Na ‘n holderstebolder week van opskuddings en onverwagse wendings, waar die enigste voorspelbare die onvoorspelbare (en ‘n Bok-wen) was, is die manne hier om jou op hoogte van die nuutste kwessies in sport te bring.
In Van die Blad Af (2:00-5:10) word internasionale rugby resultate, F1-drama, Premierliga breierskuiwe en nuus rondom Bafana se (nou gewese) kwalifiseringspoging gedeel.
In die Losskrum word die betroubare Bokke se voorspelbare wenresep weer bespreek (5:11-23:22). Sterspelers word ook in die kollig gesit, met spesiale eer vir ‘n sekere sosiale media-spesialis. Die wedstryd van die naweek – Ierland se begeesterde triomf oor die All Blacks – word ook kortliks gedek (23:25-30:52).
Anderkant die Tasman-seestraat word daar Doer Onder fees gevier na Australië hul eerste T20-Wêreldbeker teen die Swartpette beklink het. Die manne betreur hierdie wending en loer vinnig na die volgende T20-Wêreldbeker wat volgende jaar in Australië plaasvind (30:53-39:26).
In ‘n resies so asembenemend soos die res van die sportweek het Lewis Hamilton vir nog ‘n #blessed Sondag vir sy aanhangers gesorg. Sy merkwaardige vertoning, opmerklike resiesinsidente en die laaste paar resies in die F1-seisoen word bespreek (39:27-55:02).
Op die Telbord word daar geklets oor krieket se Kiwikoning Kane, die Bokke se kans teen die Rose en waar Brasilië 2021 in Hamilton se nalatenskap inpas (55:03-1:01:55).
Agterblad se Hoek van Helde word geseën met die teenwoordigheid van vurige Iere (1:01:58-1:04:20).
In Beseringstyd tuur ons na die komende week en lig die opwindendste geleenthede uit (1:04:21-1:07:31).
Volg ons op sosiale media en kom sê jou sê op die Agterblad!