Nou nog, wanneer die inwoners van die Baviaanskloof praat oor die groot vloed van 1916, word die boek, Die Wildedruif Val, in dieselfde asem genoem omdat dit die traumatiese gebeure van destyds meesterlik saamvat. Die Wildedruif Val is een van vele boeke wat die geliefde skrywer PH Nortjé oor die Baviaanskloof, sy grootwordplek, geskryf het. Vandag is daar net een Nortjé oor in die Baviaanskloof. en dit is die 82-jarige Oom Gustav Nortjé, kleinneef van wyle PH Nortjé. Mariska Spoormaker het oom Gustav in die kloof gaan opsoek, en hom agter die toonbank in Babes se Winkel gekry.