Die bohaai wat oor die omstrede Spear of the Nation-skildery losgebars het, het al wat mens is weer laat gryp na die Grondwet, ander wetgewing en die massas het ook die strate ingevaar. Maar luister 'n mens na die redenasies deur verkillende partye vanoor die politieke spektrum, staan dit ook duidelik uit: daar is dalk meer vrae as wat daar grondige kennis is. Mense se optrede word in baie gevalle gedryf deur 'n bepaalde politieke of kulturele siening en word dikwels ook gebaseer op 'n skrapse kennis van die wetgewing wat sulke sake reguleer. Uiteindelik ook: weeg een reg swaarder as 'n ander? Die reg van vrye spraak, by voorbeeld teenoor die reg op menswaardigheid, privaatheid? Ons praat vanoggend met twee mense wat op uiteenlopende maniere al jare met die sake en vrae moes worstel. Die een is die joernalis en oud-koerantredakteur, Max du Preez en die ander gas vanmôre is Prof. Kobus van Roooyen, Voorsitter van die Appelraad oor Publikasies van 1980-90 en ook Voorsitter van die Taakgroep wat die nuwe Wet op Publikasies geskryf het.