Dis nog nie Eureka! vir BCG-inentings in die stryd teen Covid 19 nie. Dit is die strekking van dr Jantjie Taljaard se antwoord op Nuuspod se vraag of BCG-inentings, wat sedert 1940 in Suid-Afrika toegedien word, die land se redding is. Die opwinding oor BCG-inentings kom nadat dr Gonzalu Otazu van die New York Institute of Technology aan Alec Hogg van Biznews gesê het lande waar BCG toegedien is het 'n laer sterfte- en infeksiesyfer. Intussen het dit aan die lig gekom dat die land se apteke 'n akute tekort aan hidroksiechlorokien en chlorokien het, omdat hospitale dit in grootmaat aankoop in die stryd teen Covid 19. Daar word geglo dié malariamedisyne help minstens om simptome te verlig en gouer genesing te bring. Dr Taljaard, 'n spesialis in aansteeklike siektes by Tygerberg hospitaal, het egter aan Nuuspod gesê daar is nog geen bewyse dat die middels effektief is nie.