God se Woord VARS vir jou Vandag

God se Woord VARS vir jou Vandag

By Jokkie Gauché on behalf of Berni DymetReligion & SpiritualityChristianityKids & Family
Download on the App Store

God se Woord VARS vir jou Vandag episodes

  • Hopeloos te Klein

    Send us a text

    Jeremia 32:17 Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.

    Hoe meer ek die Bybel lees en hoe meer ek na God luister, hoe meer besef ek hoe gebrekkig my begrip van Hom werklik is, en hoe meer wil ek van Hom ontdek. Meer van God, nog meer van Hom. Wat van jou?

    Net wanneer jy dink jy verstaan God, gebeur daar iets en jy besef dat jy waarlik geen idee het van wie Hy is nie.

    In my gebedstyd die afgelope paar dae, het die Heilige Gees my gelei na 'n deel van die Bybel wat ek nie beplan het om nou te lees nie ... en net daar het Hy begin om iets te hanteer, wat ek nie eers geweet het ek moet hanteer nie. Hy het dinge uit sy Woord begin openbaar wat ek voorheen gesien het, maar nie verstaan het nie.

    Dink net – hier is ek, een outjie van amper agt biljoen mense op die planeet. Hoe kan hierdie selfde God wat sterre in die ruimte gesprinkel het, die God wees wat my oë oopmaak? Ek is seker dit was een van daardie selfde aha-oomblikke vir Jeremia toe hy in:

    Jeremia 32:17 gesê het: Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.

    Hoekom deel ek dit vandag met jou? Want dit is ook tyd vir een van daardie aha-oomblikke in jou lewe. Dit is tyd om verstom te staan oor die heerlikheid, en die prag, en die krag van God, die majesteit van God, en tog, terselfdertyd, die tere genade van God.

    Solank ons aan hierdie kant van die ewigheid staan, sal ons begrip van God natuurlik altyd onvoldoende wees. Des te meer rede om nader aan Hom te kom en te hoor hoe Hy sy liefde in ons harte fluister.

    Ag, Here God! Niks is vir U onmoontlik nie.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Moenie Geheime Oorvertel Nie

    Send us a text

    Spreuke 18:8, 26:20 Skinderstories is so soet soos lekkernye, dit sink tot diep in jou gemoed.Soos ’n vuur uitbrand as jy nie hout opgooi nie, so hou ’n rusie op as daar nie skinderpraatjies is nie. (NLV)

    Het jy al ooit opgelet hoe poniekoerante daarvan hou om te lei met opskrifte soos: Prins se Geheime Liefdesbriewe Onthul? En my ou maat, dan verkoop die koerante. Deesdae sal ons sommer sê dit versprei soos ‘n veldbrand op die internet. 

    Daar is iets so aantreklik aan die idee om 'n geheim te hoor. Gruwel poniekoerante en vrouetydskrifte gebruik dit al dekades lank om hul sirkulasie en advertensie-inkomste te laat groei. Dink net daaraan: 'n Wêreldwye sakemodel wat op skinderpraatjies gebaseer is, maak miljarde dollar uit ander mense se ellende. 

    Laat ons nou nie met die spreekwoordelike vinger van veroordeling na hulle wys nie. Komaan, hoe gereeld was jy al in die versoeking om te skinder, om geheime oor iemand te vertel wat jy nie moet vertel nie? Of erger nog, om ongegronde gerugte te versprei wat hulle kan vernietig?

    Dit is opvallend dat die Spreuke van Salomo, een van die Bybelboeke wat groot wysheid bevat, soveel versies aan skinder wy:

    SPREUKE 18:8 Skinderstories is so soet soos lekkernye, dit sink tot diep in jou gemoed. 

    Net daar plaas God sy groot en magtige vinger op hoe aanloklik dit is om 'n skinderbek te wees. En net soos 'n heerlike happie kos gif kan bevat, wat diep binne-in jou stelsel beland, so verrot skinderstories harte en vergiftig hulle gedagtes. 

    Hoe keer jy dat dit gebeur? Hoe keer jy dat lewens en verhoudings deur skinder verwoes word?

    SPREUKE 26:20 Soos ’n vuur uitbrand as jy nie hout opgooi nie, so hou ’n rusie op as daar nie skinderpraatjies is nie.

    Met ander woorde, wanneer die ketting van ‘n skinderstorie na jou kant toe kom, moenie dit aanvuur nie, moenie dit uitbuit en dit aan iemand anders oordra nie. Laat die skinderketting by jou eindig. 

    By gebrek aan hout gaan die vuur dood.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Skinderstories Steek Vure Aan

    Send us a text

    Spreuke 16:28 Iemand wat leuens verkoop, sit rusie aan die gang. Iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.(NLV)

    Ek dink een van die grootste vraagstukke waarmee enige Christen worstel, is: Hoe kon ek sulke verkeerde dinge gedoen het, nadat Jesus soveel vir my gedoen het?Dit is 'n baie werklike stryd en dit is een wat in soveel verskillende areas van ons lewens kan voorkom.

    Ek weet nie van jou nie, maar ek het ‘n passie om Jesus met elke asemteug te dien; om Hom te eer en te verheerlik met elke gedagte, woord en daad. Maar, ten spyte van my goeie bedoelings, maak ek foute. Ons doen dit almal.

    En weet jy, een van die situasies waarin jy hierdie fout dikwels sien gebeur, is wanneer mense skinder. Ja, daardie selfde mense wat nog verlede Sondag hul harte en hande in aanbidding opgehef het. Hoe kan ons dit ooit doen na wat Christus vir ons gedoen het? Dis ‘n baie goeie vraag.

    Skinder is die handeling om iets van iemand oor te vertel wat dalk waar is, of dalk nie waar is nie. Dit kan dalk gedeeltelik waar wees, en op een of ander manier verdraai word -  miskien deur 'n gebrek aan konteks, of bloot die manier waarop dit oorvertel word. Per slot van rekening is dit die feit dat jy vir iemand anders iets vertel, wat jy nie moes vertel het nie.

    Spreuke 16:28 sê: Iemand wat leuens verkoop, sit rusie aan die gang. Iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.

    As jy daaroor nadink, besef jy dat skinder die werklike moontlikheid het – nee, waarskynlikheid het – om verhoudings te verbreek. Daarom is skinderpraatjies volgens God moeilikheidmakers.

    Is dit regtig die moeite werd om iemand se reputasie te beskadig en verhoudings uitmekaar te skeur, net sodat jy daardie sappige skinderstorietjie met iemand anders kan deel? Net sodat jy die "Ek weet iets wat jy nie weet nie"-speletjie kan speel?

    Skinder is nie skadeloos nie; dit vernietig reputasies en verhoudings. Kan jy jouself voorstel hoe God agter jou rug kan skinder en vir die wêreld al die dinge vertel wat Hy van jou weet? Moenie skinder nie, sodat Hy jou nie as 'n moeilikheidmaker bestempel nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Staan Op vir Wat Reg Is

    Send us a text

    Spreuke 31:8,9 Praat namens hulle wat nie self kan praat nie. Verseker dat daar reg geskied aan hulle wat hulpeloos is. Maak oop jou mond en lewer regverdige uitsprake. Laat reg geskied aan armes en ellendiges (NLV)

    Of ons dit wil weet of nie, maar wanneer ek en jy vir mense vertel dat ons Christene is, verteenwoordig ons Jesus op die aarde. Dan vertel ons, deur wat ons sê en doen, aan die wêreld wie die Verlosser is, in wie ons sê, ons glo. 

    Dit is 'n ontnugterende gedagte, is dit nie? Diegene wat Jesus nog nie ken nie, kyk na ons; ons gesindhede; ons woorde; ons gesigsuitdrukkings; die manier waarop ons ander behandel en hulle oordeel Jesus daarvolgens.

    As ons in goddelike wysheid en nederigheid leef, spreek dit boekdele oor Jesus. Maar as ons in wêreldse eiebelang en skynheiligheid leef, is dit eweneens getuienis oor Jesus. Is dit regverdig teenoor Hom? Nee, maar dis baie verstaanbaar, want dit is hoe dinge werk.

    Gister het ons gesels oor die realiteit dat die Christelike ‘ons’-identiteit wyd en syd voorkom; dat ons al te dikwels uit eie belang praat en optree, eerder as om in die nederigheid van Christus te leef.

    En tog het Jesus dikwels opgestaan vir dit wat reg was, teenoor dit wat verkeerd was. Maar wanneer Hy dit gedoen het, was dit nooit vir sy eie belang nie, maar vir die belang van ander. Dít klink mos soos:

    Spreuke 31: 8 en 9 Praat namens hulle wat nie self kan praat nie. Verseker dat daar reg geskied aan hulle wat hulpeloos is. Maak oop jou mond en lewer regverdige uitsprake. Laat reg geskied aan armes en ellendiges.

    Dis tog die Christelike optrede van iemand wat Jesus volg! Beslis nie dié van mense wat namens hulself praat nie. Praat vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie. Help diegene wat in die moeilikheid is. Beskerm die regte van die armes en behoeftiges. Staan op vir wat reg is, eerder as vir die eer van ons eie groep.

    Jesus het geweet dit gaan ‘n groot prys vra. Doen dit in elk geval. Staan op vir hulle, nie vir jouself nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Hoe Beskerm jy jou Regte?

    Send us a text

    Matteus 27:12-14 Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?” Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was..

    As die gesprekke van Christene op die sosiale media-platforms wat ek volg, enige aanduiding is, dan het ons, die kerk, baie ver, so baie ver ... van die Bybelse Christendom afgedwaal.

    Dit mag dalk ietwat krities en veroordelend klink, maar kom ons praat nie oor "die kerk" nie, want ek en jy kan nie verander wat op daardie vlak gebeur nie, net God kan. Kom ons fokus eerder op ons as individue. As jy jouself as ‘n gelowige, as ‘n dissipel van Jesus beskou, dan sluit ek jou in by die ‘ons.’ 

    Hoeveel tyd en energie gebruik ons om vir ons regte te veg? Word ons kwaad en mors ons ons tyd deur beswaar aan te teken teen wetgewing, soos byvoorbeeld die inperkings, wat in die land waar ek woon, opgelê word? Kom ons vergelyk dit met die wyse waarop Jesus sy regte en sy onskuld voor Pontius Pilatus verdedig het.

    Matteus 27:13,14  Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?” Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

    Verstaan my mooi; Christene moet by openbare debatte betrokke raak. Maar op watter stadium is genoeg, genoeg? Op watter stadium begin ons onvanpas optree? Wanneer word dit ‘n onbybelse stryd tussen ‘ons’ en ‘hulle’? Wanneer ruk dit hande uit en word dit ‘n stryd tussen ons, as die Christene, en hulle as die Wêreldses?

    Kom ons vra onsself eerlik: gaan dit alles oor ons eie belang? Want sover ek kan sien, was Jesus in wie ons sê ons glo, baie meer geïnteresseerd daarin om sy Vader se wil te doen, as om sy eie vel te red. Hy het niks ter verdediging gesê nie. En tog, vanweë Sy nederigheid, word Sy naam bo elke naam verhef. Moenie te vinnig wees om jouself te probeer verdedig nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • ‘n Huwelik is dit wat Jy Daarvan Maak

    Send us a text

    1 Petrus 3:7 Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

    Dit lyk asof huwelikspaartjies deesdae al hoe meer skei. Daar word sommer baie maklik gepraat van ‘onversoenbaarheid’ – jy hoor hulle sê: Ons het net besef dat ons nie met mekaar versoenbaar is nie. Regtig?

    Ek wonder eintlik of twee mense op hierdie planeet ooit heeltemal versoenbaar kan wees. En kyk, voordat 'n man en 'n vrou trou, moet hulle praat oor belangrike dinge soos kinders, loopbaan ambisies, waar hulle wil woon, ens.

    Dis noodsaaklik! As hulle idees voor die troue reeds te veel oor belangrike kwessies van mekaar verskil, moet hulle eenvoudig nie trou nie. Maar as hulle eers getroud is, is dit dít. Of dit moet ten minste dít wees. En tog skei soveel mense nog steeds op gronde van 'onversoenbare verskille'. Maar weet jy, vir God is die huwelik baie belangrik. Ons lees in:

    1 Petrus 3: 7 Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

    Wat Hy hier vir mans sê, is dat hulle die huwelik maak of breek. As hulle hul vrouens nie goed behandel nie en as hulle hul vrouens nie respekteer nie, sal dit nie goed gaan nie.

    Kom ons kyk 'n slag na jou huwelik. Watter rol het God jou geroep om te speel? Wat kan jy prysgee om jou huwelik te verryk (of dit selfs te red)?

    En net ingeval jy dit nie mooi verstaan nie: mans, as jy nie jou deel teenoor jou vrou nakom nie, sal God ophou om jou gebede te verhoor. Dit is hoe ernstig Hy daaroor voel. Om dit eenvoudig te stel: jou huwelik is wat jy daarvan maak.

    Dit is God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • ‘n Ware Tuiste

    Send us a text

    Filippense 3:18-20 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

    Glo jy in Jesus? Het jy al jou eiers in een mandjie gesit deur in Hom en Hom alleen te glo vir jou redding? My vriend, dan is jy 'n burger van die hemel.

    Ek wil jou vertel: Ek is mal oor die feit dat ek 'n Australiër is. Mal daaroor! En ek is mal daaroor dat my jarelange vriend Joseph, 'n Liberiër is, my maat Gary, 'n Nieu-Seelander, my liewe vriend Jim, 'n Amerikaner en my broer Bob, 'n Kanadees is. Dit is net wonderlik om aan 'n nasie vir wie jy lief is te behoort.

    Maar dit maak nie saak watter land jy as jou tuiste beskou nie, of jy daar gebore is en of jy dit as jou eie aangeneem het nie, geen land is perfek nie, nè? Myne is nie, joune ook nie. En hoe dieper jy delf, hoe deegliker jy kyk, hoe meer sien jy daar is boosheid rondom ons almal. Soos die dae al hoe donkerder word, soos die einde nader kom, lyk dit asof die bose al hoe meer voorspoedig word.

    Filippense 3: 18-20 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

    Maar weet jy, te midde van al hierdie boosheid, moet ons nie die waarheid uit die oog verloor nie ... die regering wat oor ons regeer, is in die hemel. Ons wag vir ons Verlosser, die Here Jesus Christus, om vandaar af te kom.

    Moenie toelaat dat die wêreld se boosheid jou meesleur nie. Jesus kom terug. Hy kom binnekort terug. Jou burgerskap is in die hemel.

    Dit is God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Wat Sal Jy Doen om te Wen?

    Send us a text

    Daniël 12:3 Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.

    Ek wil jou graag vandag vra: Watter invloed het jy op hierdie wêreld, op die lewens van die mense om jou? 'n Goeie invloed, 'n matige invloed of 'n slegte invloed? Watter nalatenskap gaan jy eendag agterlaat?

    Dit lyk asof die lewe vol kompromieë is ... tussen byvoorbeeld om jou doelwit te bereik of die regte ding te doen. Die keuse lê tussen die bereiking van jou doelwit en jou eerlike gedrag teenoor mense.

    Dit is maklik om te wen, as jy bereid is om bo-oor ander te loop om daar te kom; as jy hier ‘n kortpad vat; daar 'n kompromie aangaan; 'n bietjie bedrieg; net ’n bietjie meer druk uitoefen.

    Maar wat sê jy hierdeur vir die mense om jou; vir jou huweliksmaat, vir jou kinders, vir die mense wat na jou opsien vir leiding, vir jou medewerkers? As dit is hoe jy jou lewe lei, hoe graag sal hulle saam jou oorwinning vier wanneer jy wen?

    Daniël in die Ou Testament was iemand wat daarin geslaag het om te wen, sonder om daardie kompromieë aan te gaan. Hy was ongelooflik suksesvol. Hy het nie sy beginsels ingeboet nie, hy’t nie op mense getrap nie, maar gedoen wat reg was.

    Daniel 12: 3 Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. 

    Wat is wysheid? Wel, in die konteks van Daniël se lewe, het dit beteken om te wen en om suksesvol te wees deur die regte ding te doen. Deur God te eer. Deur Hom eerste te stel. Daniël het geweier om 'n kompromie aan te gaan . . . selfs waar sy lewe in gevaar was. 

    Ek is seker dat jy ook oor die jare een of twee mense soos Daniël in jou lewe gehad het. Hulle troon bo almal uit, nie waar nie? Jy respekteer hulle. Hulle skitter soos sterre.

    Nou-ja, die vraag is: Is ek, of jy een van daardie sterre?

    Dit is God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Die Opdrag om te Vergeef

    Send us a text

    Kolossense 3:13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

    Jesus het aan die kruis gesterf sodat ek en jy vergewe kan word. Hy het uit die dood opgestaan sodat ons tot in alle ewigheid nuwe lewens kan hê. Daarom noem ons dit die 'Goeie Nuus'. Maar ek wonder wat gebeur as ons nie aan die ontvangkant van die vergifnis is nie. Ek wonder. . .  

    Die feit dat ek en jy deur God vergewe word deur die finale offer wat Jesus gebring het, is goeie nuus. Dit is nuus wat ons graag hoor; dit is nuus wat ons goed laat voel. As ons in Hom, en slegs in Hom alleen glo, weet ons Hy het die prys vir ons sonde betaal en ons bevry van die toorn van God en van die ewige skeiding van God. Halleluja.

    Maar hoe vergewensgesind is ons? As iemand anders ons 'n onreg aandoen - soos ons in die verlede vir God aangedoen het - is ons bereid om die reg op te gee om vergelding te eis, en om te vergewe? Kyk wat sê:

    Kolossense 3:13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 

    Ek kan met een vernietigende ‘kyk’, 'n mens op dertig tree plat vee. Ek is ernstig. En die 'kyk' was vroeër alles behalwe lekker vir diegene wat my 'n onreg aangedoen het. Maar, as ek die Goeie Nuus van Jesus ernstig wil opneem, as jy dit ernstig wil opneem, dan moet ons die goeie nuus van vergifnis teenoor ander mense uitleef. Ons word opgeroep - nee, eintlik beveel - om ander te vergewe, want deur die lyding van Jesus, het God ons vergewe. Ons word nie vriendelik uitgenooi om te vergewe nie. Dit is 'n opdrag.

    Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar.

    Hoekom? Omdat die Here Jesus jou deur sy eie lyding aan die kruis vergewe het. Laat ek jou dus vra: Is jy vergewensgesind of nie?

    Dit is God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Sien Dinge Soos Dit Is

    Send us a text

    1 Kronieke 29:11,12 Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here. Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. (NLV)

    Ons voel dikwels asof ons niks meer geloof oor het nie. Daar is soveel dinge wat ons geloof in Jesus kan en sal ondergrawe.

    Die wêreld vertel ons dat ons die verouderde sedes moet laat vaar; die ou Bybel fabel moet vergeet en die moderne lewe hier in die 21ste eeu moet omhels. En dit word so verleidelik aangebied dat dit ‘n uitdaging is om dit te weerstaan.

    Wat doen ons? Ons neem 'n bietjie van ‘n kortpad hier, maak 'n klein kompromie daar, en binnekort kan ons Christene nie meer van die res van die mense onderskei word nie. God? Is Hy werklik nog so relevant, so kragtig, so vol roem en majesteit soos wat daar in die Bybel staan? Sien jy hoe maklik dit is vir sout om laf te word?

    1 Kronieke 29: 11,12 Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here. Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk.

    Dit plaas dinge in perspektief, nie waar nie? Dit is wie God is – Hy is die God van krag en heerlikheid en oorwinning en majesteit. Die God wat alles besit en wat vir ons voorsien. Die God wat ons krag gee. Die God wat ons lof verdien.

    Ja, dis snaaks dat wanneer ons oë oopgaan sien ons dinge soos dit werklik is. Ons sien God soos Hy werklik is, en dan verloor die leuens van hierdie wêreld hulle krag oor ons.

    En dit is God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min

About God se Woord VARS vir jou Vandag

From the publisher's feed

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke…

More shows like God se Woord VARS vir jou Vandag

Sherlock Holmes Short Stories by NOISER

Sherlock Holmes Short Stories

955 Listeners