
Sign up to save your podcasts
Or


“As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh 1:9)
Ek dink dit is waar wat Jerry Bridges sê, dat christene wat nie hul “ou sondes” kan agterlaat en God se vergifnis volledig wil toe-eien nie, gevolglik nie in die sonskyn leef wat God deur Christus aanbied nie, maar hulself onder 'n bewolkte hemel van skuldgevoelens bevind. Soms skep jy self hierdie “sonsverduistering” in jou lewe. Maar, dit is ook waar dat daar mense is wat hulself as die “geheueverfrissers” beskou om ander voortdurend aan hul foute en tekortkominge te herinner. (Ons moet ook na-dink of ons nie dalk soms die skuldiges is wat die sonsverduistering vir ander skep nie!)
Die eerste brief van Johannes begin met hierdie besondere woorde, “Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (1 Joh 1:5). God wíl die sonsverduistering in ons lewens verwyder! “As ons in die lig lewe soos Jesus in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde” (1 Joh 1:7). Daar is geen groter vryheid as die vryheid uit gebondenheid (slawerny) nie. Die storie van Eksodus is nie net ‘n geskiedenisles nie; dit is ‘n metafoor van wat Jesus kom doen het - om ook óns uit ons eie “Egiptes” te lei. Daarom kon Paulus sê, “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie” (Gal 5:1).
Is jou verwagting van God werklike, volkome vryheid?
Gebed: Dankie, dankie, Here, dat U beloof, “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder (U) ons oortredinge van ons af” (Ps 103:12).
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 19 van #Verwagting kyk ons na ’n video-opname van Psalm 103 soos gekomponeer deur die Switser Markus Geissbühler in 2014 en opgevoer deur die Earth Choir en Animato Simfonie-orkes.
https://youtu.be/ETA_ZKoWvTs
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil 4:19)
Aan die einde van die maand gedenk derduisende christene wêreldwyd weer Hervormings- of Reformasiedag. Waaroor gaan hierdie dag? “Sola Gratia” … Genade Alleen! Met hierdie woorde het Martin Luther – 505 jaar gelede - die groot vernuwing van die kerk begin. Uit genade alleen, deur geloof alleen, Christus alleen! Alles verniet.
Hoeveel keer hoor jy nie iemand sê, “ek sukkel om gunste te ontvang” nie. Tog is dit presies waaroor “Sola Gratia” gaan: om God se guns te ontvang. Geen “as ons… dan sal God…” mentaliteit nie.
Naas die Hervormingsondag is Oktober ook ons sg. “Dankoffermaand”. Baie mense leef met die idee: “As ons ons deel gee, dan sal God ons seën.” Hoeveel sou God se seën dan kos? Wanneer sou genoeg genoeg wees voor God begin seën? Was die gelowiges van die Nuwe Testament dan nie gelowig genoeg nie, want glo my, die meeste van hulle het in armoede gesterf! Arm en boonop nog vervolgde mense ook. Van die sg. “voorspoedsteologie” was daar in hulle lewens geen sprake nie.
Maar wat dan nou van Fil 4:19? Kyk mooi wat Paulus reeds Fil 1:18 bid: dat hulle oë tog moet oopgaan, sodat hulle sal ontdek watter RYKDOM daar vir hulle wag! Later (in 3:19) bid hy weer, dat die gemeente van FIlippi tog God se liefde sal ken, “liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” Dít is rykdom!
Ja, God sál in al julle behoeftes voorsien, sê Paulus. Maar hoe laag is jou VERWAGTINGE van God as jy dink God se rykdom is ‘n beursie-rykdom. Nee, God is ryk in barmhartigheid (2:4)! God se rykdom is die rykdom van Christus. En jy ontvang álles daarvan. In oorvloed. Omdat God dit wil.
GEBED: Here, neem alles weg wat in die pad van U genade staan. Sola Gratia!
KUNS: Luther at Erfurt, deur Joseph Noel Paton, 1861.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 18 van #Verwagting kyk ons weer na musiekvideo van Jo Black se trefferlied “Voel Jy Die Genade”.
Uit die liriek:
Jy's net 'n mens
Hy is God
Maar jy sal nooit uit sy hand uit val
Sê my, voel jy die genade?
Jy's vrygekoop
Die prys is reeds betaal
Jy's skoongewas, 'n Koningskind
Sê my, voel jy die genade?
En die water loop
Ja, die water stroom
Sê my, voel jy die genade?
Maak net jou arms oop
Laat die trane loop
Sê my, voel jy die genade?
https://youtu.be/Bxfwf2F6t3o
Meer as 3.6 miljoen mense het reeds na die video op You Tube gekyk. Mense van verskillende kulture skryf hoe dié boodskap hoop vir hulle bring.
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
“Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle VERWAGTING nie. … Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” (Psalm 34:6,9a)
Aldus die skrywer, Euginia Herlihy, het sy God só leer ken: God is die vertrooster van hulle wat in rou verkeer; en God vee die trane af van die bedroefdes.
God is die skenker van lag vir hulle wat hartseer is; en God gee vreugde terug aan die angstiges.
God is die voorsiener vir hulle wat gebrek beleef; en God gee vrede in tye van onrustigheid.
God is die geneesheer vir die siekes; en God bring uitkoms in tye van benoudheid.
God se beloftes is sy “Ja” en “Amen” op al ons nood.
Uit die Psalms leer ons dat God eers jou “alles” kan word, as jy werklik besef dat jy van God alléén afhanklik is! Eers wanneer jou knieë al is wat jy het om op te staan, dan leer jy dat God die rotsvaste is. Wanneer ons op niks aanspraak kan maak nie, eers dan verstaan ons dat genade God se “Ja” en “Amen”-belofte aan ons is.
“Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars” (Mark 2:17). Hierdie woorde van Jesus is steeds op elke mens van toepassing: God se goedheid is vir almal beskore, maar nie almal wil dit ontvang nie! God se hulp is vrylik beskikbaar, nie almal erken hulself as hulpeloos nie.
Mag jy vandag self beleef dat God vir jou goed wil wees. Mag jy ondervind dat daar genesende krag by God is. Mag blydskap by jou uitstraal, omdat jy die verlossing van God aanvaar.
GEBED: Dankie dat ek self mag naderkom en eerstehands ondervind dat U goed is, my Here.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 17 van #Verwagting kyk ons na ‘n video-opname “Psalm 34 (Taste and See)” deur die bekende groep Shane & Shane:
Uit die liriek:
I sought the Lord
And He answered me
And delivered me
From every fear
Those who look on Him
Are radiant
They'll never be ashamed
They'll never be ashamed
This poor man cried
And the Lord heard me
And saved me from
My enemies
Shane &Shane is 'n Texas-gebaseerde kontemporêre aanbiddingsmusiekgroep wat bekend is vir akoestiese lof- en aanbiddingsmusiek en verwerkings van die Psalms. Die groep bestaan uit Shane Barnard en Shane Everett. Hulle word dikwels vergesel deur hul tromspeler en bestuurder, Joey Parish.
https://youtu.be/9LFKHhQZ8TU
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
Het jy al probeer tel hoeveel beloftes daar in die Bybel opgeteken is? Dit klink bykans onmoontlik dat sommige reken daar is by die 8 000 beloftes. Dit is nie dat die Bybel die Boek van Beloftes is nie; dit is dat God die beloftemakende God is! Herhaaldelik lees ons, “God sal…”
Jeremia se “belofte hoofstuk” is seker ons almal se gunsteling: aan die ballinge in Babel waarborg God hulle terugkeer na Jerusalem: “Ek sal my belofte nakom … Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n VERWAGTING!” (Jer 29:10-11). Julle mag weer begin droom oor more en oormore, want die God van Hoop het nie sy rug op julle gedraai nie. Ook hou God nie “geheime planne” dig teenaan sy lyf, net vir ‘n handjievol uitverkorenes om te mag ken nie. Nee, enigeen wat wil weet, sal kan uitvind (Jer 29:13). In Matt 11:7-8 herhaal Jesus dit weer: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
God is nie die “hard to get” tipe nie. Vir die Israeliete sê God, dat húlle wat na God verlang en met hul hele hart na God soek, God sal vind (Deut 4:29). Anders as Adam in die Tuin van Eden speel God nie met ons wegkruipertjie nie. Daarom kon Jakobus met soveel sekerheid belowe: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader” (Jak 4:8). Soos Paulus skryf, “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand 17:27).
GEBED: Dankie dat U voor my uitgaan om my te lei. Dat U agterna kom om my te beskerm. Onder my as ondersteuner is. Die God is wat as vriend langs my is.*
(* N.a.v die seënwoorde van Prof Neal Plantinga)
KUNS: Jeremia betreur die vernietiging van Jerusalem, olie op paneel deur Rembrandt, 1630: in die Rijksmuseum, Amsterdam.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 16 van #Verwagting kyk ons na ‘n video-opname van die groep VOCES8 se weergawe van 'Ave Verum' deur William Byrd.
Uit die liriek:
Hail, true Body, born of the Virgin Mary,
who has truly suffered,
was sacrificed on the cross for mortals,
whose pierced side flowed with blood:
Be for us a foretaste [of Heaven]
in the final judgement.
Oh sweet, oh pious, oh Jesus, son of Mary,
Have mercy on me. Amen
https://youtu.be/R3vuU7XAaUM
“Maar julle word, sonder dat julle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” (Rom 3:24)
Sommer so terloops val die woordjie “genade” gister (#14) oor my lippe. Genade is die kernwoord van die christelike geloof. Genade is soos die as van ‘n wiel wat al die speke bymekaar hou. Die as moet eers beweeg voordat die speke kan beweeg; voordat die wiel kan beweeg. Dit is wat genade vir ons is: dit bring alles in ons lewens tot lewe. Dit voorkom dat alles uitmekaar val.
‘n Kollega-vriend verduidelik genade vir kinders so: dat jou ouers jou liefhet nog voor hulle weet wie jy gaan wees by geboorte is genade. Meer nog, hulle bly lief vir jou ná jou geboorte. Die toppunt is dat hulle jou steeds as hulle kind beskou, selfs al het jy erg drooggemmaak. En wanneer jy erg “aangejaag het”, laat hulle jou nog steeds by die huis inkom. Eens ‘n wegloopkind - steeds lieflingskind! Soos ons mos sing: Genade, onbeskryflik groot! “Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.”
Genade is God se liefde-in-aksie. God gee vir ons wat ons nie verdien nie. Per implikasie, God weerhou van ons wat ons verdien. Soos die teoloog Donald Hubbard dit beskryf, “Genade is bedoel vir die waardelose. Barmhartigheid is bedoel vir die hulpelose. Vrede is bedoel vir die rustelose.” Net een vereiste is nodig: “Nederigheid is die enigste grond waarin die saad van genade kan wortelskiet” (aldus Andrew Murray). Genade word oophand aangegee; genade word oophand ontvang. Soos
As daar nou een ding is waarvoor ons geen VERWAGTING kan hê nie, is dit dat ons genade moet ontvang. As daar een VERWAGTING is wat God het, is dit dat ons genade moet ontvang. Volg dus die goeie raad van Bruce Hurt: “No grace, no peace. Know grace, know peace.”
GEBED: Mag ek altyd herinner word dat U genade vir my genoeg is. (2 Kor 12:9)
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 15 van #Verwagting luister ons na “Genade Onbeskryflik Groot” deur Elkan Butler en Monya Saunders as El-Duo op die album “Die Twee van Ons”.
https://youtu.be/2ajJusFJ9VA
“Verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps 37:4 – 1953 vert)
Nie alles wat ons begeer is vir ons goed nie! Ons kan hartsbegeertes koester wat uit selfsug gebore is. Soms het ons dalk – met edele bedoelinge – sekere begeertes, sonder dat ons besef hoe skadelik dit vir ander om ons kan wees.
Dawid skryf in Ps 40:9, “Om u wil te doen, my God, is my een (bedoelende enigste) begeerte, u woord is my hele lewe.” Wanneer God se wil ons enigste begeerte word; dan sál God aan ons álles gee waarna ons hart smag. So eenvoudig soos dit, want dan begeer ons mos wat God ook begeer.
Die vraag is, wat begeer God? Nie dat ek ‘n klomp dinge moet “doen” nie, nee! God se begeerte vir elke mens is om met oop hande te staan om God se seën te ontvang. (Daarom het ons die afgelope tyd by Num 6:24-27 stilgestaan). God wil álles wat God is en álles wat God het aan ons gee. Dit noem die Bybel “genade.”
God wil niks terughou vir “latere gebruik” nie! God is die volledige, volkome, vrygewige God. (Jesus se lewe is die bewys daarvan!) God ges verwagting van jou is bloot, ontvang oophand. Bakhand. G’n wonder Dawid sê, “verlustig jou in die Here.” Die Hebreeuse bedoeling is dat jy ‘n baie lewendige, selfs intense, plesier uit iets put wat jou diepste begeertes bevredig. Dit is ‘n “lekkerkry” (genot) tot op die diepste vlak van jou menswees, want alles het in plek geval: jy het God se seën ontvang.
Daar moet werklik net een passie in ons lewe wees: om ons vreugde in die Here te vind. Oefen jouself daarin om dit jou enigste VERWAGTING te maak. Dan is jy ‘n gelukkige mens.
GEBED: Vervang alle begeertes wat daar in my mag wees, behalwe U begeertes.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 14 van #Verwagting kyk ons na die liriekvideo van “Psalm 40 - Lord, Come To My Aid” deur Francesca LaRosa.
Uit die liriek:
The LORD heard my cry.
He drew me out of the pit of destruction,
out of the mud of the swamp;
he set my feet upon a crag;
he made firm my steps.
Lord, come to my aid!
https://youtu.be/OQEfGDiy09w
“Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.” (Num 6:25)
Wanneer iemand wat belangrik is met ons praat, dan stop jy alles wat jy doen en lig jou kop op. Vir iemand wat nie belangrik is nie, sê ‘n mens dalk, “wag net ‘n bietjie”, en dan maak jy eers klaar waarmee jy besig is. Presies wat God níé doen nie! Is dit nie die verstommendste gedagte nie: God gee onmiddellik aandag aan ons wanneer ons praat. Dit is letterlik wat hier staan, “God lig sy kop op.” En wanneer God luister, dan kan alles in jou tot bedaring kom. Dan kom daar vrede in ons gemoed.
Die woord sjalom (Hebreeus vir vrede) dui op heelheid en volledigheid; niks kom kort nie. Alles is soos dit bedoel is om te wees! Die mens het nie die vermoë om dit te bewerk nie; dit kan net by God gevind word. Daarom was dit so gewigtig dat Jesus kon sê, “Ek het gekom om vir julle die lewe te gee, en dit in oorvloed” (Joh 10:10).
God lig sy kop vir jou op en jou lewe sal volkome heel wees. Gebed en vrede loop dus altyd hand-aan-hand. G’n wonder Paulus kon skryf, “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:6-7).
Ses keer lees ons in Num 6:24-26, “Die Here sal …” Net JHWH – die God met die onuitspreeklike naam – kan dit alles vir ons beloof. Ses keer lees ons in dieselfde verse, “julle”. Gewone, alledaagse, tydelike aardbewonertjies – ek en jy – aan wie JHWH Homself so volledig verbind dat God alles prysgee. Soos Jesus met sy lewe gewys het.
GEBED: Met VERWONDERING en VERWAGTING ontvang ek vandag U seën, Here, my God.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
"Die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees.” (Num 6:25)
Num 6:25 word op verskeie maniere vertaal. In die “ABA”-vertaling staan daar, “Die Here is naby jou, en Hy is genadig vir jou.” Die Boodskap sê, “Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.” Aldus die NLV sal die HERE “jou raaksien en vir jou sy liefde gee.” God is ons só goedgesind dat God met ‘n sagte en liefdevolle oog na ons kyk; dit is genade! Die vertaling naaste aan die Hebreeuse teks is die 1953-vertaling: “Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.”
Het jy al gesien hoe lyk ‘n ouma se gesig wanneer sy haar kleinkinders na ‘n lang tyd weer sien? Haar ganse gesig verhelder. Asof daar ‘n lig binne haar aangeskakel word die oomblik as hulle by die voordeur staan. Dit is – aldus Num 6:25 – hoe God na ons kyk. En so gaan ‘n Lig dan vir ons aan, net soos die wolk van vuur vir die Israeliete saans die pad deur die woestyn aangedui het (Eks 13:22).
Die Psalmdigter het dieselfde VERWAGTING: “Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn! Sodat die mense op aarde u weg kan ken…” (Ps 67:2-3; 1953). Anders as die volk van God wat nie net hulle gesigte weggedraai het van God nie, maar God heeltemal die rug gekeer het (aldus Jer 32:33), draai God direk na ons toe en kyk ons aan met deernis; so verblindend liefdevol soos net God kan. Hoor dit mooi: God kyk met VERWAGTING na jou en my.
Geen mens hoef soos verdwaaldes te soek na God se wil nie; die Woord is die LIG wat ons direk daarheen lei. Waarom? Want God is genadig!
GEBED: Dankie vir U liefde, deernis en genade! Dankie vir U Lig!
KUNS: William West se skildery “Die Israeliete gelei deur die vuurkolom in die nag”. (1845)
https://youtu.be/ZknbUED8kQM
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
“Die Here sal julle seën en beskerm …” (Num 6:24)
“Mag die Here jou seën.” Ek wonder soms wat bedoel mense wanneer hulle ‘n gesprek eindig met (gewoonlik die Engelse woord) “blessings.” Dalk moet ek tog eenmaal vra, “wat presies bedoel jy met ‘blessings?’” Is dit jou VERWAGTING dat dit met my baie goed moet gaan? Dankie, ek hoop ook so! Tog weet ons dat ons idee van “baie goed” nie noodwendig ooreenstem met die Bybel se idee nie. Lees 1 Petrus dan sien jy vinnig dat swaarkry baie keer goed is: “Swaarkry is soos vuur wat jou geloof mooi skoon brand” (1 Pet 1:7 ABA-vert).
Om te seën beteken om die naam van iemand uit te spreek. Ons seën mekaar bv. in ‘n erediens “in die NAAM VAN GOD.” Dit is presies hoe die Aäronitiese seën in Numeri 6 eindig: “So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën” (v27). Die volk van God – ons - ontvang die NAAM VAN GOD, wat ons in staat sal stel om … Die “hero” is nie ons wat dit ontvang nie; die “hero” is God! Al die fokus val op God. Daarom verander alles (selfs die slegte situasie) in ‘n loflied nadat jy die seën van God ontvang!
Met die Aäronitiese seën is daar elke keer drie sinnetjies, en elke sinnetjie het twee aksies: God sal “dit” doen én “dit” doen. Gelyktydig. Die een volg op die ander een. God sal jou seën. Per implikasie, God sal jou beskerm. Dit is waarom ons met soveel VERWAGTING die “Oorwinningslied” kan sing, “Die Here is ons vesting wat vir altyd sal bly staan. Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan. Hy is vir ons 'n skuiling, Hy't die vyand reeds verslaan. Die rots wat ewig staan.”
GEBED: Dankie vir U NAAM, Heilige God; vir U beskerming. Dankie dat ek my VERWAGTING op U seën kan stel.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 11 van #Verwagting luister ons na “Rock of Ages”, ’n gesang wat Augustus M. Toplady in 1775 gekomponeer het.
https://youtu.be/gM7gt_cSxjw
“Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond en troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom…” (Deut 7:9)
Wanneer jy jou VERWAGTINGE stel op die beloftes wat iemand maak, is dit seker vanselfsprekend om eers te vra, hoe betroubaar is die persoon wat die beloftes maak. Die sekerste manier is om te kyk na hoe die persoon sy/haar beloftes in die verlede nagekom het. Sedert die begin van hierdie reeks is dit waarmee ons onsself besig hou, en sonder twyfel weet ons: Die Verbondsgod is die getroue God!
Vir my is een van die mooiste beloftes daardie een waarmee ons Sondae aan die einde van ‘n erediens uitgestuur word om “Kerk in die wêreld” te gaan wees. Dit is die sg. “Aäronitiese seën” (Num 6:24-27). Wat hierdie woorde so aangrypend maak, is dat die Israeliete met hulle tone raak-raak aan die woestynlewe wat vir hulle wag. Op pad na die Beloofde Land sal daar vir hulle - net soos vir ons - baie uitdagings wag. Met soveel onsekerheid is dit vanselfsprekend dat elke pelgrim sou wonder: “Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” Hoe kon die digter van Psalm 121 met soveel sekerheid sê, “Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. … Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd” (v 5,8)? Omdat hy die seënende God geken het. Hy het die seën direk in sy eie lewe ervaar. Soos wat dit eens betroubaar was; so is dit vir hom ook; en daarom waarborg hy dat dit vir ons sal wees.
Dit bly altyd ‘n vraag: praat ons uit ervaring oor wat God doen en wie God is; of praat ons uit ander se ervaringe?
Dink bietjie hieroor na…
GEBED: Ek ken U as die betroubare God; maar mag ek U so ook ervaar!
KUNS: Aäronitiese seën van die Hoshana Rabbah Blog.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 10 van #Verwagting kyk ons na die musiekvideo van Riana Nel en Retief Burger se “Die Seën”, ‘n Afrikaanse-weergawe van die bekende “The Blessing”.
Uit die liriek:
Die Here seën jou, en bewaar jou
Skyn Sy aangesig oor jou, mag Hy
Die Here draai Sy, gesig na jou
Mag Hy jou vrede gee
Amen, amen, amen
https://youtu.be/0_TdJq2YGSg
#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag
From the publisher's feed