Die eienaars van Tala-Manzi in Groot Marico in Noordwes sit met die hande in die hare weens die polisie en Departement Omgewingsake se klaarblyke onvermoë om hulle by te staan in die stryd teen renosterstropery. Die vyfde renoster is die afgelope 5 jaar op die wildsplaas gestroop. Dit nadat drie stropers in 2016 op heterdaad op die plaas vasgetrek is. Die drie vermeende stropers het in Januarie in die hof verskyn, maar is op borgtog van R500 elk vrygelaat. Die plaasbestuurder, Jacques Swanepoel, sê intussen het daar niks van die ondersoek gekom nie, en die polisie weet van geen sout of water nie.