MTN het sy netwerkgebruikers gewaarsku om nie terug te bel wanneer hulle 'n oproep van 'n onbekende internasionale nommer gemis het nie. Die oproep is waarskynlik deel van 'n nuwe skelmstreek genaamd Wangiri Fraud, wat sy oorsprong in Japan het. Die skelmstreek is 'n soort foonbedrog waar die oortreder lukraak selfoonnommers bel en dan ná een lui neersit. Op die ontvanger se foon lyk dit dan of hy of sy 'n oproep gemis het. Die meeste mense is in die versoeking om terug te bel, maar wanneer hulle dit doen, word hoë oproep-tariewe gehef. Die operasionale bestuurder vir bedrog by MTN, Morne du Plessis, sê die bedrieërs verander elke 20 minute die nommer vanwaar hulle bel.