Die hooggeregshof in Pretoria is van vandag af in sitting om te hoor waarom die NG Kerk 'n ongrondwetlike besluit oor selfde-geslagverhoudings geneem het. Die saak voor die hof gaan oor die omkeer van 'n sinodebesluit wat in 2015 deur die NG Kerk geneem is. Gemeentes van die kerk kon ingevolge die oorspronklike besluit self besluit of hulle gay-verhoudings erken, gay-paartjies trou en predikante aanstel. Die besluit is in 2016 omgekeer en 'n groep lidmate het besluit om die kerk hieroor hof toe te vat. Izak du Plessis het aan die woordvoerder vir die groep, proponent Hennie Pienaar, gevra hoekom die saak vir hulle belangrik is.