Die Departement van Handel en Nywerheid sê as die pluimveesektor oor inligting beskik wat daarop dui dat die invoer van hoender soos dit nou is, daartoe sal lei dat die plaaslike mark ineen sal stort, moet hulle daarmee vorendag kom. Daar is vroeër berig dat duisende werksgeleenthede in die pluimveebedryf in gedrang is weens die invoere van gevriesde hoender uit Europa en ander dele van die wêreld. Die president van die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging, Kevin Lovell, sê sowat 53 000 ton gevriesde hoender is verlede jaar ingevoer. Die vakbond FAWU het intussen gevra dat die invoertariewe verder verhoog moet word. FAWU se adjunksekretarisgeneraal, Katishi Masemola, sê die regering moet dringend ingryp.