Statistieke Suid-Afrika het gister Maartmaand se verbruikersprysindekssyfer bekend gemaak en inflasie het toegneem vanaf 5,7% in Februarie tot 5,9% in Maart. Vervoer was die kategorie wat grootliks bygedra het tot die styging. Onthou, brandstofpryse het met 7,2% gestyg tussen Februarie en Maart. Daar was ook stygings in die koste van lugvervoer, busvervoer en tolgelde. Voedselpryse is die ander belangrike kategorie waar pryse toegeneem het, maar die styging was teen ʼn effens stadiger koers as die afgelope maande. Die pryse van vrugte en groente was effens laer in Maartmaand. Die inflasiekoers is nou aan die bokant van die Reserwebank se teikenband en ekonome verwag verdere repo-koersstygings.