Die drama word uitgesaai ter huldiging van die dramaturg wat op 15 Julie vanjaar 90 jaar oud sou wees. Die veelvlakkige en komplekse drama speel af op 'n denkbeeldige gehuggie in 'n afgeleë woestynstreek. Dit gaan oor Maria, 'n swanger tiener, wat deur die gesagsfigure van die dorp – die Dominee, die Koster, die Polisiesersant en die Dokter – seksueel misbruik word. Sy glo haar enigste hoop is om uit Putsonderwater te ontsnap, maar telkens word haar hoop verskuif na nuwe uiterstes wanneer die realiteit van haar omstandighede tot haar deurdring. Wanneer sy aan die einde van die drama 'n wiegeliedjie vir haar ongebore baba sing, word dit dus 'n metafoor vir die verwagte koms van die Verlosser van die wêreld. Vandaar die regisseur se keuse om Bartho Smit se liriek op die melodie van Koos du Plessis se bekende Somerkersfees te laat sing. Die spelers is Frieda van den Heever, Marlo Minnaar, Petrus du Preez, Neels Coetzee, Johan Botha, Nic de Jager en Johann Nel.