Die polisiehoof in Kaboel, genl. Zahir Zahir, het gister bedank ná die dood van drie Suid-Afrikaners in 'n selfmoordbomaanval in die Afghaanse hoofstad. Die 46-jarige Werner Groenewald, sy 17-jarige seun Jean-Pierre en 15-jarige dogter Rode is Saterdag in die aanval op hulle huis in Kaboel dood. Groenewald het vir die Amerikaanse nie-regeringsorganisasie Partnership in Academics and Development gewerk. Groenewald se vrou, 'n mediese dokter, het die aanval vrygespring. 'n Woordvoerder van die gesin, Riana du Plessis, het met Monitor oor die aanval gepraat, maar op voorwaarde dat die identiteit van Groenewald se vrou beskerm word, omdat haar lewe moontlik nog in gevaar is.