Min Suid-Afrikaanse rugbyspelers het soveel reaksie by ondersteuners én opponente uitgelok as Corné Krige. As rugbyspeler was hy dikwels briljant, soms omstrede, maar altyd toegewyd. Hy het elke wedstryd passievol en met moed aangepak, en die leiding geneem. In sy loopbaan as speler en spankaptein tydens Suid-Afrikaanse rugby se mees onstuimige jare, het hy oorwinnings én nederlae gesmaak. Hy vertel vir Jody Hendricks van sy ervarings by Westelike Provinsie, die beserings wat hom geteister het, sy kapteinskap van die Springbokke en sy betrokkenheid by Engelse klubrugby. Hy praat openhartig oor omstrede onderwerpe soos die rassekwessie in SA rugby en die politiek daaragter, en onthul skokkende nuwe besonderhede oor die gebeure wat sy loopbaan beïnvloed en uiteindelik beëindig het, naamlik Twickenham in 2002, Kamp Staaldraad en die 2003 Rugby Wêreldbeker.