'n Suid-Afrikaanse vrou wat tien jaar in 'n tronk in Mauritius deurgebring het, is vrygelaat en het gister in die land aangekom. Die 38-jarige Anneline Mouton van Kaapstad is in Junie 2002 op die lughawe in Mauritius voorgekeer nadat sy met dwelms betrap is. Sy was twee jaar verhoorafwagtend en het haar vonnis in Junie 2004 begin uitdien. Sy sê die eerste vyf jaar in die tronk was hel, maar om te oorleef moes sy uiteindelik aanpas. Mouton het aan Patricia Visagie gesê sy kon vanoggend, ná 'n dekade, weer ontbyt saam met haar familie geniet.