God se Woord VARS vir jou Vandag

God se Woord VARS vir jou Vandag

By Jokkie Gauché on behalf of Berni DymetReligion & SpiritualityChristianityKids & Family
Download on the App Store

God se Woord VARS vir jou Vandag episodes

  • Blye Versekering

    Send us a text

    Hebreërs 10:22 laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.

    Daar was al baie keer wat ek, as volgeling van Jesus, pynlik bewus geword het van my onwaardigheid. Kere wat ek gevoel het dat ek nie sy liefde verdien nie. Wat van jou? 

    In 'n wêreld waar ons oor die algemeen dinge moet koop, is die idee dat God se liefde vryelik oor ons uitgestort word, sonder dat ons iets daarvoor hoef te betaal, soms ... ja, nogal dikwels ... moeilik om te verstaan.

    In ons wêreld moet ons geld verdien. Ons moet respek verdien. Ons moet amper alles verdien. Hoekom? Want in ons wêreld is dit onvermydelik dat daar 'n prys betaal moet word. En omdat die betalery so deel van ons is, vind ons dat wanneer ons God faal, dit moeilik is om te aanvaar dat ons nog ‘n keer na Hom toe moet gaan en vergifnis vra. Ons vind dit moeilik om te aanvaar dat daar nie 'n prys is om te betaal nie. En ons skuldige gewete keer ons dikwels om vinnig na Hom toe terug te gaan en Hom vir die soveelste keer te pla. Maar hier is die goeie nuus ...

    In Hebreërs 10: 22 staan: laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.

    Maar weet jy, as ons Hom faal, kan ons weet dat Jesus klaar die prys betaal het. In daardie situasies kan ons weet dat Hy vir ons gesterf het. Op daardie dae was die bloed van Christus - Sy soenoffer - ons gewete skoon; was Hy ons ​​hele wese skoon. In daardie situasies kry ons daardie blye versekering ...

    laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid in Christus.

    Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Die Kwaai Baas

    Send us a text

    Prediker 10:4 As die heerser vir jou kwaad word, moenie jou pos verlaat nie; kalmte voorkom groot foute.

    Dit is maklik om die indruk te kry dat die Bybel - die boek wat ons Christene God se Woord noem - alles oor geestelike dinge gaan. Dis nie waar nie. God wil hê dat sy liefde elke aspek van ons lewens moet beïnvloed.

    Werk is ‘n ongelooflik belangrike deel van ons lewe. Ek verstaan dat ons nie almal 'n betaalde werk het nie, maar die meeste van ons moes al op die een of ander stadium in ons lewe hard werk.

    Werk neem 'n groot deel van ons tyd in beslag. En ja, een van die doelstellings is om geld in te bring om kos op die tafel te sit en 'n dak oor ons kop te hou. Maar 'n ander rede waarom ons werk, is dat dit ons toelaat om ons gawes en vermoëns te gebruik en dat dit ons hopelik ‘n gevoel van bevrediging gee.

    Ek weet, ek weet, dit is nie altyd die geval nie. Daar is verskeie redes hiervoor. Sommige mense moet werk doen waarvoor hulle nie aangelê is nie – ‘n situasie waarin hulle nooit tuis voel nie. Maar 'n ander rede is dat jy onder 'n moeilike baas moet werk. Ek was al in so ‘n situasie en dit was nie snaaks nie. Glad nie! 

    Nadat ‘n kwaai baas 'n rukkie weggebytel het aan ons selfbeeld, wil ons eenvoudig opgee; tou opgooi; vir 'n ander werk gaan soek. Maar daar is 'n alternatief. 'n Goddelike alternatief. 

    In Prediker 10: 4 staan: As die heerser vir jou kwaad word, moenie jou pos verlaat nie; kalmte voorkom groot foute. 

    Die rede waarom mense ons ontstel, is omdat ons dit toelaat. Ons kan kies om in so ‘n situasie die slagoffer of die oorwinnaar te wees.  

    Die slagoffer glip druipstert weg. Die oorwinnaar kies om met God se wysheid bo sy omstandighede uit te styg.

    Moet dus nie jou werk bedank bloot omdat die baas vir jou kwaad is nie. As jy kalm en behulpsaam bly, kan jy selfs groot probleme oplos.

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Dit Wat Geld Nie Kan Koop Nie

    Send us a text

    Johannes 4:46 Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar 'n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê..

    Dit is so maklik om te dink dat geld al jou probleme kan oplos, dit maak nie saak of jy baie of min geld het nie. Ons klou asof ons lewe daarvan afhang aan daardie leuen vas, al weet ons dat dit nie waar is nie.

    As geld al ons probleme sou kon oplos, is die antwoord net: werk harder en verdien meer en siedaar alle probleme is opgelos. Nee wat, dit maak nie saak hoe belangrik ons ​​is, watter rang of posisie ons beklee of hoeveel ons verdien nie, dit werk nie so nie. Ons lees in:

    Johannes 4: 46,47 Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar 'n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.

    In sy kommentaar op hierdie gedeelte skryf R Kent Hughes:

    Daar is baie dinge wat geld nie kan koop nie. Geld kan 'n ekstra groot bed koop, maar dit kan nie slaap koop nie! Geld kan 'n wonderlike huis koop, maar dit kan nie 'n tuiste koop nie! Geld kan 'n metgesel koop, maar dit kan nie 'n goeie vriend koop nie! Geld kan boeke koop, maar dit kan nie ‘n brein koop nie! Geld kan 'n kerkgebou koop, maar dit kan nie toegang tot die hemel koop nie!

    Die kern van die saak is dat die grootste probleme van die lewe nie met geld opgelos kan word nie. Die mees intense behoeftes van die lewe kan nie met geld gekoop word nie. En in hierdie geval kon geld nie die lewe van hierdie man se seun red nie. Net een ding kon. Die krag van God in Jesus Christus.

    Johannes 4: 50,51 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. 

    Daar is 'n paar dinge wat geld nie kan koop nie. Ja, dit is die belangrikste en waardevolste dinge in ons lewens. Net Jesus kan dit vir jou gee. 

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Leer ons Nooit Nie?

    Send us a text

    2 Timoteus 3:6,7 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.

    Ek is dikwels verbaas om te ontdek hoe geestelik onnosel en dof ek is, om nie op die kragtige, lewensveranderende raad van God, wat Hy deur Sy Gees en Sy Woord vir my gee, te reageer nie. Dit kan nogal vreemd klink vir ‘n prediker om so iets te sê, maar dit is waar.

    Ons sien in die lewe van die apostel Paulus dat sy toenemende ervaring  van God se trou, te midde van uiterste beproewinge hom in staat gestel het om al hoe meer bewus te wees van sy eie gebreke. Hy kon sy eie foute raaksien en meer en meer ontdek wie hy in Christus was. 

    Ons leef in 'n wêreld waar selfkennis skaars is; 'n wêreld van "doen maar net wat jy wil" sonder om aan die gevolge te dink. En dis jammer om te sê, maar dieselfde gesindheid kom onder Christene voor. Paulus skryf oor hierdie einste mense in: 

    2 Timoteus 3:6,7 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.

    Hoe maklik is dit nie vir ons om na preek na preek te luister, daardie wonderlike gesange en refreine te sing en tog in ons sonde te floreer nie? Om met sonde belaai te wees en deur allerlei sinlike begeertes gedryf te word, om altyd onderrig te wordmaar tog nooit tot die kennis van die waarheid te kom nie. 

    Ons sondige natuur weerstaan die kragtige transformasie wat God deur sy Gees en sy Woord vir ons wil gee. Dit is waarom hierdie waarhede so stadig insink. Dis waarom dit lyk asof ons soms geestelik onnosel en dof is.

    Weet jy, die enigste manier om dit te verander, is om ons harte vir die Gees en vir die Woord oop te stel, en om vir God toe te laat om ons werklik vry te maak.

    Dit is Sy Woord. Vars vir jou‚ vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Wolwe in Skaapsklere

    Send us a text

    2 Timoteus 3:1-5 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af

    Weet jy wat is vir my skrikwekkend? Die feit dat mense wat hulself Christene noem, wat sê dat hulle Christene is, maar wat van binne, tot in die kern verrot is. Dis werklik ontstellend.

    Deesdae is daar bykans nie ‘n week wat verbygaan sonder dat daar in die nuus iets is oor die een of ander skandaal wat die kerk getref het nie. As dis nie die misbruik van kinders of finansiële knoeiery is nie, is dit hierdie kwaksalwer-predikers wat wil hê dat mense tot hul laaste sent vir hulle moet stuur, met die valse belofte van genesing en voorspoed.

    Gister het ons gekyk na 'n lang lys van euwels in hierdie wêreld. Vandag gaan ons weer kyk, maar let op die wending aan die einde as ons die volgende vers byvoeg:

    2 Timoteus 3: 1-5 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.   

    Dit is ‘n verskriklike lys van euwels wat ons daagliks om ons sien gebeur. Maar het jy die wending aan die einde gesien? Paulus skryf aan sy jong leerling, Timoteus, oor die sonde van mense in die kerk. Hulle is wolwe in skaapsklere, heilig aan die buitekant, maar verrot van binne, asof hulle God kan bluf. Glo my, Hy weet wat aangaan.

    Twee dinge. Eerstens, as jy jou lewe op prys stel, moet jy nie een van die bedrieërs wees op wie die toorn van God uiteindelik sal val nie. Tweedens, as jy een van hulle raakloop, en jy sal beslis, moet niks met hulle te doen hê nie.

    Maak seker jy is 'n liefhebber van God, nie 'n liefhebber van self nie.

    Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Die Eeu van die Eie-Ek

    Send us a text

    2 Timoteus 3:1-4 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.

    Dit lyk asof die gedrag van mense al hoe boser word. Menseregte word deesdae deur baie regerings gebruik om dwarsoor die wêreld aborsies tot met geboorte te wettig. Kan jy dit glo? Dit lyk asof die bose se aanslag absoluut onverbiddelik is. 

    Staan net vir ‘n oomblik stil en dink daaroor na. Om die liggaam van 'n lewende kind stukkend te sny en te vernietig, word in baie dele van die wêreld as wettig beskou; bloot omdat die kind in die baarmoeder van sy moeder is. Dit is miskien nog nie die geval waar jy woon nie, maar wag en kyk, dit is aan’t kom.

    En aborsie is nie die enigste probleem nie. En of ons nou daarvan hou of nie, en of dit teen ons grein gaan of nie, is daar soveel ander euwels wat die norm geword het. Waarom laat God toe dat hierdie dinge gebeur? Maar snaaks genoeg, is dit vir Hom geen verrassing nie. Daar staan in:

    2 Timoteus 3: 1-4 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.

    Waarom gebeur hierdie dinge? Omdat ons op soveel verskillende maniere (ja, kyk net na die lys) uit ons lewens wys dat ons liefhebbers van onsself, eerder as liefhebbers van God geword het. Ons leef in die era van die belangrikheid van die eie-ek en hierdie selfsug is die rede vir hierdie onverbiddelike aanslag van die bose.

    Ja, ja ek weet, ek en jy kan nie die res van die wêreld verander nie. Ons kan nie op ons eie aborsie, of die slawehandel, of die ander gruweldade stop nie. Maar ons kan seker maak dat ons nie deel daarvan is nie. Ons kan ook seker maak dat ons nie een van die mense is wat die ellende veroorsaak nie. 

    Hoe? Deur 'n liefhebber van God te wees en nie 'n liefhebber van self nie.

    Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Die Beginsel van Vryheid

    Send us a text

    Jakobus 1:25 Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

    Vryheid beteken om te kan doen wat jy wil, wanneer jy wil, nie waar nie? Dit is mos wat ons gedink het toe ons grootgeword het. Maar dit blyk dat daar geen vryheid kan wees sonder grense, reëls en wette nie.

    Jesus het gekom om vrylating van gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig. (Luk.4:18,19) Dit beteken Jesus het van Homself in Johannes 8:36gesê: Eers wanneer die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees. 

    Die apostel Paulus het dit so gestel in Galasiërs 5: 1 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.

    Wonderlik, uiteindelik het ons vryheid. Maar hoeveel van ons se sonde uit ons verlede is deur Jesus uitgewis, maar dan gaan ons terug en doen dieselfde dinge weer? Dit is soos 'n misdadiger wat uit die tronk vrygelaat is om bloot voort te gaan met misdaad. Daarom het Paulus in dieselfde vers bygevoeg ...

    (Galasiërs 5: 1) ... Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

    Jakobus, Jesus se broer, het dit so gestel:

    Jakobus 1:25 Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

    Die volmaakte wet van vryheid is die Woord van God; God spreek sy wysheid, sy liefde en sy geregtigheid in ons lewens in. As ons net luister, sal ons nie alleen vergeet wat Hy gesê het nie, maar sal ons ook Jesus se seëninge, misloop.

    Wanneer ‘n mens dit doen, sal hy gelukkig wees in wat hy doen.

    Hier is dus die keuse: jy kan voortgaan met jou sonde en die gevolge van jou dade dra of jy kan die Woord van God hoor, dit ter harte neem en dit uitleef... en deur die Here geseën word vir jou gehoorsaamheid. Dit is vryheid.

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Om te Vergeet wat God Sê

    Send us a text

    Jakobus 1:22-24 Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

    Hoe gereeld het jy al in die oggend ‘n stukkie uit God se Woord gelees en gedink “O, ja! Absoluut! Dit is so goed. Dit is net wat ek nodig het,” maar dan kan jy teen middagete nie eers onthou wat jy gelees het nie. Dit gebeur heeltemal te dikwels, nè?

    Ek het vir my graad studie twee hoofvakke, naamlik suiwer wiskunde en rekenaarwetenskap gehad. My gunsteling onderwerp? Calculus. Ek kon enige vergelyking waarmee jy my wou vasvra, onderskei en integreer. Maar vandag kan ek jou nie eers sê wat Calculus is nie! Dink daaraan. Ons geneigdheid om te vergeet wat ons geleer is, is ongelooflik.

    Ek was terselfdertyd ook besig met my militêre opleiding. Ons het onder andere geleer om 'n outomatiese geweer van 7,62 mm te stroop en weer aanmekaar te sit. As jy my vandag geblinddoek vra om daardie outomatiese geweer aanmekaar te sit, sou ek dit net so vinnig en foutloos kan opstel as veertig jaar gelede.

    Waarom die verskil? Omdat ek Calculus geleer het deur na lesings te luister, maar die stroping en samestelling van die geweer, het ek prakties geleer. Ons het dit oor en oor geoefen, tot ons daarvan kon skree. Dit is dieselfde met God se Woord!

    Jakobus 1: 22-24 sê: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

    Ek dink ons lees God se Woord heeltemal te vinnig. Ek het nog nooit een keer die hele Bybel in 'n jaar deurgelees nie. Op die oomblik het ek op 'n paar verse vasgeval, dit gelees, daaroor gedink, gebid, gedroom ... gedoen ... sommige dae weliswaar verkeerd, maar aangehou. Dis hoe ons leer. Dis hoe ons onthou. Dis hoe ons groei en verander en ons lewens sien transformeer.

    Moet dus nie net daarna luister nie. Doen dit!

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Selfbedrog

    Send us a text

    Jakobus 1:22 Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

    Nou ja, jy gaan kerk toe, sing die liedjies, hoor die preke, geniet die koffie en gemeenskap daarna en dan vertrek jy met daardie self-ingenome gevoel in jou hart. Maar Maandagoggend gaan jy werk toe en byt iemand se kop af omdat hulle jou kwaadgemaak het. Hoekom is dit?

    Wag nou, moet my nie verkeerd verstaan ​​nie, ek oordeel nie. Maar wat doen ons? Ons luister ewe preuts na wat God uit sy Woord sê, knik sag instemmend en gaan dan uit en doen presies die teenoorgestelde. 

    Hoekom? Omdat ons almal ‘n geneigdheid tot sonde het. Omdat die manier waarop jou brein werk, die ervarings wat jy deur die jare gehad het, anders is as myne. Elkeen se geneigdheid tot sonde is waarskynlik ook anders. Maar ons almal het daardie geneigdheid. 

    En die gevaar is dat ons gewoond raak daaraan dat daar ‘n verskil tussen ons geloof en ons gedrag is. Ons rasionaliseer dit; ons maak verskonings daarvoor. Ons besluit dat die verskonings aanvaarbaar is, en dan gaan ons vrolik aan met die lewe en ons het vrede met die feit dat daar ‘n groot verskil tussen ons geloof en dade is. 

    Al die tyd kyk God van die Hemel se balkon af, skud sy kop, voel die pyn in sy hart, omdat Hy weet dat ons sonde gevolge gaan hê en begeer om ons van ons sonde vry te maak.

    Dit is immers waarom Jesus na hierdie aarde gekom het, gely en gesterf het vir mense soos ek en jy, en opgestaan ​​het om ons 'n nuwe lewe te gee.

    Wat is dus die antwoord?

    Jakobus 1:22 Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

    Ons kan nie een ding glo en iets heeltemal anders doen nie. Ons kan nie die God wat liefde is, aanbid en ander mense verkleineer nie. Ons kan dit nie doen nie. Uiteindelik sal die een wen. Uiteindelik sal God intree ...

    Hou dus op om jouself te mislei. Wees 'n doener van die woord, en nie net 'n hoorder nie.

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min
  • Jy is Verkeerd!

    Send us a text

    Jakobus 1:21 Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

    Gister het ons gesels oor God se kragtige raad om konflik in ons lewens te verminder. Maar niemand van ons hou daarvan  as iemand vir ons sê dat ons verkeerd is nie. Glad nie, daarom verwerp ons soms goeie raad, selfs as dit van God kom. 

    Dink ‘n bietjie daaroor na. Is jy gereed om na daardie goeie, verstandige, goddelike raad te luister as jy kwaad is? Ek sou vermoed dat jy nie op daardie oomblik bereid is nie, want wanneer dit by woede kom, is trots die kern oorsaak. Ag nee man ... ek is geregtig daarop om beter behandel te word. Daardie persoon verdien my woede. Hy moet betaal!

    En daardie houding word, wat die Bybel 'n 'vesting' noem, in ons harte; ons skep 'n plek waar ons God toegang weier, want as ons Hom toelaat om in te kom, sal ons moet verander.

    Maar dit is 'n probleem, want ons weet dat God die hoogmoediges weerstaan​​maar aan die nederiges sy genade gee. Wil jy dus in jou woede, in jou trots, regtig hê dat God jou om elke draai moet berispe? Regtig?

    Wat is die antwoord dan? Hoe los ons hierdie probleem op?

    Jakobus 1:21 sê: Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

    Met ander woorde, gee jou lewe oor aan God. As jy die Woord van God gehoor het, as jy selfs net ‘n klein bietjie met sy Woord in aanraking gekom het, het Hy reeds ‘n saadjie in jou hart geplant. Dit het die krag om te red. Dit het die mag om jou te verander. Dit het die krag om jou vry te maak. 

    Wees eerlik, al wat daardie woede, daardie trots, daardie vuilheid en onbeheerste boosheid doen, is om jou lewe en jou verhoudings te verwoes.

    Vernietig jou vesting, lê jou trots neer, beheer jou woede ... en ontvang ootmoedig die woord ... wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

     Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    3 min

About God se Woord VARS vir jou Vandag

From the publisher's feed

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke…

More shows like God se Woord VARS vir jou Vandag

Sherlock Holmes Short Stories by NOISER

Sherlock Holmes Short Stories

955 Listeners