Hennie Maas kuier by 'n paar manne wat geduld met hoofletters skryf, want hulle slyp self hulle teleskoopspieëls. Dis 'n stokperdjie waar jouself beter leer ken as die slypproses, sê een van die ervare slypers. Daar is ook 'n vraag oor waar die kamera was wat Neil Armstrong afgeneem het toe hy in 1969 die eerste mens geword het wat sy voet op die maan gesit het.
Die kraguitset van die sender wat boodskappe van die Voyager af na die aarde stuur, is gelykstaande aan 'n 60 watt gloeilamp. Voyager is al ver buite die sonnestelsel in die interstellêre ruimte. Dr. Japie van Zyl praat hieroor en oor hoe navigeerders op aarde daarin slaag om 'n satelliet 'n skrale 12 kilometer bokant die oppervlak van 'n verafgeleë planeet of maan te laat verby beweeg.
As daar twee keer in 'n maand 'n vol maan is, word dit 'n blou maan genoem. Maar wat noem jy dit as daar twee keer in 'n maand 'n nuwe maan is? 'n Ander vraag wat Mike Simpson van Durban vra, is hoe lank dit 'n radiosein neem om tot by Mars te kom.
Dr. Japie van Zyl van die Jet Propulsion Laboratory in Pasadena, Kalifornië, vertel van 'n sending na Europa, een van Jupiter se mane, waartydens 'n yssmelter gebruik sal word om die water onder die dik yslaag te ondersoek.
Een van die groot hoogtepunte van 2013 was die klein asteroide wat in Februarie bokant Tsjeljabinsk in Rusland ontplof het. Daar is ook inligting oor die aktiwiteit van die son en of dit siklies is. Die program word afgesluit met musiek wat opgeneem is met Chris Hadfield wat in die Cupola in die ruimtestasie saamsing met 'n sanger en 'n koor in Kanada.
As mens saans wes kyk is daar 'n helder voorwerp wat bokant die horison lê. Dit is die aarde se buurplaneet Venus wat in die volksmond bekend staan as die aandster. Die planeet het 'n paar interessante eienskappe. Prof Matie Hoffman en Willie Koorts bespreek die planeet. Waarom is die oppervlaktemperatuur byvoorbeeld hoër as die van Mercurius wat nader aan die son is?
China het onlangs 'n tuig na die maan gelanseer om meer te leer oor die aarde se natuurlike satelliet. Indië het ook 'n tuig die ruimte ingestuur wat tans onderweg is na Mars. Dit dui daarop dat daar ander lande, buiten die VSA en Rusland, is wat hulle penne in die ruimte wil inslaan.