Eensgesind Klanklêers

Eensgesind Klanklêers

By Eensgesind KlanklêersSociety & CultureHistory
Download on the App Store

Eensgesind Klanklêers episodes

  • Wat het met Bubbles Schroeder gebeur?
    'n Dossier-episode


    Suid-Afrika is ʼn land wat swaar onder misdaad gebuk gaan. Dit is nie ʼn onlangse verskynsel nie. Suid-Afrika het ʼn misdaadgeskiedenis wat selfs eeue terug in die verlede strek. Met hierdie nuwe reeks, Dossier, wil Eensgesind die stories agter bekende, en dalk nie so bekend nie, sake vertel. Ons eerste episode handel oor die Jacoba “Bubbles” Schroeder-saak.


    In 1949 was Bubbles Schroeder ʼn jong meisie in Johannesburg wat haar jongmenslewe geniet het. Sy het niemand enige kwaad aangedoen nie. Sy was altyd lus vir ʼn partytjie en was baie gesteld op haar voorkoms. Sy was aantreklik en het die belangstelling van die kêrels (oud en jonk) geniet.


    Nadat haar verhouding met Phillip Stein, ʼn 54-jarige besigheidsman, op die rotse geloop het, het sy meer tyd met Morris Bilchik begin spandeer, wat haar ouderdomsgenoot was. Dit sou egter David Polliack en Hyman Liebman, Bilchik se maats, wees wat haar ondergang sou bewerkstellig. Hoe? Luister saam na hierdie eerste episode van Dossier.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    39 min
  • Toe die Kaap nog Hollands was
    Geskiedenis 101


    Na ons laaste episode in GES 101 is die aankoms van goewerneur Jan van Riebeeck kortliks bespreek. Maar wat het na die tyd gebeur? Wat moes hy doen om sy missie by die Kaap suksesvol te maak? Hoe was dit om in die Kaap te bly gedurende die eerste jare van VOC-bestuur? Dit is die kern van hierdie episode van Eensgesind se reeks, Geskiedenis (GES) 101.


    Natuurlik moes Van Riebeeck en sy bemanning sorg vir skuiling, voedsel en goeie verhoudinge met die plaaslike bevolkings. Dit was deel van die VOC se bepalings wat ontvang is toe die vyf skepe na Suid-Afrika vertrek het.


    Maar hoe het hulle ʼn skuiling gebou om hulself te beskerm teen die elemente en moontlike vyandige gemeenskappe? Wat was hulle planne om genoeg voedsel te bekom om hulle en enige besoekende skip se bemanning te voed? Miskien is die treffendste vraag: Was die verhoudinge tussen die VOC aan die Kaap en die plaaslike bevolkingsgroepe van 'n goeie aard, of is dit deur iets versuur? Luister gerus saam oor hoe die lewe aan die Kaap was toe die VOC hul nedersetting gestig het.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    1 hr 3 min
  • Van Draadloos tot Potgooi
    Geskiedenis 101


    Die uitsaaiwese in Suid-Afrika het in die 20ste eeu beslag gekry. Veranderinge in die uitsaaiwese het maar stadig in Suid-Afrika plaasgevind. Waar die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie in 1936 met net twee radiostasies begin het, was die SAUK nie eerste in die ry met die verkryging van ʼn televisiediens nie. Om die waarheid te sê, Suid-Afrika was een van die agterosse. In ons teenswoordige tyd is die publiek besig om hul eie inhoud te skep. Wat beteken dit vir die toekoms van die SAUK?


    In hierdie Eensgesind-klanklêerepisode word kortliks gekyk na die ontwikkeling van die uitsaaiwese in Suid-Afrika gedurende die 20ste eeu. Hierdie episode sal nuttig wees vir enige student wat kommunikasie of joernalistiek studeer. Die oogpunt is om die basiese narratief, aldus storie, van Suid-Afrika se radio- en televisie- geskiedenis te vertel; insluitend spesifieke teorieë te bespreek oor waarom televisie-uitsendings eers in 1975 in Suid-Afrika begin het.


    Noudat die publiek deur middel van nuwe tegnologiese uitvindsels hul eie klank- en visuele inhoud kan vervaardig en versprei, kan 'n mens maar net wonder of staatsinstellings soos die SAUK se dae getel is? Die feit dat inligting deur die druk van ʼn knoppie verkry kan word op databasisse of van VPN-dienste, laat 'n mens ook wonder of private televisiekanale se tyd ook verby is?


    Vanuit ʼn positiewe oogpunt kan 'n mens dalk argumenteer dat mense wat voorheen nie ʼn bestaan in die uitsaaiwese kon maak nie, nou die kans het om hulle eie kanaal of stasie oop te maak vir spesifieke groepe luisteraars en intekenaars.


    Luister saam na Eensgesind se selfvervaardigde klanklêerepisode oor die ontwikkeling van ons land se uitsaaiwese.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    1 hr 3 min
  • By Berg-en-Dal het die ZARPS geval...
    Padlangs - Mpumalanga


    Soos wat 'n mens op die N4-hoofweg oos ry, is dit onmoontlik om die monument net buite Belfast te sien. Dit is die Berg-en-Dal-monument waar die laaste konvensionele slag van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) plaasgevind het. Eensgesind bespreek die storie agter hierdie monument in hierdie episode van Padlangs.


    Van 21 tot die 27 Augustus 1900 het die Boerekommando’s onder generaal Louis Botha hul verdedigingsposisies gekies om die magtige Britse Ryk vir die laaste keer in ʼn konvensionele geveg uit te daag. Digby die dorpie Belfast moes generaal Botha president Paul Kruger beskerm wat by Waterval-Onder geskuil het. Indien Botha en sy kommando’s deur die Britse magte oorweldig word, sou Kruger nie genoeg tyd hê om weg te kom nie. Indien generaal Botha die Britse magte by Berg-en-Dal kon stuit, sou dit dalk moontlik wees om die Britse magte te herinner dat hulle onwelkom is, dat hulle moet padgee en die Boererepubliek van Transvaal erken as ʼn onafhanklike staat. Alles was op die spel.


    Die uiteinde? Luister na Emile en Johan se gesprek oor hierdie slag wat nie juis so bekend is soos ander gevegte by Colenso, Magersfontein of Spioenkop nie. Berg-en-Dal was die Boererepubliek se Thermopylae en die Britse magte was die Persiese mag wat die kans gehad het om elke Boerekommando op die slagveld te vernietig. Die ZARPS, die voormalige ZAR se polisiemag, is hier uitgeroei en daarom is dit nie verbasend dat hulle in die monument, wat deur die Suid-Afrikaanse Oorlogsgraftekommissie in die 1970's opgerig is, herbegrawe is nie. Hierdie monument is nie net ʼn slagveldmonument nie maar ook een van Suid-Afrika se polisiemonumente. Dit is wel nie die enigste een op die slagveld nie.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    47 min
  • Van Sarel Seemonster tot Cordon Boer:
    ʼn Shoptalk-episode


    As jy jou kinderjare gedurende die laat 1980s en vroeë 1990''s geniet het, dan sal jy verseker Lochner de Kock se stem op een van TV1 se kinderprogramme gehoor het. Hy was die stem van Sarel Seemonster, Karel Kraai, Bennie Boekwurm, een van die kouse, Petrus Padda en sy eendmaatjie. Eensgesind het met hom gaan gesels om te hoor wat hy deesdae doen.


    'n Mens kan Lochner se stem steeds oor die radio hoor. Hy is deel van die SAUK se span wat radiodramas uitsaai, maar vir die wat nie geweet het nie, hy is ook ʼn kok van formaat. Nie net dit nie, hy het ook sy eie reeks sout- en speseryprodukte met sy eie handelsmerk, Cordon Boer, wat hy saam met die Ramkampmanne by verskillende feeste verkoop.


    Dis nie al nie. As 'n mens in die Goudstad ʼn plekkie nodig het om oor te bly, dan is die Agterplaas B&B in Melville die beste plek. Dit is Lochner en sy vennoot, Jannie du Toit (die sanger van onder meer "Liedjie vir jou"), se gastehuis en al twee tree steeds as sangers op. Lochner sing saam met Richard van der Westhuizen in die duetgroep wat hulle al amper 30 jaar gelede gestig het (onthou jy nog hul treffer Tussen treine?)


    Soos 'n mens in die episode sal hoor, is dit 'n feit dat Lochner 'n loopbaan in die uitvoerende kunste gehad het wat net eenvoudig as opwinded beskryf kan word. Van 'n tronkwag in die bekende dramareeks Vyfster, tot Pottie in die reeks Getroud met Rugby. Hy is ook 'n skrywer van veral kookboeke. Die man sit nie stil nie en is die vergestalting van die Latynse spreekwoord Carpe Diem. Sy lewe bewys dat diversiteit in jou se loopbaan die wenresep vir ʼn opwindende en vervullende lewe is.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    43 min
  • 'n Stem uit die kampe
    Rede uit die verlede


    Soms kry 'n mens merkwaardige historiese bronne. Eensgesind het onlangs in verbinding getree met meneer Jan de Beer wat tans in Kanada bly. Sy broer, Frikkie, het in die 1970's hul ouma Hester de Beer se ervaringe in die konsentrasiekampe opgeneem. Jan de Beer was gaaf genoeg om Eensgesind die reg te gee om sy ouma se herinneringe vir die eerste keer aan die publiek bekend te stel.


    Hester de Beer is in 1885 op Brandvlei, Transvaal, gebore en is op 15-jarige ouderdom deur die Britse magte in die konsentrasiekamp by Turffontein geplaas. Sy het al die swaarkry en ellende van die kamp beleef en dit het ʼn permanente indruk op haar gelaat. 70 jaar later kon sy haar wedervaringe nog duidelik onthou en haar haar kleinkind vertel.


    Dit is natuurlik moontlik om deur middel van 'n historiese teks ʼn goeie prentjie van gebeure te skilder. Maar wanneer 'n mens 'n ooggetuie hoor praat, word daardie historiese gebeurtenis nog duideliker.


    Indien enige van ons luisteraars meer belangstel oor die De Beer familie kan hulle hier klik vir meer inligting.


    Luister saam met Eensgesind na oorlede tannie Hester de Beer se ervaringe.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    36 min
  • Nou wie was president MT Steyn?
    Rede uit die verlede


    By die Bloemfonteinkampus van die Universiteit van die Vrystaat heers tans ʼn brandende kwessie oor die president M.T. Steyn-standbeeld. Die vraag is of die beeld moet bly waar dit tans staan, en of dat dit verwyder moet word. Maar wie was M.T. Steyn en het sy teenswoordige kritici ʼn goeie argument om te handhaaf? In hierdie episode van Rede uit die Verlede gesels Emile en Johan van Eensgesind oor die lewe van president Steyn.


    In die laaste 20 jaar het Suid-Afrikaanse monumente die teiken geword van brandende sosiale kwessies. Monumente kon of heeltemal beskadig word, soos die CR Swart-standbeeld wat by Kovsies gestaan het, of verwyder word, soos die Cecil Rhodes-monument by die Universiteit van Kaapstad of die Totius-beeld by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Hierdie keer het die Universiteit van die Vrystaat ʼn ware aktiewe en deursigtige benadering gevolg om die lot van die MT Steyn-monument te bepaal.

    Maar wie was MT Steyn?


    Noudat die publiek deel kan wees van die bespreking en debatte oor die standbeeld, is dit natuurlik van kardinale belang dat Jan Publiek presies weet wie MT Steyn was. 'n Mens behoort die biografie van oorlede prof. M.C.E. van Schoor noukeurig bestudeer, maar ter aanvang is hierdie episode die regte plek om te begin. Hoe anders sal 'n mens jou eie argument kan vul met die korrekte feite oor die oud-president se lewe? Dalk kan almal dan ʼn punt van Eensgesindheid bereik ten opsigte van die MT Steyn-beeld en selfs die honderde ander monumente in die land.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    48 min
  • Dis 'n lekker ou Jan
    'n GES 101-Episode


    Op 6 April 1652 het die kommandeur van ʼn vloot VOC- skepe en bemanning by Tafelbaai voet aan wal gesit. Hierdie gebeurtenis was hoog op die historiese kalender tot en met 1994. Dit het as Stigtersdag bekend gestaan. Wat is die geskiedenis agter hierdie merkwaardige gebeurtenis? Eensgesind vertel dit kortliks in hierdie episode van GES 101.


    Nog voordat die VOC vir Jan van Riebeeck na die Kaap de Goede Hoop gestuur het, was daar reeds Europese seevaarders wat by Tafelbaai en elders langs die weskus voet aan wal gesit het. Die enigste verskil was dat hulle nie so lank gebly het soos die Van Riebeeck-sending nie. Die VOC het eers in 1651, met die nodige inligting, planne beraam om ʼn verversingstasie (wat ook handel met plaaslike bevolkings ingesluit het) by Tafelbaai op te rig. Waar het die inligting vandaan gekom?


     Die VOC se instruksies aan Van Riebeeck is duidelik aan hom gekommunikeer, maar die implementering daarvan was nie so maklik nie.


    Die lewe vir die VOC- amptenare en  bemanning by Tafelbaai was uitdagend om die minste te sê. Wat het Van Riebeeck en sy bemanning by die Kaap gedoen om te verseker dat hulle elke probleem wat hom voorgedoen het, die hoof kon bied? Hoe het Van Riebeeck probeer om orde te skep en te handhaaf? Wat van 'n basiese vraag soos: Wie was Jan Anthoniszoon van Riebeeck nou eintlik? Dit is maar net ʼn paar temas wat in hierdie episode behandel word.


    Let op dat die historiese en kulturele erfenis van die Van Riebeeck-tydperk steeds in Suid-Afrika sigbaar is. Nee, ek bedoel nie die Kasteel De Goede Hoop in Kaapstad nie. Dit is eers na Van Riebeeck se tydperk as goewerneur gebou. Die aankoms van Van Riebeeck word selfs ver bo in die noorde van Suid-Afrika die erkenning gegee wat dit verdien. Kyk mooi na Tukkies se universiteitswapen en jy sal sien dat dit o.m. drie goue ringe bevat. Simbolies verteenwoordig hulle die lewe en loopbaan van ʼn man wat die hooffokus van hierdie episode is.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    1 hr 13 min
  • Van Da Gama tot van Riebeeck
    ’n GES 101-episode


    In die vorige GES 101-episode het die gesprek geëindig met die suksesvolle sending van Dias wat ʼn weg om die Kaap de Goede Hoop gevind het. Maar wie het in sy voetspore gevolg?

    In hierdie episode kyk ons na die sukses wat Vasco da Gama gehad het toe die nuwe Portugese koning, Manuel I, die nodige ondersteuning aan hom gegee het om verder as Dias te vaar. Da Gama het so gemaak, selfs die kusstreek van Natal gesien en die einste naam aan die streek gegee.




    1. Vasco da Gama

    Da Gama was nie die laaste seevaarder wat om die Kaapse kus gevaar het nie. Franse, Engelse en Nederlanders sou die Portugese se voorbeeld volg. Waarom nie die Spanjaarde nie? Dalk het die Biskop van Rome insae in die besluit van die Spaanse monargie gehad?




    2. Jan van Riebeeck

    Hierdie episode beoog om die maritieme reise om die Kaap te verduidelik voordat Jan van Riebeeck deur die VOC gevra is om ‘n verversingstasie daar op te rig. Maar hoe het die idee ontstaan om in die eerste plek Tafelbaai as ʼn halfwegstasie te gebruik? Dalk is die idee al voor 1652 oorweeg?


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    1 hr 10 min
  • Geskiedenis 101
    Geskiedenis 101: Proloog


    'n Mens hoor mos gedurig vanuit staats- en burgerlike geledere dat die gewone Suid-Afrikaner bitter min, indien enigiets, van ons land se geskiedenis weet. Geskiedenis word binnekort weer 'n verpligte skoolvak. Eensgesind wil help.


    Eensgesind het dit goed gedink om ʼn nuwe reeks te skep waarin die land se geskiedenis tematies en kronologies vir die gewone man op straat vertel word. Selfs skoolkinders en studente sal hierby baat vind. In die gemak van elkeen se motor, kantoor of tydens vryetydbedrywe word die verlede gedeeltelik herontdek. Die vertroue is dat elke luisteraar so bemagtig sal word dat elkeen self die storie sal kan vertel, die feite kan nagaan, die relevante erfenisgebiede besoek en uiteindelik hul eie feitgebaseerde opinie kan vorm.

    In hierdie proloog van Geskiedenis 101 word die aankoms van Europese maritieme magte in Suid-Afrika bietjie onder die vergrootglas geplaas.


    Dit is natuurlik nie wys om te argumenteer dat “Geskiedenis” eers begin het toe die Portugese of die Nederlanders hier voet aan wal gesit het nie. Eensgesind erken natuurlik dat daar reeds politieke en militêre magte in Suid-Afrika teenwoordig was duisende jare voordat die Europeërs die suidelike punt van Afrika bereik het. Gesprekke oor hierdie magte sal in die nabye toekoms deel vir deel die inhoud vorm van ander Geskiedenis 101-episodes.


    Weens die feit dat die teenswoordige regime, en veral hul voormalige president, die stelling gemaak het dat alle probleme wat Suid-Afrika tans ervaar, met die aankoms van Europeërs begin het, is dit dalk nodig dat die geskiedenis van die Europese samelewing in Suid-Afrika, en natuurlik die historiese rol van hul afstammelinge, weer bestudeer moet word. Dit is natuurlik ʼn swak argument om te glo dat daar geen konflik voor 1488 of 1652 was nie, maar glo dit of nie, dit is presies wat die teenswoordige regime probeer propageer. Hierdie punt word selfs in die Addo-Olifant Nasionale Park se geskiedenisuitstalling in die hoofkamp se uitstalruimte genoem. As dit dan tyd is vir Eensgesindheid oor die verlede, dan moet elkeen mos toegang hê tot dieselfde feite.


    Maar wat sal die resultaat wees as die feitgebaseerde geskiedenis in gedeeltes aangebied word in ʼn reeks klanklêer- episodes wat die verloop van die geskiedenis eenvoudig vertel? Hoe ryker sal die vertelling wees wanneer dit met die relevante erfenishulpbronne verbind word, sodat 'n mens weet dat die geskiedenis nie ʼn abstrakte idee is nie?


    Geskiedenis 101 beoog om so 'n reeks te wees wat drasties ʼn groot leemte moet vul.


    Hiermee die proloog vir die Geskiedenis 101-reeks en hier kyk ons na die geskiedenis van die aankoms van die Portugese en Nederlandse seevaarders wat aan ons kuslyn voet aan wal gesit het. Wie was die eerste Europeërs wat hier aangekom het en wat was die rede vir hul maandelange reis oor die Atlantiese Oseaan om die suidpunt van Afrika te bereik? Was dit regtig vir die doel om te koloniseer? Was daar enige konflik tussen hulle en Suid-Afrikaanse gemeenskappe? Hierdie vrae word kortliks in hierdie proloog behandel.


    Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.

    1 hr 11 min

About Eensgesind Klanklêers

From the publisher's feed

Die Eensgesind Klanklêers bied verskeie programme wat fokus op Suid-Afrikaanse geskiedenis, erfenis en aktuele sake. Eensgesind is ‘n sosiale herlewingsinisiatief wat daarop gerig is om aan individue…