Daar heers opgewondenheid in Suid-Afrika se groeiende handgemaakte bierbedryf oor 'n nuwe hop wat SAB op sy hop-plase naby George ontwikkel het. Hop is die vroulike blomme van die humulus lupulus rankplant en is die belangrikste bestandeel in bier. Dit gee aan die drankie 'n bitter smaak en geur. Suid-Afrika was tot dusver nie bekend as 'n vervaardiger van smaakvolle hop nie. Die wêreld se gewilde kultivars kom meesal van die VSA en Europa. Maar, soos Darren Taylor berig, mag dit dalk binnekort verander - met moontlike gevolge vir bierliefhebbers en brouers dwarsoor die wêreld.