Die land wag in spanning vir die jongste statistiek rakende die aantal renosters wat die afgelope week gestroop is. Die woordvoerder van SANPARKE, William Mabasa, het verlede week tydens 'n mediabesoek aan die Nasionale Kruger Wildtuin gewaarsku dat as daar nie nou iets daadwerkliks gedoen word om die stropery stop te sit nie, die renoster sal uitsterf. 'n Groep joernaliste het verlede week saam met veldwagters van die wildtuin die veld in gevaar om self te sien wat die gevolge van stropery is. Die stryd teen stropery het die afgelope jaar in 'n oorlog verander en selfs die joernaliste wat daar was, was nie heeltemal voorbereid op wat op hulle gewag het nie.