Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, sê sy sal die Konstitusionele Hofbeslissing teen haar bestudeer voordat sy volledig daarop reageer. Die Hooggeregshof in Pretoria het vroeër haar verslag oor die Reserwebank en Absa ter syde gestel en haar persoonlik aanspreeklik gehou vir die regskostes. Sy het teen die beslissing geappelleer, maar die Konstitusionele Hof het die hooggeregshof se beslissing gehandhaaf. Mkhwebane sal na raming sowat 900-duisend rand uit haar eie sak moet opdok. Die strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, Llewellyn Curlewis, sê die Konstitusionele Hof se kritiek en oordeel teen Mkhwebane is ernstig van aard.