Whatsapp-stemboodskappe kan gebruik word om bystand in noodsituasies te kry. Dit kan egter ook gebruik word om paniek te saai, vals nuus te versprei, of 'n situasie uit verband te ruk. Hanri Wondergem het gaan ondersoek instel na die voor- en nadele van Whatsapp-stemboodskappe en beweerde en werklike nuusgebeure.
Die eerste openbare byeenkoms van die Nasionale Stigtings Dialoog-inisiatief is Vrydag in Johannesburg gehou. Hierdie inisiatief is begin deur die stigtings van onder andere die voormalige presidente FW de Klerk, Thabo Mbeki en Kgalema Mothlanthe. Heindrich Wyngaard praat hieroor met F.W. De Klerk.
'n Mens koop gewoonlik met groot sorg 'n huis. Alle moontlike gebreke en risiko's word ondersoek. Dit is presies wat Marais en Ardel Wessels gedoen het die dag toe hulle hulle huis in Alberton gekoop het. Maar hoe sal jy nou weet as jou huis se buitemuur 'n groot aantrekkingskrag vir die dorp se dronkbestuurders het?
'n Huldigingsgeleentheid vir die ontslape dominee-digter Patrick Petersen, wat 20 jaar gelede in 'n motorongeluk gesterf het, is by die 2017 Suidoosterfees in Kaapstad gehou. Dit het nou aanleiding gegee tot planne vir 'n groter viering van sy lewe en werk. Die voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Marlene le Roux, brei hierop uit.
Nog 'n naam is hierdie naweek gevoeg by die lys voorlopige kandidate vir die ANC se leierskapsverkiesing in Desember. Ofskoon die amptelike nominasieproses nog nie geopen is nie, het die sakeman en voormalige ANC-tesourier, dr. Matthews Phosa, gesê hy sou bereid wees om te staan. Heindrich Wyngaars het met hom gepraat.
Die mense van Coligny maak sedert verlede week die stukkies van hulle lewe bymekaar ná grootskaalse geweld op die dorp. 'n Groep wat ongelukkig is oor die dood van 'n twaalfjarige seun, nadat hy glo sonneblomme gesteel het, het die dorp ingevaar en talle ondernemings geplunder en gevandaliseer. Die groot vraag is nou: Wat het verkeerd geloop op Coligny? Izak du Plessis het Coligny besoek.
Werkersdag word sedert 1994 in Suid-Afrika gevier. Dit spruit uit die historiese struikelblokke wat werkers en vakbonde ervaar het, soos regverdige indiensnemingstandaarde en menseregte in die werksplek. Werkersdag is ook 'n dag waarop ons die miljoene werkende Suid-Afrikaners vier en vereer, wat die land elke dag help bou en wat die ruggraat van die ekonomie is. Dianke Nel het by arbeidsontleder Chris Jacobs gaan uitvind wat die oorsprong van Werkersdag is.
Die vraag of sport bydra tot nasiebou is hierdie naweek by die Jakes Gerwel-gesprekkereeks by die Suidoosterfees bespreek. Twee van die deelnemers was die oud-Springbokkaptein Theuns Stofberg en die sporthistorikus dr. Andre Odendaal, skrywer van die onlangs verskene Cricket & Conquest. Heindrich Wyngaard het met hulle gepraat, en begin deur vir Odendaal sy standpunt te vra.
Dis vandag Wêreld Gidshonddag. Monitor het 'n spesiale ateljeegas - O'Reilly. Hy is al agt jaar lank 'n gidshond vir sy eienaar, Pieter van Niekerk. Pieter is die hoof van die skakelafdeling by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging in Johannesburg. Volgens die vereniging is dit belangrik dat die samelewing ingelig word oor die belangrike rol wat gidshonde speel, en vanjaar moet daar klem gelê word op toegang tot openbare plekke vir gidshonde en hulle eienaars.
Kenia ervaar steeds 'n knellende droogte, en is tot 'n rampgebied verklaar. Oor die laaste paar maande het gewapende veewagters in die Laikipia-streek groot getalle vee na grond in privaatbesit gedryf, op soek na voer vir die diere. Daar is egter inwoners van die gebied wat politici daarvan beskuldig dat hulle geweld aanhits in aanloop tot die verkiesing in Augustus. Hulle beloof na bewering aan hulle ondersteuners dat hulle toegang tot grond in privaatbesit sal kry wanneer hulle kiesers verdryf wat hulle teenstaan. Dianke Nel het meer besonderhede.
7 min
About Monitor
From the publisher's feed
Die Monitorspan hou jou op hoogte met die jongste plaaslike en internasionale nuusgebeure.