Die jaarlikse Dankfees van die NG Kerk op Merweville het sy oorsprong in 1908 toe die heel eerste kerkbasaar van die gemeente gehou is. In 1909 is die naam verander na Dankfees. Deur al die jare is die basaar gehou, behalwe in 1933 met die groot depressie en vanjaar met die inperking. Die fees is die hoofbron van inkomste vir hierdie klein gemeente. Die minder as 100 lidmate kan nie meer die gemeente finansieel dra nie, en die droogte vererger ook die situasie. Hulle het 'n plan gemaak, en aan die einde van Mei het hulle toestemming gekry om vir drie dae lank biltong en droëwors te maak, met al die voorsorgmaatreëls, afstande, maskers en alles wat daarmee saamgaan. Hulle het 1,4 ton nat wors gehang om droog te word, en ongeveer 800 kg se biltongvleis! Intussen hou hulle nou Dankfees op die kerk se Facebookblad dat dit 'n naarheid is.