Plaaslike wetenskaplikes wil hê Suid-Afrika moet 'n trekpleister wees vir paleo-toerisme. Die direkteur van die Wits Instituut vir Evolusiestudies, prof. Bruce Rubidge, sê as meer toeriste die land spesifiek besoek om bewyse van oerlewe te sien, sal dit veral 'n finansiële inspuiting gee aan plekke soos die Karoo waar inwoners sukkel. Maar volgens Rubidge is dit hartseer dat baie Suid-Afrikaners nie eers daarvan bewus is nie dat ons 'n wêreldleier is op die gebied van fossielerfenis.