Die regering se besluit om die moratorium op gas-eksplorasie en ontginning in die Karoo op te hef, het die omstredenheid oor die kwessie van voor af laat opvlam. Beskuldigings word nou gemaak dat die regering se besluit voortydig is, dat 'n klomp mense wat regstreekse belang by die saak het geensins geraadpleeg is nie en dat die negatiewe ervaring met die hidro-brekingsmetode elders in die wêreld nie voldoende in ag geneem is nie. Ons het wel 'n kenner wat ten gunste van hidrobreking is, genooi om aan vanoggend se gesprek deel te neem, maar hy het vanoggend laat weet hy kan dit nie bybring nie. Ons sal wel probeer om môre die ander kant ook te stel, maar vanoggend praat ons met Prof. Gerrit van Tonder van die Instituut vir Grondwaterstudies aan die Universiteit van die Vrystaat.