Daar is dus geen kans dat dit anders sal wees nie.   Die woord verwagting het met ‘n sekerheid te make.  So seker soos dit in die verlede was, so seker kan jy weet dat dit steeds so is.

    Dit is veral in die Psalms dat ons hierdie woord – verwagting – teëkom.  Oor en oor hoor jy dit: jy kan op God vertrou.  Hoe kan jy seker wees?  Wel, kyk maar vir jouself en sien!

    Die woord verwagting loop hand-aan-hand met beloftes.  Op grond van God se beloftes mag jy ‘n verwagting koester.   So pleit die digter van Psalm 71: “Red my, Here… U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af…. Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie. …O God, wees nie ver van my af nie; my God, maak tog gou om my te help” (Ps 71:4,5,9,12).

    Hoekom kan die digter op God vertrou?  Want Hy weet wie God is:  “U is my sterkte. Die HERE is my rotsvesing, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die krag van my redding, my toevlugsoord” (Ps 18:3).  “Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. … U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting” (Ps 25:3,5).

    Ons geheue is so kort!  Laat ons mekaar aanmoedig om te onthou wie God is en wie ons is. 

    GEBED:  Here, U is die beloftemakende God; help my om dit nie te vergeet nie!

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK: Op Dag 1 van #Verwagting luister ons na die groep “Poor Bishop Hooper” se weergawe van Psalm 25.

    Uit die liriek: 

    nobody who waits for you will see disgrace
    teach me all your righteous paths make known your ways to me lord
    lead me by your truth my god and teach me now
    i'll wait for you the whole day long you are the god of my salvation
    you have shown your love
    from ages past
    it existed from antiquity through history 
    forgotten of 
    my sinful youth

    Poor Bishop Hooper is Jesse en Leah Roberts.  Hulle skryf: 
    “Both hailing from small towns in central Kansas, we began writing, recording, and performing together after our marriage in 2013. What began as a duo, weaving together a patchwork of melodies atop an upright bass and a guitar, has since blossomed into numerous, multi-faceted expressions of music, art, and ministry. Though we still often perform classic covers and simple tunes in simple places, we’ve been blessed to develop a vibrant musical ministry - ranging from full band, heavy mood moments like that in The Golgotha Experience, to the string and vocal laden scores of Firstborn. Our most recent project is our most ambitious yet. EveryPsalm began January 1, 2020, and releases a psalm-based song each week… until all the psalms are sung again.” 
    https://youtu.be/WGjvgZKJhf4

    4 min
  • Dag 30 van Meditasie-reeks #Lente

    “So seker as God getrou is,  Christus is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God.” (2 Kor 1:18-20)

     

    Die “LENTE-IN-JOU-GELOOF”-reeks kom vandag tot ‘n einde. Dit beteken nog nie die einde van die LENTE-seisoen nie.  Is Oktober dan nie “die mooiste, mooiste maand” nie!  Soos Louis Leopoldt in sy gedig skryf: “

    Dit is die maand Oktober!

    Ek dink die mense vier

    Vir ewig in die hemel

    Oktobermaand soos hier!

     

     

    Met die natuur wat in sagte lentekleure “VERNUWING” oral om ons uitspel, so is daar ‘n ander woord wat ook ‘n lentewoord is, naamlik, “VERWAGTING.”  Dit laat my dink aan my sussie, toe nog ‘n jong onderwysstudent wat ‘n proefklas voor die eksaminatrise moet aanbied.  Op die leerplan is die verhaal van Jesus se geboorte.  Die storie is vertel, en nou kry die klassie kans om ook die storie te vertel. Een outjie, baie ernstig, begin vertel hoe daar van herberg na herberg gestap word, “en Maria raak swangerder en swangerder…”  Dit is verwagting!   

     

     

    Het jy al ooit gewonder watter VERWAGTINGE God oor jou lewe het?  Leef jy God se verwagtinge vir jou lewe uit?  Immers is jou lewe “onherhaalbaar”-uniek. Iemand het eenmaal gesê dat God jou ontmoet volgens die verwagtinge wat jy van God het.  As jy niks verwag nie, gaan jy niks raaksien nie.  Dit is mos maar hoe die lewe werk: siender-blind, verwagtingloos. Wie kan (byvoorbeeld) ‘n wonderwerk van God verwag, as jy nie in wonderwerke “glo” nie.  

     

    Ek glo dat God vir ons ook vra:  watter verwagtinge het julle van My? Hoe beter ons Jesus leer ken, hoe  beter leer ons God as die God-van-beloftes ken. 

     

    Soos wat LENTE-IN-GELOOF elke dag met ‘n gebed om vernuwing afgesluit is, so bid ek dat Oktober jou met die VERWAGTING sal seën om die God-van-beloftes al beter te leer ken.

     

    GEBED: Dankie dat U ons só liefhet dat U groot dinge van ons verwag.

     

    POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Lente-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     

    MUSIEK: Op Dag 30 van #Lente luister ons na Oktobermaand deur Mimi Coertse. 

     

    Uit die liriek :

     

    Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand

    Dan is die dag so helder, so groen is elke aand

    So blou en sonder die wolke, die hemel heerlik bo

    So blomtuin vol van kleure, die asvaal ou Karoo

     

    https://youtu.be/H4jQGh8DRKI

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…