Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê totdat sy ondersoek na 'n beweerde rassevoorval in die Nasionale Krugerwildtuin afgehandel is, sal die soldaat, skutter Alfons Mosiuwa Mofula van 21 SA Infanteriebataljon, voortgaan met sy werk. 'n Video waarin Mofula in 'n woordewisseling betrokke raak met 'n veldwagter, Richard Sowry, is op die internet gepubliseer. Sowry het op die groep soldate en van sy personeel afgekom terwyl hulle sit en sokker kyk, terwyl hulle eintlik moes deelneem aan 'n teenstropery-operasie. Sowat 100 renosters is in die gebied gestroop.