In 'n poging om erdwurms, en die waarde wat hulle by die ekosisteem voeg, meer toeganklik en verstaanbaar te maak, het honderd spesies nou nuwe name. Twee wetenskaplikes het die eenvoudiger Engelse name gekies. Hanri Wondergem het met dr. Adrian Armstrong, een van die wetenskaplikes verbonde aan Ezemvelo KZN Wildlife, oor díe projek gesels.
Die volgende bydrae bevat dalk besonderhede wat sensitiewe luisteraars kan ontstel. Prostitusie in Springs, aan die ooste van Gauteng, gaan onversteurd voort ten spyte van die onwettigheid van die bedryf. Vroeër die week het die polisie 'n Nigeriese-burger, Edozi Obi, in hegtenis geneem vir die beweerde ontvoering van jong meisies vir prostitusie. Dae later kon baie sekswerkers waaronder meestal tieners nog op straat gesien word waar hulle seks verkoop het. Malixole Gwatyu doen verslag.
Staatskaping en die familienaam Gupta loop soos goue drade deur elke parlementêre ondersoek en hofsake waarin regeringslui betrek word. Dit het gister weer duidelik geword toe die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, verantwoording moes doen oor haar besluit om Brian Molefe weer as uitvoerende hoof van Eskom aan te stel. Izak du Plessis het aan Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die boek THE GUPTA REPUBLIC: A STORY OF STATE CAPTURE, gevra wat staatskaping presies is en hoe die Guptas daarby betrokke is.
Groen-energie was die sleutelwoord by vanjaar se Africa Utility Week-uitstalling in Kaapstad. By die toekenningsgeleentheid wat die uitstalling afgesluit het, is vroue vereer vir hulle bydrae tot die energie- en waterbedryf. Suid-Afrika het ook tydens die toekennings uitgeblink met vier pryse. Dianke Nel het meer besonderhede.
Noorweë het pas spesiale noodmaatreëls ingestel om sy saadbankbergingsfasiliteit verder te beveilig teen enige iets wat dalk die saad binne kan beskadig. Dit volg nadat klimaatsverandering die ys romdom die bergingsfasiliteit, wat in Svalbard geleë is, laat smelt het. Die water het in die fasiliteit ingeloop maar gelukkig is niks beskadig nie. 'n Plantkundige van Cape Nature, Rupert Koopman, sê as mense die woord klimaatsverandering hoor dan wil hulle nie verder luister nie. Koopman waarsku egter dat wat in Noorweë gebeur het, ook hier op eie bodem op die oomblik met ons eie fynbosspesies plaasvind.
'n Span van die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg Akademiese Hospitaal het onlangs 'n tweede penis-oorplanting suksesvol voltooi. Die ontvanger is 'n 40-jarige man wat sy penis 17 jaar gelede weens komplikasies met ʼn tradisionele besnydenis verloor het. Professor Andre van der Merwe, die hoof van die Afdeling Urologie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het die marathon-operasie van nege en 'n half uur gelei. Dianke Nel het meer by prof. Van der Merwe oor die operasie gaan uitvind.
Die bekende ekonoom, Mike Schussler van economist.co.za, het oor nog moontlike afgraderings vir die Suid-Afrikaanse ekonomie gemaan. Hy was 'n spreker by 'n leierskapseminaar van die Universiteit van Johannesburg se konvokasie. Heinrich Wyngaard het met hom gepraat.
Suid-Afrika se hoë kommissaris na Sri Lanka, Nepal, Bangladesj en die Maldives-eilande, Ruby Marks, het die naweek eksklusief met Monitor gepraat oor haar eie ervaring van seksuele mishandeling as 'n jong dogtertjie. Sy vertel ook vir Heindrich Wyngaard dat haar ma in hul eenvertrek-woonhokkie, in haar teenwoordigheid,deur 'n familievriend verkrag is.
In die derde deel van 'n onderhoud met die skrywer van die boek, APARTHEID, GUNS AND MONEY, fokus Hennie Van Vuuren op die 1977 moorde van Robert en Jean-Cora Smit. Van Vuuren, direkteur van die nie-regeringsorganisasie, OPEN SECRETS, het vier jaar lank navorsing gedoen oor onwettige wapenhandel in die apartheidserea, en trek vandag al die drade saam.
Die Nampo-Oesdagfees 2017 kom vandag tot 'n einde op Bothaville. Suzanne Paxton praat met Jannie de Villier van Graan SA hoe die landbouskou verloop het. En Justin Kennerley praat met 'n jong boer van Botswana oor sy eerste Nampo-ervaring.
13 min
About Monitor
From the publisher's feed
Die Monitorspan hou jou op hoogte met die jongste plaaslike en internasionale nuusgebeure.