Die vraag na plaasprodukte direk van die boer het so toegeneem, dat dit sommige boere oorweldig. Dit volg na die inperkingsmaatreëls weens Covid19 mense se kooppatrone verander het. Kwessies soos paniekaankope, staatsregulasies, sakeondernemings wat ondergaan en Suid-Afrikaners se emosionele lojaliteit aan boere het meegebring dat talle Suid-Afrikaners nou direk by boere aankoop. Hoewel die landbougemeenskap die tendens as positief ervaar, het talle boere duidelik nie geweet wat op hulle wag nie. 'n Skaapboer wat vleis verpak en aflewer sê aan Nuuspod dat hy nog nooit so besig was soos nou nie. Nog 'n hoenderboer het laat weet hy kan nie nou 'n bestelling uitvoer nie, aangesien hy so oorweldig is met bestellings dat kliënte nou tot twee weke moet wag om hul bestellings te kry. Nuuspod het met Henk van de Graaff van TLU SA hieroor gepraat.