
Sign up to save your podcasts
Or


In Agterblad se eerste krieket spesialiseringsepisode sluit voormalige eersterangse speler en huidige SuperSport kommentator Louis Wilkinson by ons aan om sy insigte rondom die Suid-Afrika-Indië Toetsreeks te deel.
In hierdie episode kan luisteraars uitsien na ‘n bespreking van Suid-Afrika se 21-man groep: watter insluitings en weglatings laat die wenkbroue lig? (2:00-10:30) Dan word daar ook gespekuleer oor hoe die Suid-Afrika (10:50-21:23) en Indië (21:30-36:00) se eerstekeuse elftalle vir die reeks sal lyk. Die kiestoffies wat beide stelle keurders sal moet kou word ook bespreek.
Laastens, word daar bespreek of hierdie Indiese span, met sy befaamde snelkwintet, die beste Indiese span nog is om sy verskyning op Suid-Afrikaanse bodem te maak en die manne se voorspelling van hoe die toetsreeks gaan afloop (36:20-46:08).
In ‘n vakansie waar krieketpraatjies so sinoniem met braaivleisvure soos ‘n tjoppie en ‘n doppie is, is hierdie ‘n gesprek wat jy nie kan bekostig om mis te loop nie!
Hierdie episode is trots aangebied deur Old School SA! Onthou dat jy die kode 'Agterblad' kan gebruik op hul webtuiste vir R100 af met jou volgende aankope!
In 'n manier, was dit die gepaste einde aan F1 se beste seisoen nóg: aksie tot en met die laaste draai van die laaste rondte, alles onder die wolk van drama veroorsaak deur FIA-besluitneming.
Die span kom bymekaar kort na die einde van dié fantastiese finale om hulle gedagtes te deel oor Max Verstappen wat die maksimum geneem het van die wedren en die kampioenskap, nadat hy met sy eerste drywerskampioenskap gekroon is Sondagaand in Abu-Dhabi.
Daar is groot debat oor wedrenbestuurder Michael Masi wat vir die tweede agtereenvolgende rondte 'n bepalende rol gespeel het in die wenner van die wedren, na sy flik-flak oor hoe die veiligheidsmotor en sloervervoer bestuur sou word.
Dit het gelei na een van die mees ikoniese oomblikke in F1-geskiedenis, met Max Verstappen wat Lewis Hamilton vir een laaste keer verby gesteek het en saam met dit met die kampioenskap weg gejaag het. Ons span reflekteer (en in sommige gevalle treur) oor dié oomblik en die seisoen wat was, en of dit dien as die verdiende einde aan 'n onvergeetlike kampioenskapstryd.
Dit en nog vele meer gedagtes, menings en debat op die week se episode van Agterblad!
Na 21-onvergeetlike rondtes, staan die einde van die F1-seisoen net waar dit begin het: met die twee kampioenskap protagoniste gelyk op punte.
In hierdie spesiale episode van Agterblad Extra Extra! kom die span bymekaar om eers te reflekteer op die historiese seisoen wat plaasgevind het tot dusvêr en terug te blink op die sleutel-oomblikke wat ons gebring het tot waar ons nou staan (0:00-34:15).
Daarna, begin die span hul gedagtes mee te deel oor die naweek wat voorlê: wie bevoordeel die nuwe uitleg van die Abu-Dhabi baan? Watse rol het Max en Lewis' se spanmaats te speel in wie wegstap met die trofee? Kyk ons regtig na 'n herhaling van Suzuka 1990? (34:16-57:32).
Dan word die belangrikste vraag beantwoord aan die einde: wie glo ons stap weg van die 22ste-rondte met die drywerskampioenskap in hand? (57:33-1:02:12).
'n Aksie belaaide episode van Agterblad vir 'n fantastiese F1-finale; nou beskikbaar!
Die Agterblad-span kom weer byeen na 'n sportnaweek gevul met kontroversie en debat.
Die heel eerste Saoedi-Arabië Grand Prix is gedomineer deur insidente tussen die twee Kampioenskap protagoniste, met groot vrae gelaat oor die FIA se besluitneming en hul wedren-bestuurder Michael wat die Masi kon opkom nie. Die span gee hul analise oor al dié insidente en waarmee dit ons laat in na volgende naweek se finale.
Verder, word daar saamgepraat oor die Haaie se triomf oor die Bulle, die Stormers se slakkepas rugby wat gestraf is deur die Leeus en waar dit afrigter John Dobson laat. Die waarde agter Jake White se waarskuwing oor die toekoms van plaaslike rugby word ook opgeweeg, en of die nuwe internasionale geskikdheidsreëls aangekondig deur Wêreldrugby moeilikheid inhou vir die Springbokke se talentpoel.
Op die Telbord word vroeë voorspellings gegee vir die naweek se F1 deur ons nuwe kykers en 'n voorsmakie vir die Ashes gebied in Australië
Dit en nog vele meer op die week se episode van Agterblad!
Na 'n stiller week van sport veroorsaak deur verskeie wêreldgebeurtenisse, kom die Agterblad-span bymekaar om te probeer die mees gedebatteerde vraag in sport te beantwoord:
Hoe bepaal mens die beste van alle tye?
Die span stel hul kriteria op waarmee mens sterre van toeka tot nou mee kan vergelyk: van Danie Gerber tot Jean de Villiers, Don Bradman tot AB de Villiers en nog meer.
Met dit in plek, probeer hulle hul eie beste van alle tye lys opstel en tot by die kruks van die saak te kom by sport se grootste vrae: Wie is die beste Protea van alle tye? Die top 5 spelers wat nog ooit die Boktrui gedra het? Wie is nou werklik die beste tussen Ronaldo en Messi?
Verder, word daar op die Telbord gewonder wie van die top SA-Rugby spelers die beste in Netflix se gewildste reeks van alle tye sou vaar.
Dit en nog vele meer in die week se episode van Agterblad!
Na 'n week gevul met net soveel nuus af van die veld as op, kom die manne bymekaar vir bespreking en analise van 'n naweek propvol fantastiese sport.
In vandag se episode word spesiale fokus geplaas op die naweek se ongelooflike rugby. Die Rose se laaste-minuut-strafskop wat die Springbokke gesink het (6:00-28:13) en die Franse Hane wat koning gekraai het oor die All Blacks in 'n Rugbywêreldbeker 2023 openingswedstryd voorskou (28:15-36:45) word in die kollig geplaas.
Verder, word die Qatar Grand Prix bespreek nadat Lewis Hamilton die gaping na kampioenskapsmededinger Max Verstappen na slegs 8 punte gesny het met net 2 wedrenne oor (36:48-50:00).
Op die Telbord debatteer die manne of 2021 beskou kan word as 'n sukses vir die Bokke, wie Ole moet vervang by Manchester United en of Fernando Alonso as een van die beste van alle tye beskou kan word (50:10-1:02:00).
Dit, saam met ons Helde van die Week, 'n blik na die week wat voorlê en nog vele meer op dié episode van Agterblad!
Na ‘n onstuimige week vir SA Rugby waar Rassie Erasmus sy uitspraak ontvang het oor dáái kontroversieële video, gesels die manne met 'n spesiale gas: een van die jongste skeidsregters om Divisie Een te haal in die WP Skeidsregters-unie. Hy kom gee 'n voorskou saam met die manne vir Saterdag se kragmeting met die Engelse Rose op Twickenham. Luister saam en maak gereed vir die Bokke se laaste aanslag vir die jaar!
Na ‘n holderstebolder week van opskuddings en onverwagse wendings, waar die enigste voorspelbare die onvoorspelbare (en ‘n Bok-wen) was, is die manne hier om jou op hoogte van die nuutste kwessies in sport te bring.
In Van die Blad Af (2:00-5:10) word internasionale rugby resultate, F1-drama, Premierliga breierskuiwe en nuus rondom Bafana se (nou gewese) kwalifiseringspoging gedeel.
In die Losskrum word die betroubare Bokke se voorspelbare wenresep weer bespreek (5:11-23:22). Sterspelers word ook in die kollig gesit, met spesiale eer vir ‘n sekere sosiale media-spesialis. Die wedstryd van die naweek – Ierland se begeesterde triomf oor die All Blacks – word ook kortliks gedek (23:25-30:52).
Anderkant die Tasman-seestraat word daar Doer Onder fees gevier na Australië hul eerste T20-Wêreldbeker teen die Swartpette beklink het. Die manne betreur hierdie wending en loer vinnig na die volgende T20-Wêreldbeker wat volgende jaar in Australië plaasvind (30:53-39:26).
In ‘n resies so asembenemend soos die res van die sportweek het Lewis Hamilton vir nog ‘n #blessed Sondag vir sy aanhangers gesorg. Sy merkwaardige vertoning, opmerklike resiesinsidente en die laaste paar resies in die F1-seisoen word bespreek (39:27-55:02).
Op die Telbord word daar geklets oor krieket se Kiwikoning Kane, die Bokke se kans teen die Rose en waar Brasilië 2021 in Hamilton se nalatenskap inpas (55:03-1:01:55).
Agterblad se Hoek van Helde word geseën met die teenwoordigheid van vurige Iere (1:01:58-1:04:20).
In Beseringstyd tuur ons na die komende week en lig die opwindendste geleenthede uit (1:04:21-1:07:31).
Volg ons op sosiale media en kom sê jou sê op die Agterblad!
Na nog ‘n stampvol week van sport, slegs af en toe deur beurtkrag onderbreek, vergader die manne weer om die opspraakwekkendste stories van die afgelope week te ontleed.
In Van die Blad Af word Frankryk se flair-belaaide triomf en ander rugby uitslae van die naweek gedeel. Ons bring jou ook op hoogte van die nuutste verwikkelinge uit die VAE, na ‘n week van dramatiese krieket. Die jongste Premierliga wel- en terugslae word ook gedeel na (nog) ‘n naweek wat Man Utd-aanhangers sal wil vergeet. Laastens, word daar ook nuus uit die wêreld van die krygskunste gedeel, waar Canelo ‘n paar behoorlike houe die naweek gePlant het (4:42-7:47).
In die Losskrum word die Springboksege in ‘n sopnat Cardiff teen die welmoedige Walliesers geanaliseer (7:50-24:35). Die tweede gedeelte van die Losskrum geniet ‘n meer gewyde atmosfeer waar die manne saampraat en -treur oor ‘n Protea-poging wat net té min té laat was om die knoop deur te hak (24:36-40:40). Na ‘n moeilike naweek vir rooi spanne, kon Max darem die Rooi Bulle se gemoedere lig met ‘n skittersege in Meksiko wat meer en meer druk op Lewis laai (40:42-51:41).
Op die Telbord word Frans Steyn se plek as Bok-legende en #mainSteyn bespreek. Die plek van die Wes-Indiese T20-span in die annale van geskiedenis en die kompeteerders vir die vierde plek in die Premierliga word ook gedebateer (51:50-1:00:20).
In die Hoek van Helde kry ‘n briljante Bokverdediger, die Universe Boss, die flambojante Franse en die avontuurlustige Argentyne, asook ‘n spesiale Serwiese tennisspeler die geleentheid om vereer te word 1:00:21-1:04:00).
Vir dít, en nog baie meer, skakel gerus in by Agterblad elke Maandag. Volg ons ook op sosiale media en kom sê jou sê saam met ons!
Instagram: @agterbladpotgooi
Facebook: Agterblad
In die nuutste propvol aflewering van Agterblad word die nuus Van die Blad Af oorheers deur Wêreldbeker-nuus en die jongste uitslae uit die Engelse Premierliga (0:00-3:40).
In die Losskrum word die Proteas se puiksege teen die Sri-Lankane ontleed en die manjefieke Miller se lof besing (3:55-16:53). Die manne gooi ook ‘n oog oor die wyer kompetisie, bespreek die Proteas se kans op glorie en wonder wat fout gegaan het met Kohli & Kie (16:54-20:45).
Die tweede helfte van die Losskrum word gewy aan die dekade-oue vraag: om die “proses te vertrou” of nie. Na Nuno die trekpas gekry het slegs 4 maande na sy aanstelling, gesels die manne oor wat presies hulle as belangrik beskou in ‘n nuwe breier en watter tekens hulle wil sien om die proses te kan vertrou (20:49-31:58). Daar word ook in diepte gekyk na wat Nuno se opvolger, Antonio Conte, na die tafel toe kan bring om Spurs in die regte rigting te stuur (31:59-42:22).
Op die Telbord word daar gespekuleer oor of Unai die man is om die Saudi-skatkis by Newcastle te bestuur. Die manne deel ook hul Bok-agterlyne vir die wedstryd teen Wallis en identifiseer die nuwe gunstelinge in die Wêreldbeker na Indië (basies) die trekpas gekry het (42:27-50:36).
‘n Lang, blonde Namibiër, ‘n fris Suid-Afrikaanse slaner en ‘n jong Engelse doelwagter word in die Hoek van Helde verewig (50:37-54:00).
In Beseringstyd word die belangrikste Wêreldbeker wedstryde in die komende week identifiseer en ‘n blits vooruitskouing na die Mexico F1 gegee (54:01-59:07).
From the publisher's feed
Die Kuber-Kletskanaal waar elke Drie, Doel, Grenshou en Gru-ongeluk bespreek word.