Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wil die grondwetlikheid van munisipale verordeninge laat toets nadat die Kaapstad Metro begin het om boetes aan hawelose mense uit te reik. Volgens die verordeninge kan haweloses boetes opgelê word vir die maak van vure, rommelstrooiery en as hulle voetganger-verkeer belemmer. Die drie oortredings kan onderskeidelik boetes van duisend-500-rand, 500-rand of 300-rand beteken. 'n Kommissaris van die Menseregtekommissie, Eerwaarde Chris Nissen, sê die kommissie het talle klagtes hieroor ontvang.