
Sign up to save your podcasts
Or


Wat beteken die woord Amen? Wat is die doel daarvan in ons gebede en waar kom dit vandaan? Kan ek Amen sê as ek nie vashou aan Christus nie? Hang die verhoring van ons gebede van ons gevoel of geloof af, of liewer van God? Is Amen 'n magiese woord wat ons gebede beantwoord soos ons dit wil, of rig dit ons na die waarheid wat bo ons menslike gevoel, wil en geloof uitstyg? Waarin lê ons sekerheid en die krag van ons gebede dan eintlik? Wie is die waarmaker van die bybelse beloftes, en wie is die een wat vir ons intree by God?
Hoe sluit ons die Onse Vader gebed af? "Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid." Aan God behoort die koninkryk. Aan God behoort die krag. Aan God behoort al die heerlikheid. Ons bid dit alles van God, omdat Hy as Skepper en Koning, mag oor alles het, en omdat Hy aan ons alle goeie dinge wil en kan gee. Daarom sal ons Sy heilige naam vir ewig prys, en Hom alle eer gee. Alle heerlikheid kom Hom toe.
Gelowiges is daagliks in 'n geestelike stryd gewikkel teen bose magte in die lug, teen die wêreld en teen die vlees. Hoe kan ons staande bly? In die 6de bede, "Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose", is eerstens 'n erkenning van wie ons is voor God, en tweedens 'n pleidooi dat ons swak en hulpeloos is sonder die Heilige Gees se krag.
In Perspektief vandag is drie onderwerpe op die tafel, naamlik: die onderwysdepartement wil 'n "veilige" ruimte skep vir die LGBTQ+ leerders in publieke skole, diversiteitsopleiding by Hoerskool Vishoek het sterk teenkanting gekry as gevolg van rassisme en godslastering, en buitelandse pastore en predikante gaan nie meer werkspermitte verkry om in Suid-Afrika te werk nie.
Wat is vergifnis? Hoekom het ons God se vergifnis daagliks nodig? Is christene dan nie reeds vergewe vir hul oortredinge nie? Sonde kan slegs vergewe word by God as daar boetedoening is, en dit is presies waarom ons volkome vergifnis kan kry deur die kruisdood van Christus. Ons sonde is vir goed weggeneem. Christus het die volle prys vir ons sondes betaal met Sy eie lewe, en dus moet ons vanuit daardie genade ook ander, wie teen ons sondig, vergewe. Maar die Skrif leer vir ons die beginsel van daaglikse sondebeleidenis, en dit is 'n pad van heiligmaking.
In die vierde bede van die Onse Vader vra ons God om te voorsien in ons daaglikse brood, en erken daarmee dat God die soewereine gewer en die versorger van alles is. God is immers die enigste bron van alles wat goed is. Sonder God kan niks lewe nie. Ons word hierin opgeroep om op Hom te vertrou vir alle gawes, en Hy ag Sy kinders veel belangriker as die res van Sy skepping. Ons is verlos van ons aardse bestaan tot 'n lewe in afhanklikheid van ons Vader.
Scriptura antwoord vandag weer twee baie belangrike luisteraarsvrae vanuit die Skrif. Is die nagmaal as 'n gawe wat God vir Sy kerk gegee het, oop vir almal of slegs vir diegene wat in 'n regte verhouding met God staan, om te verseker dat mense dit nie onverantwoordelik misbruik en 'n oordeel oor hulself bring nie? Mag vroue in die amp van voorganger of predikant dien? Hoe moet vroue van ander kerke in daardie amp benader en behandel word?
In hierdie sewende episode van Scriptura se gebedsreeks word die derde bede van die Onse Vader bespreek. Wat beteken dit as ons bid "Laat U wil geskied"? Waar soek ons die wil van God? Moet ons onsself verloën om God se wil te vind? Wat is die Bybelse begrip van ons roeping, en die roeping van die kerk binne die koninkryk van God? Ons is gered om om sout en lig te wees as individue en as die kerk.
Angus Buchan lei gebedsdae op verskillende plekke en duisende mense woon dit by. Wat is die agtergrond en die motivering daarvan, en wat is die rede vir die byeenkomste? Wat openbaar hierdie massa saamtrekke van Suid-Afrikaanse christene? Daar is massa saamtrekke, sogenaamde tekens en wonderwerke wat mense emosioneel opgesweep laat vir 'n kort rukkie, maar gou weer koud word. Waar is die werklike bekerlinge en ware dissipelskap? Gaan die volgelinge van die gebedsbyeenkomste ook nou kerk toe, en word hulle diensbare lidmate van hul plaaslike gemeentes? Wat is die teologie en godsbeeld wat deur hierdie beweging geleer word, en is dit bybels?
From the publisher's feed