Brittanje se nuwe eerste Minister, Lizz Truss, en Minister van Finansies, Kwasi Kwarteng, het verlede week ‘n groot makroekonomiese beleidsidee gevat en hulle mini-begroting daarop gebou. Die idee kom uit die Aanbodkant-ekonomie en die era van Reaganomics. Hulle mikpunt is 2,5% ekonomiese groei oor die medium termyn en die plan is om die ekonomie te stimuleer met belastingverligting en deregulering. Die meer as ₤100 miljard stimuluspakket bestaan uit belastingverligting van ₤45 miljard saam met ʼn ₤60 miljard energie-noodpakket wat vir huishoudings verligting moet bring van die stygende koste van gas. Alles word met skuld gefinansier. Of dit gaan werk sal net die tyd leer, maar hoe dinge oor die langtermyn uitspeel kan maklik vergeet word as koste oor die korttermyn te hoog is. Die markte hou nie van hierdie plan nie.