Bykans 18 jaar gelede het vier aangehoudenes in die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein 'n video gemaak wat skokgolwe deur die land gestuur het. Die beeldmateriaal, wat op die SABC se nuusaktualiteitsprogram, Special Assignment uitgesaai is, het gewys hoe gevangenes dwelms, alkohol, en selfs 'n vuurwapen van bewaarders koop. Die video het in 2002 die Jali-kommissie van ondersoek na korrupsie en misdaad binne die land se tronke, genoop om veranderinge aan die land se Korrektiewe dienste stelsel aan te bring. Dirk Malan was tydens die gebeure 'n gevangene in Grootvlei. Hy het 'n kernrol gespeel in gevangenes se stryd teen korrupsie binne Korrektiewe dienste - korrupsie wat sommige groepe sê steeds plaasvind. Vandag begin ons met 'n reeks stories wat op Malan, en sy buitengewone reis tot verlossing, fokus. Darren Taylor doen verslag.